Saturday, September 15, 2012

Teenwoordig in afwesigheid. Oor die mistieke antifrase


In spiritualiteit word soms gepraat van die "mistieke antifrase" om na te dink oor die geestelike weg. Dit is 'n onbekende begrip, maar dit is 'n uitdrukking wat groot waarde inhou vir 'n baie algemene aspek van mense se geestelike lewe: Dikwels praat mense oor die donker, minder opwindende tye in hul lewens as 'n groot kwelpunt. Hoewel hulle ‘n verlange het na ‘n vervullende geestelike lewe, ervaar hulle eerder ‘n geestelike droogte.

Hieroor voel hulle skuldig. Asof geloof net altyd goeie tye moet inhou.Vir sommige bring dit wanhoop en intense gevoelens van mislukking.

In vele gevalle het hierdie negatiewe ervarings egter 'n spesiale dimensie. ‘n Mens kan dit heel eenvoudig verduidelik aan die hand van die geskiedenis van die Emmausgangers.

Die twee dissipels van Jesus is droefgeestig. Na die goeie tye saam met Jesus, was daar sy kruisiging en dood. Dinge, het hulle gevoel, het heeltemal skeef geloop. Met ontstelde harte gaan hulle daarom terug na hul ou bestaan, na Emmaus. Dit is waar hulle vandaan gekom het voordat hulle Jesus gevolg het. Hulle, voel dit vir hulle self, is terug by die ou paaie.

Tog kan hulle Jesus nie vergeet nie. Hulle bly praat oor Hom, al is dit in ‘n donker, negatiewe sin van die woord.

In die geval van die twee Emmausgangers is dinge nogal anders: Jesus sluit by hulle aan terwyl hulle op reis is. Hulle is in die teenwoordigheid van Jesus. Maar hulle herken hom nie.

Later sou hulle verduidelik dat hulle tydens hulle gesprek met Jesus gevoel het hoe hulle harte brandende in hulle was terwyl Hy met hulle gepraat het. Hoe meer hulle na Hom geluister het, hoe sterker was hulle verlange na Hom.

Dit is asof Lukas deur die vertelling sy lesers se aandag wil vestig op die nodigheid om nie in hul trane vas te val nie. Die geestelike reis kom soms tot 'n einde deurdat die reisiger in die donker vaskyk en vasval. 

Lukas se verhaal is dus ironies: Hy vertel dat Jesus op ‘n Verborge manier teenwoordig is in die lewens van die Emmausgangers. Terwyl hulle alleen maar praat oor Jesus se afwesigheid, is Hy wel deeglik by hulle teenwoordig.  En mense kan in die Emmausverhaal hulle eie verhaal herken - en daaruit leer.

Op een of ander verborge manier, in hul harte, word die goddelike teenwoordigheid ook bevestig. Hierdie teenwoordigheid van Jesus en die Emmausgangers se verbondenheid met Hom is die mistieke kant van die verhaal. Maar die brandende gevoel van die Verborgene se teenwoordigheid is terselfdertyd die teenoorgestelde van die afwesigheid van Jesus wat hulle sê hulle ervaar (antifrase).

Lukas vertel hierdie verhaal oor die Teenwoordigheid van die Afwesige Jesus om sy lesers op hul moeilike, wisselvallige geestelike reis te begelei: Daar sal tye kom dat hulle, soos die Emmausgangers, net afwesigheid ervaar. Wie verby die afwesigheid kyk, sal iets anders ontdek, naamlik die stil stem van 'n mens se verlangende hart. Die verlange na God bly by ‘n mens, ook wanneer ‘n mens deur die donker dele van jou geestelike reis moet gaan. 

Hierdie verlange is ‘n teken dat God daar is en in 'n mens se lewe aan die werk is.

Daarom gee ‘n mens die geestelike reis nie op nie. Dit sou "onverstandig" wees. 

Lukas se boodskap aan sy lesers deur sy vertelling van die Emmausgangers is om terug te keer na Jerusalem, om te bly woon in die woorde en wêreld van Jesus. Die geestelike reis moet ‘n mens, al is dit in donker tye, steeds in herinnering aan Jesus bly voortsit. Daarom sal ‘n mens Lukas se Evangelie lees, want hy vertel die verhaal van Jesus. 

Vir Lukas beteken dit ook dat ‘n mens steeds weer aan die tafel van die laaste maal sal gaan aansit. In Lukas se verhaal oor Jesus sal hulle die geestelike weg van nader leer ken. Dit is die verhaal wat hulle sal help om die Teenwoordigheid van die Verborgene te leer ken. 

Dit alles beteken dat ‘n mens ook en veral in die donker, droë tye, ingestel is op die Verborge Teenwoordigheid van God deur verbondenheid aan die Here.

Lukas is die mistagoog wat sy lesers bystaan om God se weg vir hulle lewe te herken. Dit is nie maklik nie, soos die Emmausverhaal wys. Dit vra dat 'n mens diep na binne kyk, maar ook naby aan Christus bly.
   
Dit is ook die rede vir Lukas se slot en vir sy beginverhaal in Handelinge: Jesus is aan God se regterhand. 'n Mens moet in Hom die goddelike werking en teenwoordigheid herken wat verby alle menslike gedagtes en voorstellinge strek. Daarom moet ons luister na ons harte, wat soms vinniger en deegliker is in die herkenning van God se teenwoordigheid. En daarom moet die lesers ingestel wees daarop dat dit God is wat die verlange in ons harte aansteek en laat brand. 

Die een wat ingestel is op die onsigbare Jesus, is die een wat uiteindelik sal groei in die geestelike reis.  

Friday, September 14, 2012

Goeie bokke. Oor die skok van die geloofstoets

Brenda de Wet bring die volgende pittige voorbeeld onder my aandag. Sy vertel:


In the Linns’ book Good Goats: Healing our image of God, they recount the story of their presenting a seminar about healing our image of God as a strict, unloving judge to a group of elderly retired nuns.

Right at the end one sister raised her hand and asked, “But what about the story of the sheep and the goats?” Dennis Linn responded by asking the group, “How many of you, even once in your life, have done what Jesus asks at the beginning of that passage and fed a hungry person, clothed a naked person or visited a person in prison?” All the sisters raised their hands. Dennis said, “That’s wonderful! You’re all sheep.” Then he asked, “How many of you, even once in your life, have walked by a hungry person, failed to clothe a naked person, or not visited someone in prison?” slowly, all the sisters raised their hands. Dennis said, “That’s too bad. You’re all goats.’

