Wednesday, October 03, 2012

‘n Goed-gerasperde, netjies gesnyde wortel is ‘n loflied op God. Oor die teenwoordigheid van God - elke dag


Martin Versfeld het ‘n merkwaardige boek geskryf met die naam: “Philosopher’s Cookbook.”

Die boek het mettertyd ‘n klassieke werk geword.

Versfeld was ‘n professor in filosofie in Kaapstad, maar het ook oor teologie en mistiek geskryf.

In die boek skryf hy op ‘n sekere stadium oor hoe ‘n mens die teenwoordigheid van God in die mees alledaagse, normale dagtake kan beleef.

Hy verwys indirek na die gebruik om in die kloosterlewe vas te hou aan beide die kontemplatiewe lewe en doodgewone hande-arbeid.

Monnike moes hul daaglikse take naas hul godsdienstige rituele en afsondering volhou.

Die doen van gewone dinge in so ‘n kloosterbestaan, skryf Versfeld, gaan nie om een deeltjie van jou aandag op jou dagtaak en die ander deel op God te rig nie. Jy loop ook nie met jou bord kos in die een hand en jou Bybel in die ander hand rond nie.

Asof dit gaan om twee dinge waaraan jy vashou sodat die een "vergoed" vir die ander. 

Om bewus te wees van die teenwoordigheid van God in die alledaagse take, is om eenvoudig net met jou hele wese betrokke te wees by wat jy besig is om te doen of te werk.

Ek sit terug en besef, by die lees hiervan, dat ek meer, veel meer hieroor wil dink. 

Dit is die voorbeeld wat Versfeld noem, wat ‘n mens boei:

‘n Goed-gerasperde, netjies gesnyde wortel is ‘n loflied op God.

Die loflied bestaan daaruit dat jy die so-wees van jou materiaal tot sy reg laat kom. Die liefdevolle, aandagtige manier waarop jy gedroogde vrugte voorberei of ‘n ui afskil, bring jou in aanraking met Weser (Being).

Die stukkie leeswerk laat my onwillekeurig dink aan die gedig, veral die slotreël van Eybers se “Die Geskenk” (oor die guns en genade van God – sien gister se blog).

‘n Ateïs, skryf Versfeld, sou in die oë van ‘n monnik nie ‘n sjef kan wees nie. As jy ‘n ateïs wil bekeer, laat hom wortels skraap en rasper. Jy hoef ook nie te sit en mediteer om genade te ontvang nie. 

Om aartappels te skil of om skottelgoed te was kan ‘n mens laat ontdek wat genade is.

Jy sal selfs nie, voeg hy by, die borde laat val nie.

Wanneer jy voedsel voorberei, rys kook, is jy gedurig besig om dit te bewonder: die eenvoudigste van kos-soorte is soos ‘n kind wat jy lief het. Versigtig hanteer jy dit, verwonderd oor die gawe om te mag eet, dat dit aan jou die lewe skenk. 

Die gewone, die alledaagse, wat jy met jou hande doen, kan tekens van God se teenwoordigheid wees. Dit laat jou besef wat voedsel is, hoe eenvoudige alledaagse dinge verborge sin inhou. Jy weet: dit is kos wat jy saam met ander geniet, wat jou deel laat kry aan hulle geselskap. Jy sien in dat jy hulle teenwoordigheid rondom die ete ervaar in die voedende gemeenskap van saam-eet.

Ek resepteer Versfeld op my eie manier, trek sy opmerkings in my eie resepsie in. 

Die eenvoudige, alledaagse, besef ek, word tekens van lewe, van betekenis, van Goddelike waarheid. 

Wanneer ons voedsel geniet, deel ons in die Natuur wat God geskep het en wat aan mense lewe gee.  

Elke oomblik, besef ek toe ek Versfeld lees, elke oomblik is kosbaar. Oral, in die eenvoud van voëls van die veld wat nie insamel en oppot nie, maar heerlik gevoed word, sien ‘n mens die wonder van onbekommerde, onbesorgde bestaan. 

In die gewone, in die trui wat die ma gebrei het, soveel dae lank, met soveel aandag en met soveel inspanning, sien ‘n mens mededeelsaamheid, die deel van warmte, uitgee van liefde, skep van rykheid, omgee en uitreik. 

Hoe perfek is die lewe by die aanhoor van musiek, van 'n oktaaf van gewone musieknote, kunstig saamgevoeg, wat met oorgawe geskep word en in totale skoonheid by jou kom lê. 

Elke oomblik bring jou in aanraking met eenvoud, die alledaagse van Lewe, met die Ewige lewe, met skoonheid, wat lank nadat ‘n mens jou kop neerlê, sal bly, sal voed, sal inspireer en sal seën.

