Wednesday, June 27, 2012

Die keer dat die kerk hoog gerespekteer word....

Hierdie stuk lees ek vanoggend - geskryf deur 'n bekende onder bekendes:
Ek was nog altyd verwonderd daaroor dat mense wat daarop roem dat hulle Christene is en wat baie te sê het oor liefde, vreugde, vrede, self-beheersing en ontferming met soveel vurige vyandigheid aan die baklei kan raak en mekaar so bitter kan haat. 
Dit lyk asof hierdie hatigheid teenoor ander hul geloofslewe meer aanvuur as al die deugde waarop hulle so roem. 
Dinge het nou al tot so ‘n punt gekom dat ‘n mens iemand se godsdienstigheid koppel aan sy voorkoms en kleredrag, aan die gebou waar hy of sy aanbid of aan die soort taal wat hy of sy gebruik as lidmaat van sy / haar geloofsgemeenskap. 
Iewers het hierdie dinge begin skeef loop toe die gewone gelowige na kerkleiers as hoogwaardigheidsbekleërs opgesien het. Dit is eie aan die godsdiens van ons tyd dat mense kerklike ampsbekleërs hoog ag.
Dit is waarom elke Jan rap en sy maat nou ‘n kerkleier wil word. Die liefde waarmee mense hulle voorheen in diens van God gestel het, het op die agtergrond verdwyn. Nare gierigheid en ambisie het die plek daarvan ingeneem. Elke kerk word ‘n teater waar sterre optree in plaas van bedienaars van die Woord. Hulle soek applous en bewondering, kraak mense wat van hulle verskil af, maak hulle verdag en jaag daarna om allerhande nuutjies uit te probeer waarmee hulle hulle gemeentelede vermaak. 
Geloof is lank nie meer wat dit oorspronklik was nie. Dit gaan nog op die oppervlakte om godsdienstige vorme, maar godsdiens het niks anders as liggelowigheid geword wat met nare bevooroordeeldheid en verwerping gekoppel is.
 
Nee, die stuk is nie ‘n eietydse skrywe nie. Dit gaan nie oor ons land en oor ons tyd nie.

So het Spinoza (1632-1677), die beroemde filosoof, oor sy tyd geskryf.

Byna vierhonderd jaar gelede.

Maar waarom bly die gedeelte al heeldag my by?

Blog Archive