The sisters looked worried and perplexed. Then, suddenly one very old sister exclaimed, “I get it! We’re all good goats!”

And so we are, by the grace of God. 

Dus, besef ek by die lees hiervan, moet 'n mens maar altyd daardie vinger wat so rondswaai en bokke om ons raaksien - almal op pad hel toe, nederig laat sak en hande vou, biddend.

Dit is hoe die verhaal van die laaste oordeel werk: Matteus vestig die aandag daarop dat 'n mens, wanneer jy jouself teen die lig van die genade toets, met skok jou eie harteloosheid, en, dan, jou lewe sonder God, sal ontdek. Toets jouself gedurig, vra Matteus. of jy nog in God se wil leef. Onderskei die teenwoordigheid van Christus in jou lewe. Sonder dat 'n mens dit weet, kan 'n mens buite God se wil leef. Deur self-ondersoek ontdek 'n mens hoe skeef dinge geloop het en watter hartelose magte loskom - en dit is 'n oordeel wat 'n mens oor jouself bring. Daardie oordeel kan, sonder dat jy dit besef, allervernietigends wees.

 

Thursday, September 13, 2012

Maria se mistieke weg


In ‘n paar vorige skrywes het ek nagedink oor die aankondiging van Jesus se geboorte aan Maria soos vertel in Lukas 1:26-38. Op allerhande maniere kan ‘n mens hierdie vertelling se geestelike dimensies ontvleg.

‘n Mens kry nog ‘n boeiende geestelike insig daarin as jy die verhaallyn van die verse volg. Lukas se vertelling verraai naamlik die diepe betekenis wat hy aan sy materiaal toeken en teken daarin Maria se mistieke weg:

Soos ‘n goeie verteller maak Lukas eers heel gou vir sy lesers duidelik wie by die gebeurtenisse betrokke is. Die verhaal van die aankondiging begin met ‘n vertelling in verse 26-27 oor die karakters in die verhaal: Lukas maak seker dat sy lesers weet dit gaan om God wat die engel Gabriël na Maria stuur.

Dan kom alles in beweging: Die engel, vertel vers 28 het by Maria aangekom. Hier begin alles nou gebeur. Die verhaal word afgesluit in vers 38 wanneer Lukas uitdruklik vertel dat die engel “van haar weggegaan het.” Die kom en die gaan van God se engel rond hierdie verhaal af – dit is die raamwerk waarin ‘n mens dit moet plaas en verstaan.

Hier gaan dit om God se koms.

Heel onvoorspelbaar, genadiglik, begin God die groot omwenteling in die lewe van mense. God tree deur die Engel die land van sy liefde binne, strek sy hand uit na die eenvoudigste van mense, na ‘n ongerekende vrou (vers 48!) in die klein dorpie van Nasaret. God reik uit. So wil Lukas die verhaal van Maria aanbied: dit staan in die teken van die verhouding van God met mense, gulhartig, uit genade aangeknoop. Alle inisiatief begin by die onsienlike, die verborgene. ‘n Mens ontdek eers sin wanneer ‘n mens dieper vind.

Dit is dus 'n mistieke verhaal: dit gaan om die koms van God in die eenvoud van ons bestaan.

Maria se verhaal is dus ‘n verhaal oor God wat ‘n verhouding met mense uit vrye genade aanknoop. God heilig (vers 49) die dor lewe van die ongerekendste mense. Die Heilige Gees is aan die werk (vers 35). Dit gaan oor God se werk in die een wat as die heilige gebore sal word (vers 35). Heilig, anders, afgesonder, eenkant – daar ontdek ‘n mens betekenis en die Verborgene. Ook in hierdie heiligheid, 'n kernwoord in die mistiek, ontdek 'n mens die spesiale karakter van Lukas se verhaal.

Binne hierdie verhaal van God vertel Lukas nou ‘n pragtige gestruktureerde dialoog tussen die engel en Maria. Drie keer praat die Engel met haar. Drie reaksies van Maria word dan elke keer op die drie aksies van die Engel uitgespel.

Heel opvallend begin die Engel deur ‘n doodeenvoudige “begroeting” aan Maria in vers 28. Hierdie aankondiging bestaan ook uit drie dele! Die Engel sê: “Wees bly”; “Begenadigde mens”; “Die Here is met jou.” Die Afrikaanse vertaling: “Gegroet” mis die punt. Hierdie aankondiging van die Engel is gelaai met blydskap, met ‘n boodskap oor genade, maar veral met ‘n versekering dat die Here daar, by Maria, is. Dit is ‘n aangrypende mistieke oomblik waarin Maria bewus gemaak word van die uitsonderlike teenwoordigheid van God by haar. "Wees bly,", dus.

Haar eerste reaksie, wat Lukas dan in vers 29 beskryf, vertel dat sy deur die begroeting oorweldig is: “Sy was verbysterd oor die woorde.” Sy het “gewonder oor wat die begroeting (!) kon beteken.” In elke mistieke ervaring, waar ‘n mens ook al in die teenwoordigheid van God kom, peil ‘n mens nie wat met jou gebeur nie. Waar God ‘n mens aanraak, kom verwondering in spel, worstel ‘n mens om die diepte van die ontmoeting te deurgrond. Jy is by die Verborgene, tas in die donkerte, soek om meer te begryp en te deurgrond.

Maria word opgeneem in ‘n intieme, noue verhouding met God en hartgrondiglik daardeur getransformeer.

Dan volg ‘n tweede woord van die Engel. Sy woorde, opgeteken in vers 30, “antwoord” op haar reaksie. En sy woorde beskryf terselfdertyd wat met haar gebeur. Hy sê vir haar om nie te vrees nie. Hier het ons te doen met die vrees vir die Here, ‘n kernwoord in Spiritualiteit. Dit het niks met angs te doen nie, maar met ontsag en verwondering, soos vers 29 bewys. Dit is wel vrees, want Maria skrik terug oor die ontsagwekkende wat met haar gebeur. Teselfdertyd, soos Waaijman dit partykeer verduidelik, is dit soos ‘n mot by ‘n kers. Vrees van die Here beteken om te skrik, gebrand te voel, maar teselfdertyd trek dit ook aan, is daar verwondering en toenadering. Die Engel verduidelik daarom in ‘n derde moment, God se teenwoordigheid in haar lewe. Sy, die ongerekende vrou, sal die seun, die koning in die wêreld bring – die sfeer van die Heilige en die werking van die Heilige is hier te merk (vers 35).