Maar selfs dit alles is dalk bietjie te diep. Net om te kan lewe, voluit te kan lewe, by elke oomblik betrokke te wees, ingestel is op die alledaagse, is om by God te kan wees. 

Wanneer ‘n mens met jou hele bestaan betrokke is by wat jy beleef, sodat alles vir jou skoonheid word, selfs die baarste takie, is ‘n mens in die teenwoordigheid van God.

Kyk, kom eet saam met my. Hier is vir julle ‘n stukkie brood. Kom, drink saam met my ‘n bietjie wyn. Dink altyd daaraan. Laat hierdie stukkie brood en bietjie wyn elke dag in julle 'n nasmaak oorhou. 

Dit is waaroor die koninkryk van God gaan – nou en vir altyd. 

Só het die gasheer, lank terug, aan sy vriende gesê, die dag voordat hy homself volkome, met totale oorgawe, gegee het.


Tuesday, October 02, 2012

Jy het my meer gegee... Oor die liefde

Die geskenk

Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:

ook die meerblou lug tussen wit wolke-oewers het

      myne geword,

die dromerige rookblou van ver rante,

die pêrelblou van die skemering

en die roekelose blou van ’n blom tussen groen gras.

Jy het my meer gegee as die beroering van jou hande:

die lug het teerder om my gevloei,

die aand het my inniger as voorheen ontvang in sy

koele omhelsing

en die wind het gaan lê op my bors.

Jy het my meer gegee as die besorgdheid van jou
stem:

die bome het hul takke behoedsaam geneig

en die sterre het hulle rondom geskaar soos wagte.

Jy het my meer gegee as die drang van jou bloed:

die warm krag van die aarde het deur my gestroom,

die sap wat lentebotsels uitstoot het gepols in my
are

en die Ewige Lewe het ontkiem in my skoot.

Jy het my meer gegee as die droom van een nag:

al die verlore drome van my kindertyd het terug-
gekeer

en in my oë het jy sterre aangesteek,

te helder om te vlug vir die daglig.

Alles wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde

      was, het jy my gegee.

Jy het my meer gegee as jou liefde:

die guns en die liefde van God.

Hierdie gedig van Elizabeth Eybers het 'n mistieke kwaliteit: die liefde wat 'n mens van die minnaar ontvang open wêrelde van nuwe, wydse ervaringe. Dit wat voorheen verborge was, of ongemerk was, selfs verlore was, kom deur die liefde terug, word deur die liefde anders beleef.

Die liefde maak 'n mens bewus van oneindigheid, van die Ewige Lewe, van die guns en liefde van God.

Die liefde, so konkreet soos blou oë, hande wat aanraak, 'n sorgsame stem, is ook die liefde wat 'n mens laat droom, wat 'n mens teer en innig laat beleef, wat 'n mens veilig laat voel. 

--> Deur die blou van die beminde se oë kry die digter deel aan die blou van die hemel, die ver rante, die skemering en ‘n blom tussen groen gras (“die dromerige rookblou van ver rante!). 

Die vrug van die liefde, die vervulling van die drang van die bloed, is die Ewige Lewe. Dit bly vir altyd. Dit bring verlore drome terug, lank gelede gedroom, in 'n mens se kindertyd. Dit bring selfs die toekoms, dit wat nog ongevonde was (!), as 'n geskenk met hom mee. 

Groter as die liefde, die liefde van die minnaar, die konkrete liefde tussen twee mense, is die geskenk wat dit aan 'n mens gee - die liefde vertel van die guns en die liefde van God.  

Monday, October 01, 2012

Barensnood

Galasiërs 4:19 is 'n gedeelte met besondere betekenis in Spiritualiteit.

Paulus skryf aan die gemeente in Galasiërs oor die slegte situasie waarin hulle hulle bevind.

Gelowige mense verlei hulle, in die naam van die Evangelie, om sekere voorwaardes te stel aan mense wat die Evangelie aangeneem het. Hulle wil mense aan 'n nuwe eise onderwerp: nie net geloof in Christus nie, maar lidmaatskap van die Joodse volk is nodig.  

Paulus verwerp dit. Christus is genoeg. Meer as dit het mense nie nodig nie. God rig nie 'n eksklusiewe klub op nie. Die Evangelie kom uit liefde na almal en in liefde word almal deel van God se familie.

Die boodskap is radikaal: God het sy liefde byvoorbeeld aan Paulus bewys. En Paulus was 'n wreedaard wat gelowige mense uitermate vervolg en vermoor het (Gal. 1:13). Die goddelike liefde is ook oor Paulus, die gewelddadige mens, uitgestort. 

