Wanner Daniël (volgens Daniël 9) sy Skrifte opneem om Jeremia te bedink, bring die hoofstuk oor sy lees van die profetiese teks ‘n mens
uiteindelik tot die mees besondere punt van die gedeelte. Daniël bedink die
Skrif, wat hy optel en lees met die houding dat dit die woord van die Here is.
Sy nadenke oor die Skrif verander sy lewe en maak hom bewus van sy eie
feilbaarheid en sy eie bydrae tot die trauma wat oor hom gekom het. Daniël
steek die hand in eie boesem, soos die spreukwoord lui.
Terselfdertyd is die liefde wat God in sy lewe aangesteek
het, wat hom laat vashou aan die Skrif, wat hom ‘n bidder en ‘n opregte mens
maak, so diep en intens, dat hy, soos Jakob, vir God nie wil laat gaan nie.
Hy leef in tye van trauma, van Godverlatenheid. Tog bly
hy soek na God. Al is dit donker om hom, gryp hy soekend na die lig.
Soos Christus,
veel later, in verlatenheid, ook weer tot God sou roep.
Gebed, smeking, belydenis vertel van Daniël se intense
oorgawe aan God. Die “woord van die Here” deur Jeremia aan Daniël, word
“beantwoord” met sy woorde in gebed. Maar hy “antwoord” nie maar net nie. In sy soeke vind hy terselfdertyd vir God.
Al het God die volk in tye van trauma gebring, is God
daar, kan Daniël met God praat. Daar staan, immers, hierdie opvallende frase: Daniël
het hom tot die Here God gewend.
Hy gaan staan in die teenwoordigheid van God. Dit is die
oomblik waarin hy bewus is dat God groot en ontsagwekkend is (vers 2). Maar
liefdevol, vertrouend kan hy dan met God praat oor God se getrouheid, oor
God wat liefdevol en regverdig is (7).
Hy bly praat met God: dit is ‘n gesprek wat vol
U-aanspreekvorme is. “Ag, Here, groot en
ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U
liefhet en u gebooie gehoorsaam.” En ook: “U is regverdig, Here.” En ook: “U, Here ons God, bewys barmhartigheid
en U vergewe, al was ons opstandig teen U.” En ook: “Here ons God, U is
regverdig in alles wat U doen.”
Daniël lees die Bybel as ‘n “wyse mens” om hom nader aan
God te bring. Dit is die punt waarom alles gaan: sy opneem van die Bybel, sy
meditatiewe nadenke oor die Skrif, sy biddende spreke tot God, is steeds weer
‘n dialoog in ‘n U-ek verhouding waarin Daniël God as teenwoordig in sy lewe
beleef.
Dan volg die kontemplatiewe oomblik in Daniël 9:20-23 as
God Gabriël na Daniël stuur. Hier kom
die goddelike kant van die verhaal uiteindelik sterk na vore: God reageer en
bring ‘n nuwe wending. Maar kyk net hoe verbind die skrywer van Daniël die
oratiewe en kontemplatiewe: Daniël sê: “Terwyl ek nog praat en bid en my sonde
en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige
berg, het Gabriël, die man wat ek by die vorige keer in die visoen gesien het,
by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer.” Daniël, al
biddende, ervaar ‘n goddelike visioen.
Die skrywer van die boek Daniël laat Gabriël ook hierdie
punt maak. Hy vertel vir Daniël dat hy gekom het om hom in te lig. “Toe jy met
jou smeekbede begin het, is daar ‘n antwoord gegee” (Dan.9:23). Die oratiewe en die
kontemplatiewe vorm ‘n volmaakte eenheid. Wanneer die mens bid, is God aan die
antwoord. Reeds in die gebed is God aan die werk.
Maar dan volg die hoogtepunt van hierdie verhaal van
Daniël se ervaring: Gabriël sê vir Daniël: “Want God het jou lief.” (חֲמוּד֖וֹת).
Daniël word bewus gemaak van God se liefdevolle
teenwoordigheid in sy lewe. Van God se kant af word hy verseker dat toe hy nog
besig was om sy skuld voor God te bely, God al op pad na hom was.
Daniël ervaar wat Jesus oor die Verlore Seun sou vertel:
terwyl die seun op pad huis toe is, besig om homself voor te berei om vir sy
vader te vertel hoe verlore hy was, was die Vader al aan die uitkyk vir hom. En
lank voordat die seun sy skuld kon bely, was die Vader al by hom om hom te
omhels en in die huis terug te bring.
Die slot van Daniël 9 bring ‘n mens by die hoogtepunt van
die omgang met die Skrif: wat uiteindelik saak maak, wat ook al die
omstandighede, is dat ‘n mens vanuit die Skrif nog nader aan God sal kom as ooit
te vore.