In my leeswerk oor Simone Weil kom ek af op ‘n aanhaling oor pasifisme wat nou al dae lank by my bly.
Weil het haarself so ver as moontlik van bevoorregting wat nou saamhang met mag en geweld gedistansieer.
Sy het dit skerp gekontrasteer met die sfeer van genade wat ‘n mens in verset teen geweld moet soek. Sy het aangrypend geskryf oor die liefde wat hierdie sfeer van genade kenmerk. Wanneer ‘n mens die sfeer van genade bewoon en gedryf word deur die liefde, is ‘n mens altyd aan die sy van die magteloses aan die onderkant van die samelewing.
Sy het so sterk hieroor gevoel dat sy, skryf Simone de Beauvoir op ‘n keer, bitterlik gehuil het toe sy gehoor het van ‘n hongersnood in China. Liefde, het sy geskryf, moet oor alle ruimtes uitdein. Dit moet uitgedeel word, tot in die kleinste porsies, net soos die son oor alles en almal skyn. Christus, skryf sy, gaan ons hierin voor: God laat die son skyn oor almal – of hulle goed of kwaad doen. En hierin stel God die Vader vir ons ‘n volmaakte voorbeeld.
Ons moet onvoorwaardelik aan almal, sonder uitsondering, liefde betoon. Ons is in eenheid aan alle mense verbonde. As skepsels van God is ons een, beeld van God se liefde. Niemand is groter as die ander nie. Wie probeer mag uitoefen oor ander, ander mens uitbuit of hulself meer ag as ander mense, is arrogant. Hulle sal wel met ‘n skok ontdek dat hulle verganklik is, dat hulle mag hulle nie kan vrywaar teen die dood nie en dat hulle maar net soos alle ander mense skepsels is. God onderskei nie tussen mense nie. In Christus is daar nie man/vrou, slaaf/vrymens nie.
Weil voel haar dus een met alle mense. Mag van mense oor mekaar is heeltemal uit. Mag lei tot geweld. Daarom moet mag ten alle koste vermy word. ‘n Mens sou Weil dus as ‘n pasifis kon beskryf.
Dit is op hierdie punt dat ek die volgende opmerking lees, gemaak deur David Hart: pasifisme kan naïef wees wanneer voorstanders daarvan op ‘n obsene manier martelaarskap vir ander mense kies en voorskryf.
Dit kan maklik gebeur: die drang van vrede kan ‘n mens bring om op ‘n goedkoop manier van mense te vra dat hulle die hoogste offer moet bring.
Dit is obseen – want daar sit weer ‘n magsgreep in ‘n mens se voorskryf aan ander, in jou propagering van wat jou idee van die goeie is.
Hierdie obseniteit sal 'n mens nie by Weil vind nie.
Soms verwyt mense Weil dat sy nie oor die dinge helder genoeg is nie. Kan mag, vra hulle, summier afgeskryf word soos dit lyk asof sy doen? Moet die mag wat afbreek, heers en manipuleer dan nie eerder gekontrasteer word met ‘n mag wat bekragtig – die mag tot liefde en die mag tot geregtigheid nie?
Soms verwyt mense Weil dat sy nie oor die dinge helder genoeg is nie. Kan mag, vra hulle, summier afgeskryf word soos dit lyk asof sy doen? Moet die mag wat afbreek, heers en manipuleer dan nie eerder gekontrasteer word met ‘n mag wat bekragtig – die mag tot liefde en die mag tot geregtigheid nie?
Maar mag is so naby aan geweld dat ‘n mens Weil nie kan kwalik neem dat sy niks daarmee te doen wou hê nie. Die goeie van pasifisme as beweging teen geweld, kan dan juis gekontamineer word deur 'n obsene naïwiteit wat ander in jou denkgrepe wil vasvag.
Daarom het Weil eerder ‘n ander woordeskat gehad: ‘n mens vuur nie die "mag" tot liefde aan nie.
Liefde is iets anders. ‘n Mens wag geduldig, volhardend, luisterend op die koms van die genade deurdat ‘n mens soekend uitreik om te bemin, om lief te hê.
Liefde is iets anders. ‘n Mens wag geduldig, volhardend, luisterend op die koms van die genade deurdat ‘n mens soekend uitreik om te bemin, om lief te hê.
Hierdie woorde vertel iets anders as mag, as grepe van die een mens op die ander.
Dit vra verwondering, nabyheid, uitreik, omhelsing.
En van hierdie woorde is mag ver verwyderd.
Dit vra verwondering, nabyheid, uitreik, omhelsing.
En van hierdie woorde is mag ver verwyderd.