God, skryf Paulus in Gal. 2:20 het dit alles duidelik gemaak toe Christus aan die kruis gesterf het. Die liefde van God kom na vore in die self-gawe van Christus tot in sy dood. Om lief te hê, radikaal te bemin, is om jouself te gee soos wat die Seun van God hom aan mense gegee het.

Vir Paulus is dit nie soseer Jesus se boodskap wat van die liefde praat nie. Die liefde sien 'n mens die meeste in Jesus se gawe van homself, aan die kruis.

In Galasiërs 4:19 skryf Paulus nou dat hy in barensnood is totdat Christus in die Galasiërs 'n gestalte kry.

Wat mense nodig het, is dat Christus vorm in hul lewens inneem. Christus moet in hulle gestalte kry. Wie na hulle kyk, moet Christus sien.

Konkreet beteken dit: wie gelowiges bekyk, moet mense sien wat lief het soos wat God lief het: onbegrensd, onvoorwaardelik, inklusief, altyd aanvaardend. 

Gedurigdeur kan 'n mens jouself toets deur jou te meet aan Christus: hy wat homself nie hoog geag het nie, maar die gestalte van 'n dienskneg aangeneem het (Fil. 2).

Herken 'n mens tog nie hierin die liefde nie! 

Want egte liefde is bereid om jouself prys te gee ter wille van die ander een. Jy laat jouself gaan. Jy word niks: jy sterf. Saam met Paulus leef jy nie meer nie. Die ou lewe is tot niet.

Wat saak maak, is om "vir God te leef" (Gal. 2:20). Die geliefde is op die geliefde ingestel. So kosbaar is die ander een, dat 'n mens nie huiwer nie: jy tel nie. Jy word volmaak een met die ander.

Dit is die vorm van Christus wat ook in gelowiges moet leef: om jouself te gee en te gee. Wie dit doen, wie alles prysgee, ontvang die liefde, die volmaakte, wat altyd daar sal wees.


Sunday, September 30, 2012

Abe




Ek het Abe Malherbe in die tagtigerjare leer ken. 

Hy was toe professor by Yale Universiteit in New Haven. Later was hy, tot met sy aftrede, die Vise-dekaan van die Teologiese Fakulteit (oftewel, die Divinity School).

Dit was werklik 'n invloedryke posisie by een van Amerika se belangrikste universiteite.

Abe is as 'n jongman uit Suid-Afrika weg om in Amerika te gaan studeer. Hy het 'n suksesvolle loopbaan gehad wat hom een van die bekendste figure in die Nuwe-Testamentiese vakgebied gemaak het. 

Sy kommentaar op die Tessalonisense Briewe in die Anchor Bible kommentaar-reeks is 'n monumentale stuk werk. 

Maar altyd weer het sy vriendskap met Suid-Afrikaners en veral Suid-Afrikaanse teoloë op vele maniere na vore gekom. Hy het ons steeds met ope arms by Yale en aan huis verwelkom, vir ons geleenthede gegun en nooit laat wys dat hy afstand wil hou van 'n land wat vir dekades lank die muishond van die wêreld was. Hy was groter as politieke korrektheid. Hy het aan sy amp dekorum en inhoud gegee. Sy amp het hom nie gemaak nie.

Hy het twee keer dit vir my moontlik gemaak om as navorsingsgenoot by Yale te gaan werk. 

Hy het 'n groot invloed op my gehad, want hy het my oë oopgemaak vir die Grieks-Romeinse wortels van die Nuwe Testament. Maar ook sy nugterheid, sy akademiese skerpheid en sy ryke kennis het my steeds beïndruk.

Ek onthou hoe hy, kort nadat ek die geskiedenis van die NTWSA op versoek van die bestuur vir Neotestamentica geskryf het, uit die bloute 'n onverwagte briefie van hom gekry het. In die twee artikels het ek, onder ander, geskryf oor hoe moeilik Nuwe-Testamentici in ons land oor dekades heen onder die apartheidsjare gely het. Tuis was ons nie deel van die establishment nie - die NTWSA was altyd 'n oop organisasie wat nie op rasgronde opgestel is nie - en ons het 'n prys daarvoor betaal. In die buiteland is ons dikwels onwelkom laat voel, bloot net omdat ons Suid-Afrikaners was. 

Hy het vir my geskryf hoeveel waardering hy vir die inhoud van die artikels gehad het. 

Ek dink hy was tevrede dat die volle prentjie uiteindelik op skrif gestel is. 

In September, in Leuven, het ek nog kans gekry om lekker met hom te gesels toe ek die byeenkoms van die SNTS bygewoon het. Aan sy sy was Phyllis, sy vrou van baie jare. Soos van ouds was hy vol humor, wonderlike stories en die ene spontane toegeneentheid. Soos altyd wou hulle albei al die nuutste familie-nuus van ons hoor en met ons deel. 

Ek onthou hoe hy my vertel het dat dit met hom goed gaan en dat hy gesond voel.

Vanaand kry ek berig dat Phyllis, pas terug van inkopies, hom leweloos agter sy lessenaar aangetref het. 

Dit is vir my asof ek 'n mentor en pa verloor het. 

Sonder om te kon groet. 

Dit is miskien wonderlik om 'n mens se lewe so te kan afsluit, sonder lyding en swaarkry. 

Maar dit maak die skok van 'n onverwagte afskeid erg.

Ek sou graag darem net weer vir hom wou dankie sê vir al die kere wat hy vir my deure oopgemaak het, vir die baie male dat hy vir my en my familie goed was - op sy doodnugtere, stil, vriendelike manier. Ek sou graag weer vir hom wou dankie sê vir die akademiese wêreld wat hy met my en ander kollega's uit ons land gedeel het. Ek sou vir hom wou dankie sê vir sy humor. 

Ek eer die nagedagtenis van 'n besondere mens. 




Saturday, September 29, 2012

Groei na die liefde....



Joekie deel hierdie met ons familie.

Die gedagte werk nogal op vele ander vlakke.

Iets om te onthou vir die geestelike reis - saam en ter ondersteuning van ander....

Friday, September 28, 2012

Vreugdeloos die hel in. Oor sommige se obsessie met die hel.

-->
In vandag se Trouw is daar ‘n bespreking van ‘n nuwe film wat ondersoek instel na Amerikaanse groepe se houding teenoor die gedagte van die hel as ewige verdoemenis.

Die film volg op die boek van Rob Bell, ook by ons bekend, wat verlede jaar ‘n boek oor die tema geskryf het. Hy glo in die hel, skryf Bell. Maar die hel is nou reeds op aarde. Vir Bell is die gedagte aan die hel as ‘n ewige verdoemenis waarin God mense sal stort as straf, nie te rym met God se liefde nie.

Die artikel het my laat dink aan ‘n lesing ‘n lang tyd gelede waarin Prof Johan Heyns die gedagte van die hel as ewige verdoemenis probeer peil het. As ek goed onthou, was hel vir hom die afwesigheid van God. Wie nie in die liefde van God sterf nie, bevind hulle in die hel. Ek kan nie onthou dat hy die hel wou voorstel as ‘n letterlike plek waar mense fisiek en konkreet ewiglik in ‘n vuur brand nie. Hy het begryp dat die Bybel hieroor versigtig en presies gelees moet word.

Miskien was dit Heyns se poging om die begrip van ‘n gewelddadige God wat mense in die eindtyd in poele van swawel en vuur smyt, te bedink.

Hieroor sal daar seker meer en meer debatte kom. In die proses hou ek ‘n paar gedagtes oor die tema vas:

Die eerste is hoe sterk die Bybel God as God van liefde voorstel. Dit is die belangrike ding om aan vas te hou. God se verhouding tot mense sal altyd deur die liefde, ook die vermanende, selfs strenge liefde, bepaal word.

Die tweede is dat die gedagte van die hel veel minder in die Bybel voorkom as in die gedagtes van baie gelowiges in ons tyd. Daar is vele boeke in die Bybel wat niks oor die hel skryf nie. Die hel is die mineurtoon, ‘n begeleidende noot, in die Bybel se taal: dit funksioneer om mense bewus te maak daarvan dat hul dade gevolge het. Wie vernietigende leef, sal daarvoor die prys betaal.

Derdens, praat die Bybel steeds in beelde oor die hel. Hoe moeilik dit is om hierdie beelde te begryp word duidelik uit die feit dat die hel somtyds as die buitenste duisternis (die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande; Mt. 13:38; 21:43. Mt. 22:13; 25:30) geteken word en ander kere weer, totaal anders, as ‘n brandende vuur (Op.21:8). Sekerlik is dit totaal onmoontlik om dit letterlik te verstaan – want daar kan nie duisternis wees waar daar vuur is nie.  

Vierdens, en in lyn met my nadenke oor vreugde in die Bybel, is Jesus se bediening deurtrek met ‘n blye boodskap: die evangelie, die goeie nuus. Vreugde kenmerk Jesus se lewe en woorde – en nie verlekkering of misplaaste sadisme oor mense se ewige lot nie.

Die oorheersende toon van die Bybelse boodskap soos dit in Jesus se lewe beliggaam is, is van ‘n genadige, liefdevolle God wat selfs na slegte mense uitreik. So gefokus was Jesus hierop dat sy teenstanders woedend vertel het dat hy ‘n dronklap was wat net uit was daarop om plesier te soek. In Lukas 7:34 (vgl Mt. 11:19) staan: Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is 'n mens wat 'n vraat en ‘n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.

Min mense bedink hoe skadelik 'n preokkupasie met die hel kan word. Behalwe dat so 'n preokkupasie godsdiens bevorder wat op vrees gebou is, kan die fokus op die hel as ewige strafpoel bedenklike geestelike gevolge vir mense inhou. Dit is verstandig om die Bybel te volg in sy fokus op die evangelie van vreugde en vryheid en nie te diep rond te krap in die donker en dreigende beelde oor die skadukant van die lewe nie. 'n Mens kan geestelik ongebalanseerd raak deur 'n preokkupasie met die hel. 


Hier is die artikel in Trouw:

Kan een liefhebbende God werkelijk mensen in eeuwige verdoemenis storten? Evangelicaal Amerika is er niet meer zo zeker van. Een nieuwe documentaire brengt de verschuiving in kaart.

God is volgens Bell niet zo gruwelijk dat hij mensen naar een eeuwigdurend strafkamp stuurt. In Hellbound? zoekt filmmaker Kevin Miller naar wat de hel vandaag de dag precies inhoudt. Zo bezoekt hij christenen voor wie het idee van eeuwige bestraffing een onmisbaar deel van het geloof in Jezus is. De film draait vanaf deze maand in Amerikaanse arthousebioscopen.

'Bestaat de hel?', vraagt Miller zich af in de ondertitel van Hellbound af. 'Zo ja, wie komt er terecht?'

Millers' aanleiding: het geloof in de hel lijkt in de Verenigde Staten niet meer zo alomtegenwoordig als voorheen. Auteur en dominee Rob Bell gooide vorig jaar de knuppel in het hoenderhok met zijn boek Love Wins, waarin hij min of meer stelt dat niemand na zijn overlijden zal knetteren in hellevuur. In Nederland verscheen het boek onlangs onder de titel En de meeste van deze is... Liefde.

God, zo meent Bell, is simpelweg niet zo gruwelijk dat hij mensen naar een eeuwigdurend strafkamp stuurt. Daarmee is niet gezegd dat de hel niet bestaat. Armoede, AIDS, andere (gruwelijke) vormen van lijden: ze laten zich niet ontkennen en zijn letterlijk de hel op aarde.

Met die opvatting gaat Bell in tegen veel Amerikaanse protestanten die geloven dat God beslist welk leven men na de dood verdient. Ook Jezus missie draaide volgens velen om die kwestie: Gods zoon kwam op aarde kwam om zichzelf te offeren. Door te sterven en op te staan overwon hij de dood en zorgde hij dat (een aantal) zondaars weer kans maakte op eeuwig leven na de dood.

De hel was belangrijk voor die theologische opvatting. Zonder de mogelijkheid van eeuwige verdoemenis staat er immers niets op het spel. Voorgangers en stromingen die weinig zagen in deze opvatting zijn er altijd geweest, ook in Amerika.

Opvallend is dat Bell komt uit een kring waarin doorgaans weinig aan de hel wordt getwijfeld. Zo studeerde hij aan een seminarie waar ook veel bekende evangelicale voorgangers zich lieten opleiden.

Ketter
Vanzelfsprekend is niet iedereen gelukkig met Bells opvattingen, te meer omdat hij met zijn boeken, theatertours en theologische video's een groot publiek bereikt. In evangelicale kring werd het afgelopen jaar volop gediscussieerd over de vraag of Bell een ketter is.

Wie niet gelooft in de 'hel na de dood', was de gedachte bij sommigen, kan ook niet serieus in God geloven. Onzin, vindt Bell op zijn beurt. Het geloof in een aardse hel moedigt juist aan om te zorgen voor zij die lijden - precies waar het Jezus om te doen was.

Filmmaker Miller - ook christen - zoekt met Hellbound naar een soort middenpositie. Hij las alle bijbelse verwijzingen naar de hel en concludeerde dat eenduidigheid ver te zoeken is. Het geloof dat God beslist wie het na zijn overlijden goed krijgt en wie eeuwig moet lijden is een theologische constructie, meent hij. Amerika kan best iets minder hel gebruiken.

Thursday, September 27, 2012

Vreugde bring vrede bo alle verstand

Die afgelope tyd bedink ek hoe belangrik vrede in Bybelse spiritualiteite is. 

Die ondertoon hiervan bly steeds om te begryp watter rol vreugde vandag kan speel in mense se geestelike pelgrimsreis.

Vreugde is immers 'n sleutelwoord in spiritualiteit. 

Mense se gedagtes kan dikwels vashaak op hul  teleurstellings, lyding, pyn en seerkry. Hulle ruim vir hierdie donker emosies veel plek in hul lewens in. 

Dit is goed, want die lewe bestaan nie net uit goeie dinge nie. 'n Mens moet immers ook rekening hou met die donker kante van jou bestaan en volwasse daarmee kan omgaan.

Sommige terapeute sê dit is belangrik om deur sulke ervarings te werk, juis om die impak op ons en die gevolge daarvan te beperk of te transformeer.

Maar lank, lank kan ons besig bly met die donker kante. 

Hieraan dink ek die afgelope tyd as ek onthou hoe Paulus sy lesers vra om bly te wees. 

Hy skryf in Filippense 4:4:  "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!" Hy skryf dit uit die tronk, bewus van die donkerte van sy toestand. Dit is nie goedkoop raad nie, asof hy eenvoudig donkerte en swaarkry ignoreer of onderdruk.

Hy wil ook verby die donkerte, die swaarkry na wat groter en duursaam is. 

Dit is dringend, hierdie raad van Paulus om bly te wees. Hy herhaal sy opdrag, daarom, asof die lesers dalk net te maklik daaroor gaan lees. 

Paulus gee in hierdie deel prakties raad oor hoe 'n mens jou op die goeie dinge instel. Hy noem 'n hele lys van dinge waarop 'n mens jou instel. Wanneer dit alles gebeur, ook die fokus op die vreugde, skryf hy in vers 7, "sal die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."

Jy moet jou kan inoefen in blydskap. 

Ek sien Anselm Grun skryf dat dit 'n goeie geestelike oefening kan wees om jou terug te dink in watter goeie dinge van die verlede vir jou vreugde verskaf het.

Dit is praktiese raad: watter tye, voorheen, was jy bly, uit jou vel, vol vreugde, innerlik vervuld met blydskap?

Dan kan jy daardie vreugde weer oor beleef.

As mense maar met hul vreugdes so besig sal wees soos met hul pyn en teleurstellings, word ons geslag veel gesonder mense. 'n Mens kan jou immers moeilik inleef in vreugde sonder dat dit oorspoel in jou hede. Net om aan vreugde te dink, bring 'n mens al in die lig.

Uiteindelik, as 'n mens jou hierin inoefen, bring dit jou in die vrede van God... 

'n Mens kan seker nie hieroor voorskriftelik wees nie. Spiritualiteit gaan immers oor die oop ruimte wat elke mens op sy of haar eie intree om uiteindelik op sy of haar manier 'n spesifieke reis met God af te lê. Elkeen sal vreugde uniek beleef. En vreugde sal nie noodwendig 'n oppervlakkige, sentimentele soet glimlag-bestaan wees nie. 

Dit het die vorige besinninge in die blogs al gewys: vreugde is veel eerder die diepe wete dat te midde van al 'n mens se omstandighede, hoe haglik ook al, 'n mens in God se wil leef.

Dat 'n mens vreugde kan vind, ook in die tronk, in tye van rou en dood, staan vas. Die vraag is nie of dit kan gebeur nie. Die vraag is eerder of 'n mens dit wil laat gebeur. 



Wednesday, September 26, 2012

Die sakdoek in plaas van die doodskoot. Oor die sagte kant van oorlog.




In die bekende fotograaf, Obie Oberholzer, se merkwaardige foto-boek: Long Ago Way, het hy ‘n foto van die boere-soldaat by die Kruger-monument op Kerkplein in Pretoria.

Die boek het, soos 'n mens kan verwag, die allerbeste foto's, geneem deur een van ons land se voorste fotograwe. 

Maar dit is Oberholzer se vertellinge aan die ander kant van sy foto's wat my boei.  Op een bladsy publiseer hy sy foto en aan die oorkant, op die ander bladsy, gee hy die interessantste inligting, gevatte kommentaar, of, soms diepsinnige insigte. Sosiale, politieke, godsdienstige en kulturele kommentaar vorm 'n ryke kaleidoskopiese leserservaring. 

Wat my veral boei is die spirituele insigte wat Oberholzer se kommentare by tye oplewer. Hy, erg krities teenoor die kerk van sy jeug weens die genadeloosheid in die preke van sy destydse dominee, asook duidelike afkerig aan die apartheidsverlede met sy droewige onmenslikheid, wys sy lesers by tye die ligte, lig kant van die menslike gees.

Hy vertel in sy historiese oorsig, byvoorbeeld, drogerig, hoedat die standbeeld van Kruger deur die koloniale Kitchener as oorlogsbuit na Engeland geneem is (in 1902).  Die beeld het nogal 'n hele geskiedenis.  Na vele omwentelinge het die beeld uiteindelik in 1954 op Kerkplein beland.

Maar Oberholzer met sy skerp, oplettende oog, stel minder in Kruger se standbeeld as in die standbeeld van die soldaat aan sy voete belang. Sy foto wys nie Kruger se beeld nie, maar die soldaat wat verlangs tuur.

Die beeld van die starende soldaat laat hom dink, skryf hy in sy boeiende byskrif by die foto, aan sy oupa wat ook dikwels so in die verte gesit en staar het.

Op die punt onthou Oberholzer verder: 

Somtyds het sy oupa sy bewerige hand op sy skouer gesit en vir hom vertel van sy wedervaringe as kommando-ryer saam met Generaal de Wet.

Sy oupa, onthou hy, het ‘n koeëlmerk langs sy voorkop gehad en boonop, voeg hy by, kon sy neus heen en weer beweeg.

“Oupa”, het hy op ‘n keer gevra, “vertel my wat met daardie neus gebeur het. Hoe kan oupa dit so rond-beweeg?”

Met ‘n glimlag vertel sy oupa hom toe hoe hy op ‘n keer in ‘n skermutseling met Engelse betrokke was en deur sy neus geskiet is. 

Hy het koers gekies na ‘n spruit om die bloed af te was.

Skielik het ‘n Engelse offisier op die wal bokant die spruit opgedaag.

Oupa was duidelik benoud: “Ek het my oë toegemaak en gebid, want ek het gedink laat ek dan maar eerder in die teenwoordigheid van die Here  sterf.”

Toe hy weer opgekyk het en besef dat hy nog in die lewe is, sien hy die offisier van sy perd afklim, die wal afklouter, afbuig en vir hom sy gevoude sakdoek aanbied.

Oberholzer skryf: “My oupa het stil geraak, asof hy in sy gedagtes kerse aansteek van vergete herinneringe."

En dan, sy gerekonstrueerde jeugdige karakter: "Ek het my hand in sy hand gesit en dit saggies gedruk.”

Ek lees die storie en bedink: Van jonks af, dus, is Oberholzer die oplettende waarnemer. Maar ook die een wat omgee. 'n Oupa-kind. En duidelik 'n oomblik van intensiteit. Oupa wat die dood in die oë staar, jare daarna nog getraumatiseer, met kleinboet wat weet en aanvoel van angs.

Sy oupa, skryf hy, hervat die vertelling oor die Engelse soldaat: “Sy sakdoek was so wit, so mooi, skoon en wit. Ek het gedink wit sou die laaste kleur wees wat ek sien voor die swart wat sal kom wanneer die koeël my tref."

Die wit sakdoek was besig om rooi te raak van die bloed.

Oorlog, besef ek by die lees van Oberholzer se vertelling, wys sy genadelose gesig veral in angs. 

Maar toe salueer die offisier en sê: “ 'Ek is so jammer, boere-soldaat, dat ek jou deur die neus geskiet het.' Toe het hy op sy perd geklim en weggery, terwyl ek agtergebly het met my rooi sakdoek langs die Wilgeboomspruit.”

Oberholzer sluit die storie af: “Toe het ek vir die eerste keer verstaan waarom my Oupa so in die verte gestaar het, net soos die soldaat op Kerkplein.”

‘n Boeiende storie oor menslikheid, selfs in tye van oorlog… 

Spiritueel vertel. In nadenke oor wat mense mekaar aandoen, en nie aandoen nie...

Tuesday, September 25, 2012

Vreugde in God se ontferming. Oor 'n spiritualiteit van vreugde (8)

Bybelse Spiritualiteit kan nie verstaan word as ‘n mens nie besef dat vreugde daarin ‘n sleutelrol speel nie.

In Lukas 15 is daar drie gelykenisse oor ‘n verlore seun, ‘n muntstuk en ‘n skaap. Dikwels word die verlore seun byvoorbeeld as ‘n bekeringsverhaal gelees – wat dit ook is. Tog is dit ‘n verhaal wat veel dieper inhoud het as bloot net ‘n bekering van ‘n sondaar.

Dit is veelseggend dat hierdie verhaal van die verlore seun oorloop van vreugde. Vrolikheid oor die ommekeer in die verlore seun se lewe word herhaaldelik en baie intens oorvertel in verse 23, 24, 29, 32. Die gelykenis eindig met die opmerking van die pa dat die vrolikheid gaan oor die seun wat dood en verlore was, maar lewend gevind is. Dit is dus ‘n gelykenis van vreugde oor God se ryke gawe van die lewe, oor God wat die dood en verlies kan ombuig in die lewe en in ‘n fees.