Welzen skryf aangrypend oor hierdie moment in die verhaal van die geboorte-groet. Hy vergelyk Maria se reaksie met Jesus se lewe. Jesus hoor tydens sy doop dat Hy die Geliefde Seun is in wie God ‘n welbehae het. God is bly en verheug God oor Jesus – soos Maria ook oor haarself gehoor het. Baie later sou Jesus leer om sy wil na God se wil te skik, toe Hy in die tuin van Getsemane gebid het dat God se wil in sy lewe gebeur. Dit is wat Maria ook doen. Wanneer God haar op ‘n mistieke manier aanraak en in haar lewe ‘n werklikheid word, worstel sy met God se wil: “Hoe is dit moontlik?” vra sy in antwoord op die Engel se tweede woord. Sy begryp nie. Haar geestelike weg, soos die Engel dit uitspel, maak vir haar nie sin nie. 

Sy worstel om te begryp en sy luister na die goddelike woord, wat eindig met die opmerking: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

Die verhaal het begin met die begroeting van die Engel aan Maria: “Die Here is met jou!” Maria worstel om hierdie vreugdesgroet te deurgrond. Sy weet sy is in die teenwoordigheid van God, maar weet nie wat dit vir haar inhou nie. Sin na sin word hierdie worsteling oorvertel.

Maar dan eindig die verhaal waar Maria sê: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Sy is reg om die beker te drink.

Dit is die derde vertelling van Maria se reaksie op die geboorte-groet. Skeepsreg.



Wednesday, September 12, 2012

Met die Bybel deur die woestenye: in gesprek met die Woord.


Dit maak ‘n verskil hoe ‘n mens die Bybel lees as ‘n mens in ‘n verhouding met God leef.

Anders as in die kille wetenskap, lees ‘n mens nie die Bybel bloot om dit te interpreteer nie. ‘n Mens, sê die woestynvaders al eeue terug, lees die Bybel om die verhouding met God te verdiep. Die Bybel is die ewige voedsel wat die honger om God versadig.

‘n Mens tel nie die Bybel op en bestudeer dit nie.

Die Bybel is ‘n gespreksvennoot. Gedurig praat die Skrif met mens en gedurig vra die mens weer aan die Woord sy of haar lewensvrae.

Deur die gesprek met die Bybel soek ‘n mens dat alles wat ‘n mens daarin lees, in jou lewe beliggaam moet word. Die heiligheid van die Skrif word ‘n realiteit in ‘n mens se lewe.

Daarom het die woestynvaders die Bybel gememoriseer. Waaijman praat van die ruminasie van die Bybel. Soos ‘n mens die woorde van die Bybel in jou mond, in jou geheue herhaal en proe en praat, so word dit deel van jou lewe. Die woorde word herkou.

Om naby aan God te wees, om heiligmaking te jaag, beteken ‘n mens wil gedurigdeur hierdie woorde van Bybelse tekste opsê, prewel.

‘n Mens soek nie slim na allerhande nuwe betekenisse in die Bybel nie – so vertel Green – maar soek om die woorde deel te maak van jou lewe. Die woestynvaders leef in uiters barre, gevaarlike en harde omstandighede. In hierdie harde lewe moet hulle gedissiplineerd leef, hul emosies beteuel, oefen om vir ander om te gee en konsentreer om die regte besluite te neem. In hierdie moeilike omstandighede moes die antwoorde, in Bybelse taal, uit hulle binneste opkom as ‘n fontein van die lewe. Dit het daar in die binneste gekom alleen maar deur gedurig in die Bybelse taal te leef. Wie versigtig luister, sal verander word. Die heiligheid van God se dinge word die heiligheid van die leser se lewe.

Die Bybel word gelees met hierdie doel voor oë – om in ‘n verhouding met God versterk te word, want wie daarin sterk is, kan woestenye deurkruis.

Tuesday, September 11, 2012

Hel.


Terwyl ek Barbara Green se hoofstuk oor die interpretasie van die boek Jona oor vele eeue heen lees, verwonder ek my weer aan Augustinus se uitleg daarvan. Elke keer weer tref dit my en roep dit nuwe gedagtes by my op.

Dit is woorde wat die hart van Bybelse Spiritualiteit raak.

Wanneer Augustinus oor Psalm 139:1 skryf (“uit die dieptes het ek na U geroep, o Here!”), maak hy die volgende opmerkings:

"Jona het uit die dieptes van die vis se maag geroep. Hy was nie net in die dieptes onder die waters nie, maar boonop in die dieptes van die vis se maag. Maar daardie waters en daardie binnegoed van die vis kon nie keer dat sy gebed deur God gehoor word nie. Sy gebed het deur alles gedring. Dit het dwarsdeur alle dinge gebars. Dit het God se ore te hore gekom."

Wanneer Augstinus by hierdie punt uitkom, herhaal en brei hy uit: “ons moet eintlik sê: terwyl die gebed van Jona deur alle ding heen beur en bars, het dit God se ore bereik – want die oor van God is in die hart van die een wat bid."

Weer ‘n keer wil ek oor hierdie mistieke opmerking van Augustinus oor die oor van God in die hart van die bidder, skryf: so naby is God aan mense, aan hulle wat bid. Terwyl die woorde van gebed uitgespreek word, hoor God al. Selfs voor die woorde oor mense-lippe kom, is hulle al gehoor.

Dit is nog ‘n dimensie van wat bekend is as die mistieke antifrase: mense bid, spreek woorde uit, en wag om te kyk of die woorde gaan werk. Sal daar ‘n reaksie kom? Hoe gaan God die woorde beantwoord? Die sukses van gebed word aan die uitkoms gemeet.

Maar die wonder is dat die blote uitspreek van daardie woorde al ‘n teken is van God se teenwoordigheid in ‘n mens se binneste binnekant. Om te wil bid, om die woorde na Bo te rig, is ‘n teken van verlange wat nie sommer vanself in ‘n mens se binneste opkom nie.

Die verlange na God, die woorde wat uit daardie verlange gebore word, is woorde wat geskenk word. Hulle is genade-woorde. Wie bid, wie op God wag, is deur God geraak en geroer. 

Verlange is gerig op wat skynbaar afwesig is. Maar tog is God op een of ander manier aanwesig, selfs waar gedink word dat God nie daar is nie. 

Vele erger as die wanindruk dat God nie gebede antwoord nie, dat God nie ook aanwesig is in die plekke van ons grootste donkerte nie, is wanneer ‘n mens nie meer bid nie. As die woorde verstom het, die verlange opgedroog het…  dan is die duisternis volkome en ewig. Dit is hel.

Daarom hierdie goue wete: in die verlange, in die gebede, is vreugde: want die gebede en die begeerte vertel van die Stille teenwoordigheid.

Augustinus het op ‘n boeiende manier Psalm 139:1 met die verhaal van Jona gekombineer. Vele “deeglike” eksegete sal dit as allegorie bestempel en bietjie wenkbroue optel.

Maar wie die geestelike reis ken, sal weet: Augustinus praat uit die hart van die genade uit. Hy weet van ‘n genadige God wat nader aan mense is as hulle aan hulself is. En dit is daardie nabyheid en genade wat die verlange laat ontbrand. Die pelgrim, verlangend op weg, soms in donkerte, weet bly: daar is 'n Reisgenoot wat saam op weg is, al sien 'n mens dit nie...

Monday, September 10, 2012

Wanneer God grense oorsteek. Hoe Bybelse spiritualiteit die verstaan van 'n teks beslissend bepaal.



Die aankondiging van die geboorte van Jesus in Lukas 1:26-38 is een van die min plekke in die Bybel waar Maria prominent genoem word. Dit is dus vir Rooms-Katolieke eksegete ‘n gewilde hoofstuk. Een van hulle, Rene Laurentin, wat bekend is as ‘n kenner op Maria-studies, het ook die geboorte-verhaal ontleed.

Hy wys daarop dat die twee gedeeltes oor die aankondiging van Jesus en Johannes se geboortes parallelle verhale is. Maar origens, skryf hy, verskil die twee verhale hemelsbreed.

Dit is interessant hoe hy die teenstellings uitlig:

Sagarias, Johannes se pa, is ‘n bevoorregte, ryk priester wat gerekend in sy tyd was. Die engel verskyn ook daarom aan hom in die tempel as ‘n spesiale plek. Maria, daarenteen, het nie veel waarop sy haar kan roem nie. Lukas sê niks oor haar sosiale status nie. Anders as Sagarias het sy nie ‘n familie wat ‘n trotste geskiedenis het nie. Die aankondiging van die geboorte gebeur ook in ‘n onbekende plekkie en nie in die belangrike hoofstad Jerusalem nie.

Tog kies God juis vir hierdie ongerekende vrou om die Verlosser se ma te word.

Laurentin lig ander kontraste uit:

Sagarias is ‘n vroom mens wat uitblink in gehoorsaamheid. Maria kan maar net genade ontvang.

Sagarias ontvang die nuus, terwyl Maria, volgens Lukas, die nuus van die engel in haar binneste opneem en daaroor reflekteer.

Sagarias glo nie die aankondiging nie. Maria se reaksie laat die engel vir haar ‘n belofte maak.

Sagarias is aan die einde van die verhaal stom. Maria sing ‘n besondere lied waarin sy haar geloof uitdruk.

Hierdie verskille, volgens Laurentin, wys daarop dat Maria ‘n simbool is van die volk wat uit genade bevry word en God se beloftes ontvang.

In sy bespreking van Laurentin se uitleg van die Bybel het Welzen goed ingeligte kritiek. Hy wys daarop dat Maria en Josef ook deur Lukas as gehoorsame mense geteken word (Lk.2:22-24) en dus as wetsvrome mense. In die opsig is daar geen kontras tussen Sagarias en Maria nie.

Wat wel waar is, is dat daar ‘n definitiewe verskil is tussen Johannes as die profeet van die Allerhoogste en Jesus as die Seun van die Allerhoogste. Die verhaal gaan dus nie daarom dat Maria as die eenvoudige, nederige mens verhoog word in sosiale status nie.

Dit is op hierdie punt dat Bybelse Spiritualiteit beslissend inwerk: hier begin ‘n mens raaksien dat die gedeelte te doen het met die geestelike dimensie van die mens se verhouding tot God eerder as bloot net sosiale kwessies.

Daarmee word belangrike geestelike aspekte van die verhaal beklemtoon. Dwarsdeur die Maria-verhaal neem God die inisiatief. God stuur die boodskapper. God verhoog Maria. God is dus die een wat die verhouding met Maria aanknoop.

En, soos met enige verhouding, het dit sterk invloed op Maria en haar mens-wees. Sy word geestelike vernuwe en getransformeer. Sy word deel van God se metamorfose van mense op die rand van die samelewing.

Lesers van Lukas se evangelie word deur Lukas opgeneem in die groot geestelike vernuwingsproses wat in Jesus begin het. God bevry mense van hul bande. Sosiale konvensies word geïgnoreer en eenkant geskuif. Wat tel is nie wat die posisie van mense in ‘n samelewing is nie. Wat tel is of hulle hul volledige menswees in Christus ontdek en dus verander word tot vry, sterk en volwasse persone. Want vir Lukas kan ook arm mense deel wees van God se werking. Vroue, geminag deur vele, is in Lukas se verhaal steunpilare in Jesus se bediening.

Niks, nie eers die sterkste kulturele, sosiale en politieke vooroordele en konvensies kan God se werking en God se transformasie van mense stuit nie.

Bybelse spiritualiteit open ons oë vir die geestelike dimensies in ‘n teks en verhinder ons om ‘n teks bloot net in terme van sosiale prosesse te lees. Hoewel die Bybel duidelik politieke implikasies het, help Bybelse spiritualiteit ‘n mens om die belangriker dimensies raak te sien en om nie die geestelike te verpolitiseer nie.

Dit is nogal ‘n belangrike aspek wat baie meer aandag verdien as wat tans die geval is.

Sunday, September 09, 2012

Die mooiste sportmense in die wêreld. Oor die paralimpiese atlete en die kosbaarheid van die lewe


In ‘n onderhoud met twee Belgiese paralimpiese medalje-wenners vertel hulle hoe oorweldig hulle is deur hul ervaring. Hulle het nie verwag dat daar so ‘n geweldig gehoor met so ‘n oordowende ondersteuning in die stadium sou wees nie.

Hulle vertel van die spangees, van hoe hulle mekaar ondersteun het en die vreugde wat hulle aan elke prestasie gehad het.

Maar dan vertel hulle van die toewyding van atlete wat blind is, ledemate verloor het of op allerhande maniere ‘n liggaam het wat anders is as wat mense normaalweg het.



Vir sommige van die atlete is die deformiteit byna onvoorstelbaar.

Voor my oë flits die beelde van die vorige aand se swembyeenkoms. Aan een van die nommers neem ‘n atleet deel wat geen arms het nie. Hy hou met die wegspring met sy tande aan ‘n ring vas. Dapper hou hy vol en eindig eindelik heel laaste. Maar hy swem tot die einde.

Later lees ek van twee swemmers wat sonder armes deelgeneem het en tog goud verwerf het. 



Hierdie mense kon op ‘n hopie gaan sit en kla het oor hul liggame.

Hulle het nie.

Ek volg weer die onderhoud met die twee, jong, entoesiastiese, lewensdriftige Belge. Die spangees, vertel die Belge, is oorweldigend. Met toewyding byt elke deelnemer vas. En elke keer weer is die vreugde groot oor ‘n wedstryd wat voltooi word of ‘n medalje wat gewen word.

Toe voeg een van die twee met wie ‘n onderhoud gevoer word by dat sy soms dink aan die lewe waaraan sy na die spele blootgestel gaan word. Sy dink aan al die klagtes wat sy van mense tuis, sonder liggaamsgebreke, weer sal moet aanhoor. En sy vergelyk dit met die positiewe, unieke gees onder die atlete, hulle lewensdrif en -vreugde.

Dit val haar op, sê sy, dat hulle so gelukkig is. En tuis, al klaende, dikwels oor klein, geringe dingetjies, loop mense suur rond – onbewus en onnadenkend, sê sy, oor hoe “ryk” hulle is. 

Mens kyk na die paralimpiese atlete met verwondering en, veral, bewondering. Hoe, dink ek elke keer, hoe mooi is hulle. Teenoor die leegheid van al die sterk, kreatien-belaaide, juwele-behangde, uithangerige geld-jagters van die groot sporte, kry miljoene mense hier by hulle versadiging vir hul honger na egte sportmangees, na mense wat weet hoe kosbaar die lewe is. 

Dit is egte skoonheid. Hier is volledige mense.


Hier, uit die Daily Mail, is 'n berig:

Armless Archer Is the Number One Contender for Paralympic Gold
Jessica Menton | Jun 13, 2012 8:10pm EDT | 3min:42sec

For most people hitting a target with a bow and arrow would be a challenge. For those competing at the Olympics, it takes mental discipline and enough arm-strength to pull 60-pounds on the bowline amidst fierce competition. For Matt Stutzman, who set a new Guiness record with a 230-yard shot last year, the challenge is different.

He has no arm-strength to speak of. In fact, Stutzman has no arms, yet he’s the number one contender for the gold medal at the London Paralympic Games this summer. 

Stutzman came to archery only recently. He grew up in a family that enjoyed hunting so it was only a matter of time until he picked up a bow too. Last year, while helping a friend site his rifle, Stutzman joked he could hit a target with his bow at 100 yards that his friends could not hit with his gun.

After hitting the mark, they stretched Stutzman accuracy to over 200 yards, which led to besting the world record mark. After that Stutzman found his way to the U.S. Paralympic program very quickly. Earlier this year, the archer attended the biggest indoor archery tournament in Las Vegas for the compound bow.

Over 1,800 competitors participated in the three-day event, and after the first day only 54 people had perfect scores. Fifty-three of them needed their hands and arms to do it. Stutzman has since become the favorite to win gold at the Paralympics. Before Stutzman takes on that next challenge in London, the father of two is looking forward to the imminent birth of his next child. The Paralympic Games run from August 29th to September 9th.


Saturday, September 08, 2012

Verblindende liefde

Die mistikus-digter, Hafiz, skryf, metafories oor die onvoorwaardelikheid van die liefde:

Selfs
na
so ‘n lang tyd
sê die son nooit
vir die Aarde:

“Jy skuld my, hoor.”

Kyk
wat gebeur
met so ‘n liefde.

Dit skyn
verblindend
oor die
ganse
hemel.

Dit laat my aan die bergrede dink (Mt 5:45)

Friday, September 07, 2012

Die geestelike betekenis van die geboorte aankondiging aan Maria. Oor Lukas 1:26-38.


Lukas is saam met Matteus die twee skrywers wat verhale oor Jesus se geboorte in hul Evangelies opneem. 

Lukas 1:26-38 is deel van hierdie verhale. Dit is hoogs opmerklik, want daar vertel Lukas hoe ‘n engel aan Maria verskyn en haar oor die geboorte van Jesus inlig. Nêrens anders lees ons hiervan nie.

Dit is 'n mooi verhaal - bloot net deur die manier waarop dit vertel word. 

Bybel-uitleggers het verduidelik hoe pragtig die verhaal opgebou is aan die hand van ander, ouer verhale in die Ou Testament. Gerhard Lohfink, wat so ‘n fyn aanvoeling hiervoor gehad het, vertel dat ‘n mens Gabriël se besoek aan Maria kan vergelyk met Genesis 16:7-12 waar Hagar hoor van Ismael se geboorte. ‘n Mens dink ook aan Genesis 17:15-19 waar Abraham verneem van die geboorte van Isak. 

In hierdie drie Aankondigingsverhale in Lukas en Genesis, merk ‘n mens ‘n mooi patroon met presies vier elemente: ‘n hemelse wese verskyn, kondig die geboorte van ‘n seun aan, noem die naam van die seun en onthul die toekomstige lot van die seun. Gabriël, die hemelse wese, verskyn en vertel vir Maria van die geboorte, meld die naam van Jesus en onthul die toekoms van Jesus.

Maar, voeg Lohfink by, Lukas sorg dat sy verhaal in nog 'n opsig netjies gevorm is. Vir die tweede deel van die geboorte-verhaal in Lukas, is dit nodig dat ‘n mens kyk na Roepingsverhale in die Ou Testament waarin mense tot diens van God geroep word. In sulke verhale soos die roeping van Moses (Eks. 3:10-12) en van die profeet Jeremia (Jer.1:4-10), is daar ook ‘n patroon met vier elemente:  God praat en roep ‘n mens, die mens maak beswaar, God verwerp die beswaar deur ‘n verdere verduideliking en God gee ‘n teken om sy roeping te bevestig.  

Dit is nou wat Lukas ook doen.  In Lukas 1 word Maria geroep, sy stribbel teen (Lk.1:34), Gabriël praat verder met haar (Lk.1:35) en gee dan aan haar die teken van haar swangerskap (Lk.1:35).

 Lukas bied sy verhaal oor Maria dus aan deur twee verhaalvorme uit die Ou Testament te gebruik. Hy maak daarvan 'n Aankondigingsverhaal en 'n Roepingsverhaal. Lukas doen dus veel moeite om sy verhaal uit te skryf. Hy bied dit eers aan as ‘n Aankondigingsverhaal waarin Gabriël verskyn, die geboorte van Jesus aankonding, die naam van Jesus noem en onthul wat met Hom sal gebeur. 

Na hierdie Aankondiging, volg die res van die Roepingsverhaal: Maria maak beswaar, maar word deur die Engel oortuig en sy ontvang ‘n teken.

Wat is nou die waarde van so ‘n patroon en van Lohfink se versigtige lees van die teks? 

Lohfink is hieroor duidelik. Uit die patroon kom ‘n mens Lukas se eintlike punt agter. 
Lukas wil naamlik in sy verhaal fokus op verse 32-33. Hoe weet ons dit? In enige roepingsverhaal word gewoonlik gefokus op God se roeping van ‘n mens. Dit is hoe roepingsverhale begin en dit is waarop die klem val. Moses en Jeremia is dus mense wat deur God geroep is. Lukas beklemtoon in die hoofstuk hierdie moment: dit gaan om die roeping van Jesus deur God. Jesus is deur God Self aangewys.

Maar, vervolg Lohfink, hierdie klem op God se roeping werk Lukas nou meer presies uit as  ‘n Aankondigingsverhaal. En in so 'n Aankondigingsverhaal is dit die laaste deel oor die toekoms van die baba, waarop die klem val. 

Daarom is die hart van die gedeelte oor Gabriël in Lukas die onthulling van die toekomstige lot van Jesus in verse 32-33: Jesus sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Hy sal van die Here die troon van Dawid ontvang. Hy sal vir ewig koning oor die huis van Jakob gemaak word.

Lukas vertel die verhaal van die verskyning aan Maria om die geloof van sy lesers in Jesus te versterk. Jesus, die Seun van God, die Messias, word as koning verhef. Hy is die vervulling van die beloftes van die Ou Testament.

Lukas maak van hierdie roeping van Jesus ‘n geloofsbelydenis. Deur die verhaal word lesers gehelp om die inhoud van hulle geloof te bely en uit te druk. Jesus is Seun van God, Messias, Ewige koning.

‘n Mens kan nou oor hierdie verduideliking opgewonde raak en verwonderd staan hoe kunstig Bybelskrywers oor Jesus praat en hoe patrone 'n mens help om die eintlike punt van gedeeltes te verstaan. 

In Bybelse Spiritualiteit, skryf Welzen wanneer hy die gedeelte bespreek, moet ‘n mens egter bietjie dieper kyk. Lukas 1 is meer as net ‘n geloofsbelydenis. Dit is goed en wel en belangrik dat Lukas Jesus as ‘n besondere figuur beskryf wat hoog bo ander verhewe is. Maar wat doen dit aan ons? Hoe raak dit ons verhouding met God? Hoe word die leser aangeraak en getransformeer deur die verhaal? Waarom is hierdie geloofsbelydenis belangrik?

Met ander woorde: ‘n mens kan mooi dinge, soos Lohfink, oor die Bybel skryf, terwyl dit nie regtig enige verskil maak aan wie jy is en hoe geloof werk nie.

Bybelse Spiritualiteit gaan dus om meer as net teologiese inhoude en geloofsoortuigings.


Wednesday, September 05, 2012

Elke keer weer klink die stem van die Bybel nuut en anders...

Ek verwonder my nog steeds oor die feit dat musiek-uitvoerings van een spesifieke musiekstuk so kan verskil.

Vanoggend oor die radio speel die omroeper 'n stuk van die Beatles en Joel Cockrill. Dit is dieselfde musiek, sê hy opgewonde. Die Beatles het dit beroemd gemaak.

En nou kom Joel en sing dieselfde lied totaal anders. 

Hy laat sy luisteraars inbel en stem oor wie se weergawe die mooiste is. 

Die stryd is gelykop. Maar uiteindelik wen Joel.

Hy sing die Beatles se lied beter as wat hulle dit self doen. 

Die omroeper praat met 'n vrou wat kwaai raas omdat kunstenaars ander se musiek steel en dan geld wil maak uit hul weergawe. Nee, sê hy. Hulle steel nie die musiek nie. Hulle sing dit op 'n kreatiewe wyse en laat die skoonheid van die stuk des te meer na vore kom. Hulle is egte kunstenaars. Hulle blink uit in kreatiwiteit. 

Dit, sê Bybelkenners al lankal, is presies wat in Bybel-uitleg gebeur: ons het 'n bepaalde teks, maar hoe daardie teks gaan "klink", hang af van wie dit uitlê en oorneem. Elke uitleg van die Bybel sal anders wees. 

Dit beteken nou nie dat almal reg is nie. Soms moet 'n mens tereg wal gooi teen mense wat die Bybel-teks manipuleer en misbruik.

Maar uiteindelik is die duisende preke wat elke Sondag in gevestigde kerke oor Bybeltekste gehou word 'n duidelike bewys hiervan:  dieselfde teks, maar verskillende toepassings.

Trouens, die polifoniese karakter van die Bybel en die meervoudige gebruik daarvan wys hoe ryk en oneindig aan betekenis die Bybel is. Vandaar dat mense dit as 'n geïnspireerde teks beskou.

Eintlik is dit merkwaardig: dat oor soveel eeue en in soveel lande die Bybel so anders gehoor word. En, meer nog, dat dit oor die eeue deur al hierdie lesings soveel troos, inspirasie, moed en hoop aan baie mense gebied het. 


Tuesday, September 04, 2012

Kyk na die leser as jy sy Bybel-uitleg wil toets... Oor die geestelike lees van die Byb


Ons kan nie die Bybel lees en iets sê oor die waarheid daarvan sonder dat onsself daarby betrokke is nie. 

Daar is nie so iets soos die "regte" verstaan van die Bybel wat buite ons om bestaan nie.

Ons lees van die Bybel is waar wanneer dit ‘n verskil in ons lewe maak.

Etiek en Bybel-uitleg het direk met mekaar te doen. ‘n Mens se lewe bewys hoe geloofwaardig ‘n mens se Bybel-interpretasie is.

So het die beroemde kerkvader, Cassianus, reeds in die vyfde eeu n.C. geskrywe.

Dus: Kyk na die leser en sy/haar lewe as jy wil uitvind of sy/haar lees van die Bybel waar is.

Monday, September 03, 2012

Wanneer kennis opgeblase is en in die weg van geloof staan.


Die kerkvaders soos Origines het die Bybel in die eerste plek as ‘n teks vir geloofsgroei gelees. God spreek deur die Woord tot lesers om hulle op hul geloofsweg te begelei. Vir hulle was die Bybel ‘n kragbron wat gesoek het om mense te transformeer tot die dieper verborge lewe by God.

Dit beteken nie dat die kerkvaders die letterlike betekenis van die Bybel geïgnoreer of geminag het nie. Hulle het wel deeglik beklemtoon dat dit een van ten minste twee belangrike aspekte van die Bybelse teks is. Maar, het hulle bygevoeg, ‘n mens kan nie daar ophou nie.

Origines verduidelik dit, volgens Paul Decock, wanneer hy die episode van die voetewassing in Johannes 13 bespreek. Die dissipels het alles wat Jesus tydens die voetewassing waargeneem. Hulle kon sien wat Jesus doen. Maar wat hulle nie kon sien nie, was waarom Jesus dit gedoen het. Hulle het die geestelike betekenis daarvan nie begryp nie.

Dus behoort ‘n mens sensitief te wees vir die dieper, geestelike betekenis van die voetewassing. Vir Origines was die voetewassing ‘n beeld van hoe die Woord van die Here die dissipels se voete gewas het. Die verhaal se krag lê in sy geestelike eerder as sy letterlike betekenis.

Net so het die kerkvaders oor die besnydenis gedink: die besnydenis het vir hulle ‘n dieper betekenis gehad vir hulle nuwe tyd. Die kerk het bestaan uit heidense Christene op wie die besnydenis nie meer toegepas kon word nie. Daarom het die kerk die Ou-Testamentiese voorskrifte oor die besnydenis op ‘n nuwe, kreatiewe manier uitgelê. Paulus praat byvoorbeeld van die besnydenis van die hart (Rom.2:29). Op ‘n ingrypende manier het die kerk verder die doop as nuwe sakrament naas die nagmaal ingestel en as teken van die mens se lidmaatskap van God se nuwe volk.

Vir die kerkvaders was dit belangrik dat die Bybel nuttig moet wees, sodat dit ‘n krag tot verandering en transformasie sal word. Kennis, het Augustinus byvoorbeeld geskryf, is maar net ‘n aspek hiervan. Sekere vorme van kennis kan ‘n mens selfs opgeblase maak (1 Kor.8:1). Die skrif wil eerder liefde aanwakker (1 Kor.8:1) deurdat dit ‘n mens nuut maak en bring tot geloof hoop en liefde (1 Kor.13). Wat saak maak is wat die Skrif nou vir mense in die hede beteken. Die Bybel is nie 'n boek waaroor 'n mens nuttelose spekulasies kan uitwerk nie. Dit is 'n boek wat nut vir die geloof het.

Daarom het die kerkvaders ook beklemtoon dat die Skrif vir die gehoorsame mens moreel sterker maak. Die Skrif bou ‘n mens se karakter, vorm jou en maak ‘n verskil aan jou lewe. ‘n Mens lees dus die Bybel met die openheid om gevorm te word na God se wil, om in die krag van God te leef en om in gehoorsaamheid die beeld van God uit te dra.

Dit is eers in die moderne tyd dat mense die Bybel begin lees het om “feite” te formuleer en om “sekerheid” vir hul geloof uit te spel. “Kennis” is wat tel en die “regte” uitleg van eie Bybel het belangrik geword.

Nooit kan ‘n mens die rol van kennis in geloof onderskat nie. Die Bybel is dikwels betrokke by die ontmaskering van valse leringe. Maar net so moet ‘n mens kennis nie oorskat nie. ‘n Mens kan alles weet: jy kan mooi netjies sien wat Jesus alles doen wanneer hy die voete was. Geleerd kan jy dan vir Jesus selfs voorsê wat Hy verkeerd doen. En dan self heeltemal buite God se wil wees.

Dit is nie maklik om die Bybel uit te lê nie. Gedurig moet ‘n mens jou afvra oor die verborge, dieper betekenis daarvan.

Een ding weet ‘n mens: as jou uitleg van die Bybel jou geloof versterk, jou hoop gee en jou in die liefde anker, is jy op die regte pad. Dan is ‘n mens op weg in die teenwoordigheid van God.


Sunday, September 02, 2012

Die geestelike krag van die Bybel.








Origines was een van die beroemdste kerkvaders. Sommige kundiges dink hy is naas Augustinus die belangrikste van hulle almal. Moderne eksegete lees hom met voorbehoude omdat hy bekend is as iemand wat sterk van allegorie in sy Bybel-uitleg gebruik gemaak het.

Maar vir hierdie kerkvader was die Bybel veral ‘n boek wat lewe gebring het en hy het boeiende insigte oor die krag van die Woord gehad. 

Hy lees die Bybel as ‘n teks waarin ‘n mens die woord van God sal vind. Die woord is egter op ‘n verborge manier in die Bybel teenwoordig. ‘n Mens kan op die menslike kant van die Bybel fokus, maar kerkvaders soos Origines wou eerder verby die bloot menslike kant deurdring tot die woord van God waaroor die mense-woorde gegaan het.

Hoe moet ‘n mens nou hierdie verhouding tussen mense- en goddelike woord verstaan?

Wanneer ‘n mens Jesus ontmoet, is dit, skryf Origines, duidelik dat die mens Jesus vir ons sy goddelike karakter openbaar. Net soos Jesus vir ons na God wys, net so het die Bybel met God se woord te doen.

Die mense-woorde van die Bybel vertel van God se woord. Maar God se woord kan nooit ten volle deur mense verstaan word nie. Daarom is ons gedurig weer besig om God se woord beter te begryp en te peil.

Origines voeg egter iets by:  ‘n mens kan nie bloot net die Bybel wil “ontsyfer” nie – asof ons maar die inhoud en idee’s daarvan moet begryp nie. ‘n Mens lees eerder die Bybel met die oog op geloofsvorming. Die Bybel as Woord van God wil die bestaan van die mens transformeer. Dit raak jou geestelike welsyn en nie net jou brein nie.

Wanneer ‘n mens die Bybel op die manier lees, het dit ‘n impak op jou lewe. Dan is die Bybel kragtig aan die werk en bring dit ‘n mens tot ‘n dieper en meer toegewyde verhouding met God. Dit beteken dat die Bybel ‘n mens se bestaan omkeer en vernuwe. Dit is lank nie net bloot ‘n kwessie om sekere dinge van God en oor God beter te verstaan nie.

Paul Decock skryf hieroor ‘n interessante opmerking: in die Bybelwetenskappe is daar ‘n nuwe rigting: eksegete lees die Bybel as ‘n teks wat steun op tekste en nuwe tekste skep. Openbaring, in die Nuwe Testament, kan ‘n mens nie verstaan as ‘n mens nie sien hoe dit die profete soos Esegiël, Jesaja, Sagaria en Daniël gebruik het nie. Die boek Openbaring het weer vele ander later tekste tot gevolg gehad, soos uit die apokriewe tekste blyk.

‘n Mens kan hierdie nuwe studie-rigting nuttig gebruik om meer van die Bybel te “verstaan”. Dit is een ding om te sien hoedat daar in die Bybel vele ou tradisies is of dat die Bybel gebruik is om nuwe boeke te skryf. Om dit te verstaan, is om die omstandighede van die Bybel in Bybelse tye beter te beskryf. Maar op die manier kom ‘n mens nog nie uit by die verborge dieptes van die Bybel nie. Al die insigte word waardevoller as dit ons help om te sien dat God op een of ander manier aan die werk is deur die Bybel en in die Bybel – nie net met mense in ou tye nie. Ook die moderne leser kan die krag van die Bybel ervaar wanneer hy of sy deur die lees van die Bybel bewus raak hoedat hul geloof gevorm en vernuwe word.

Hieroor nog iets meer.

Saturday, September 01, 2012

In die gloed van God se lig.




Lig is ‘n belangrike simbool in Bybelse tekste.

Dit besef ek weer by die lees van Psalm 36: Iemand noem vers 10 een van die mooiste verse in die Bybel: “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig”.

Vir vorige geslagte en vir vele spiritualiteitskrywers was die uitdrukking van groot waarde: “in u lig sien ons die lig”.

Mens-wees beteken om te lewe. Die menslike bestaan is ten nouste met lewe verbind.

Maar terselfdertyd is mense altyd weer bewus daarvan dat ‘n mens lewe ontvang. Dit is ‘n gawe wat uit God se hand kom: God is die fontein van die lewe. Dit wat ‘n mens tot mens maak, kom van God. Wie leef uit hierdie wete, ontdek sin.

As die lewe kosbaar is, des te meer omdat dit van God af kom.

Dit word op ‘n ander manier verduidelik wanneer die Psalmis byvoeg dat mense lig sien in God se lig.

Al die donkerte wat ‘n mens gevange hou, al die sinloosheid wat ‘n mens ervaar, word begrens en bevraagteken deur die lig wat ‘n mens ontvang wanneer ‘n mens in God se teenwoordigheid is en leef.

Die Bybel is uitgesproke oor die feit dat die mens nie die slaaf van donkerte is nie, maar steeds weer in volle, helder lig woon. Matteus 13:43 vertel van die lig van God wat oor mense kom: “Dan sal die regverdige skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.” Wie in God se teenwoordigheid leef, is bevry van die duisternis en leef lig. 

Ek is, roep Jesus uit, die lig van die wêreld. 

God se lig word in Bybelse taal besonder dinamies uitgebeeld. Die Pauliniese brief, 1 Timoteus 6:16, probeer God se lig verduidelik: God, skryf die vers, besit alleen onsterflikheid en bewoon ontoeganklike lig wat geen mens gesien het of kan sien nie.

God se lig is te groot vir mense. En tog woon mense in die lig!

Hoe anders, hoe volmaak, hoe spesiaal is die moontlikhede wat vir mense oopgaan wanneer hulle ‘n verhouding met God aanknoop. Dit is, wil die Bybelse tekste uitdruk, verbysterend hoe ryk die lewe kan word. As ‘n mens dit maar as ‘n goddelike gawe sien wat alles wat die allerbeste is vir die mens wil laat toekom. Mense wat God lief het, leef in Goddelike lig.

Spiritualiteit besef te goed dat die transformasie wat die mense ervaar te danke is aan Iemand en Iets ver bo en buite die mens self. Juis omdat God Lig is, is die verhouding met God ‘n liefdesverhouding wat ‘n mens in sy of haar diepste wese belig en deurspoel.

Lig wat donkerte uitdryf, lig wat ‘n mens se pad uitwys, lig wat helder en warm skyn – dit is wat God is vir mense. Aantreklik, boeiend, maar ook verborge: dat mense, skepsels, so hoog kan word - deel van God se hoë goddelike lig.


Blog Archive