Tuesday, June 19, 2012

Suiwer genade in die Ou Testament:: oor wysheid as ontsag vir God


In die teologie, sê Moberley tydens ons byeenkoms oor spiritualiteit in Gloucestershire, word dikwels gepraat oor “wysheidsliteratuur” waarin die motief van “wysheid” sentraal staan. Dan word allerhande ondersoeke oor die inhoude van die wysheidsboeke (bv Spreuke, Prediker) gedoen.

Maar, ‘n wysheidsboek is ook verbind met ‘n werklike situasie en met mense wat wys is. Dink byvoorbeeld aan Salomo, die een mens wat veral bekend is as ‘n wyse mens onder wyses.

En as ‘n mens so oor wysheid begin dink, kan ‘n mens nogal verras word.

Neem byvoorbeeld die boek Job, ook bekend as “wysheidsliteratuur.” Dikwels dink lesers van die  Ou Testament aan Job as die man van namelose lyding en ellende.  Volgens die eerste twee hoofstukke van die boek Job, was Job ‘n inwoner van Uz. Hy was sonder blaam en ‘n opregte mens wat ontsag gehad het vir God en sy rug op die kwaad gedraai het.

Moberley vertel vir ons by die konferensie dat hierdie sterk, viervoudige beskrywing van Job as sonder blaam, opreg, Godvresend en as mens wat van die kwaad afgewend is, die gloeiendste en mees positiewe beskrywing van enige karakter in die Ou Testament is.

Die enigste ander vergelykbare, hoewel minder gloeiende beskrywing, is van Noag. Volgens die positiewe beeld van hom in Genesis 6:9 was Moses  ‘n regverdige mens, sonder blaam en iemand wat met God gewandel het.

Veral opvallend bly dit dat Job ‘n “Godvresende” mens genoem word. Dit is ‘n veelseggende beskrywing. In die Ou Testament is godvresendheid die belangrikste reaksie op God se ingryping. Job is dus iemand wat in ‘n besondere verhouding met God staan. Daaroor kan ‘n mens nie twyfel nie

Maar wat dit nog meer opvallend maak is dat Job nie van Israel is nie, maar van Uz, buite Israel. Job is dus nie deel van God se uitverkore volk nie.

Wat tel, is dus nie soseer dat iemand deel is van die volk met wie God ‘n verhouding het nie en met wie God ‘n lang pad geloop het nie. God kan ‘n verhouding met mense ook buite Israel aanknoop. Ook buite die familie van God, die “natuurlike” kring van gelowiges, is God aan die werk. En ook buite die tradisionele mense van God is daar vroom, opregte, Godvresende mense wat die kwaad nie duld nie.

Mense soos Job, die vroomste mens in die Ou Testament...

God gee vir mense om. En mense kan op God se liefdevolle verhouding gepas en reg reageer.  Dit is nie altyd noodwendig ‘n saak van die wet, van die verbond, van die uitverkiesing nie. God kan, merkwaardigerwyse, ook buite die gewone, normale om God se liefde toon.  

Job is nou nie ‘n Israeliet nie. Hy blink nie uit omdat hy deel is van die uitverkore verbondsvolk nie. Hy is ‘n spesiale mens wat uitstyg bo vele ander omdat God met hom ‘n verhouding aangeknoop het.

Dit wys maar net. Ook die Ou Testament ken onbegrensde genade en dankbare toewyding.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive