Een van die belangrikste insigte wat n mens uit die geskiedenis van Spiritualiteit kan leer, is dat dit nie om goed teen kwaad gaan nie.
Die goed is nooit netjies afgekamp tenoor die kwaad nie, asof mense of goed of sleg is nie. Trouens, Spiritualiteit kan steeds sinvol bedink word teen die agtergrond van Jesus se gelykenis van die onkruid en die koring.
As voorbeeld: William Tyndale wat aan die begin van die sestiende eeu bekend geraak het as een van die leiers van die Protestantse beweging in Engeland, is ‘n legendariese figuur. Hy was ‘n tydgenoot van die ewe bekende katolieke figuur, Thomas More.
Sy onkreukbaarheid, maar ook sy intellektuele fynsinnigheid (hy het agt tale geken!) het hom een van die groot name in die Engelse wêreld gemaak, veral op die gebied van Bybelvertaling. Vir hom was dit ‘n passie dat gewone mense lesers van die Bybel sou word.
Hy het, in ‘n tyd toe Engelse vertalings van die Bybel verban en verbrand is, en ook teen die wense van sy eie kollega’s, aangedring om die Bybel in Engels te vertaal. Sy vertaling was die eerste een wat direk uit Hebreeus en Grieks gedoen is. Hy het dit so uitstekend gedoen dat veel daarvan (tot soveel as 80%) oorgeneem is deur die beroemde King James Vertaling van 1611. Daar is baie voorbeelde van hoe sy vertaling van die Bybel die Engelse taal gevorm het (en indirek ook vir Shakespeare beïnvloed het). Dit is deur sy toedoen dat die reformasie wye inslag in sy land gevind het.
Sy onkreukbaarheid het hy getoon toe hy die magtige Koning Henry die agste se egskeiding gekritiseer het omdat die volgens hom teen Bybelse norme ingedruis het. In 1535 word hy in Brussel in ‘n kasteel by Vilvoorde opgesluit. Hy word van kettery aangekla. ‘n Jaar later word hy verwurg, op ‘n kruis geïmpaleer en toe op die brandstapel verbrand.
Dit is merkwaardig dat William Tyndale en sy tydgenoot, die ewe beroemdeThomas More albei besondere spirituele mense was wat albei deur groot groepe mense aangehang en bewonder word. Thomas More se “Utopia” (waarin godsdiensverdraagsaamheid ‘n belangrike motief is) is vir vele mense deel van die groot klassieke skrywes. Hulle was albei in ‘n sekere sin geesgenote wat onder die invloed van groot denkers soos Erasmus was.
Maar hierdie twee spirituele mense met hul intense soeke na persoonlike heiligheid, was geswore vyande wat mekaar skerp en genadeloos aangeval het. More het Tyndale se werk intensief bestudeer en toe, in ‘n lang, uitgerekte weerwoord, dit stuk vir stuk aangeval en veroordeel. More was ‘n fel teenstander van die Protestantisme. In een van sy werke waarin hy Luther aanval en die Rooms-Katolisisme verdedig, noem More vir Luther ‘n bobbejaan, ‘n dronklap en ‘n patetiese monnikkie wat uit "‘n drek-mond, die drektste van drek-poele, die grootste klomp drek denkbaar opgekots het" (en hierdie vertaling is versag…).
Daarom is dit heel ironies dat ook More in 1535 opgesluit, vir kettery verhoor en uiteindelik onthoof is.
Tyd om nugter te wees.…. Spritualiteit self waarborg niks nie. Heiligheid het dikwels onheilige, skadukante.
Wie sonder sonde is... Moenie oordeel nie... Die Wyse Een het ons al vertel hoe 'n mens oor geestelijkheid moet dink. Vandaar dat mense gedurig weer die genade moet vashou.