Al drie hierdie gelykenisse word vertel as ‘n reaksie op die verwyt van die Fariseërs dat Jesus sondaars ontvang en met hulle eet. Vir hulle, in hul toewyding en godsdienstigheid, was hierdie solidariteit met sulke mense ondenkbaar.

Jesus antwoord op die godsdienstigheid heel direk. Hy wyk nie ‘n duim terug nie. Wat hy doen in sy uitreik na ongerekende en onrespektabele mense, sê hy helder en duidelik, is gedryf deur sy begeerte om “verlorenes” te vind. Sondaars het weggeraak, verdwyn in die wye ruimtes van verwerping en verval. Jesus sien hierdie mense in hul nood raak. Hy kyk verby hulle sonde en wetteloosheid. Hy herken in hulle mense wat eintlik by God hoort en eintlik by God wil wees. Hy is bly as hulle ook uiteindelik hul weg na God terugvind.

Jesus doen egter meer as om net oor verlorenes te praat: om sulke verlorenes te vind, redeneer Hy, lei uiteindelik tot egte vreugde. Want wat is aangrypender as dat mense wat in die donkerte van die kwaad verdwaal het, terugkom na die lig. Hulle vind hul tuiste waar hulle hoort.

Jesus wil met sy lesers oor egte vreugde praat. Egte vreugde is om saam met ander by God fees te vier. Egte vreugde word gebore uit die wete dat God die onmoontlike doen – God skep lewe uit die dood, God soek en vind die verlorenes.

In Lukas 15:5-6 vind die man sy een verlore skaap, sit dit “met blydskap” op sy skouers. Tuis sê hy vir sy vriende en bure: “Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.” Die vrou wat haar muntstuk kry, doen dieselfde met haar vriendinne en bure (Lukas 15:9). Die pa van die verlore seun sê ook dat sy diensknegte fees gereed moet maak sodat hulle vrolik kan wees (Lukas 15:22-24). Die verlore seun is gevind. Dit is rede om vrolik en bly te wees (Lukas 15:32).

Jesus ontferm hom oor die armes en die verlorenes. Hulle wat nie hoop het nie, kan sy teenwoordigheid geniet. Geen verwytende vinger van beskuldiging word na hulle kant geswaai nie. God gee ook aan hierdie vervallenes, uitgeworpenes ‘n plek waar hulle kan gaan rus. Dit is suiwer ontferming. Dit is pure omgee. Dit is genadige uitreiking.

Jesus doen nog meer. Hy vertel dat daar in die hemel en by die engele van God ook blydskap is (Lukas 15:7 en 10). Dit is wat God wil – dat alle mense sal terugkom huis toe en weer eens geborgenheid ervaar. En dit kan gebeur deur na hulle uit te reik, vir hulle om te gee, aan hulle vergifnis aan te bied, deur nie te verwyt en verder te verguis nie, deur hulle met rykdom te beklee en met liefde tuis te laat voel. God bring hulle in in die groot Fees. Uiteindelik, einde ten laaste, kom die groot nuwe tyd. Mense stroom terug en vind hul blydskap in God. Op aarde en in die hemel sal daar groot vreugde wees.

Dit is die hemelse perspektief: vreugde kan gevier word waar ongerekendes waardig op genade en feesviering geag word.  

Teenoor hierdie vrolikheid oor die lewe en oor die terugkeer van die verlorenes, staan die totale gebrek van die Fariseërs en die Oudste Seun. Hy staan “kwaad” buite die huis waar feesgevier word (vers 28). Meer nog: in sy lewe het hy nooit kans gehad om vrolik te word nie (vers 29). Barton vestig die aandag daarop dat sy optrede baie ooreenstem met die Fariseërs wat staan en “murmureer” oor Jesus se vrolike gekuier saam met die sondaars. 

Hier is koue harte, leeg aan die teenwoordigheid van God en vol van eie vroomheid. Koud, kwaad en krities is die mens se lewe wat nie 'n hart van ontferming kan herken en hê nie. 

Vreugdeloosheid en godsdiens gaan dikwels hand aan hand. Vir baie jare kan ‘n mens in die vaderhuis getrou werk en leef, maar nie ‘n dag lank enige blydskap ervaar nie. “Ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie” (vers 29). ‘n Mens kan jou gees versmoor onder allerhande goeie en mooi goed wat jy “moet” doen. Al die tyd staan jy buite die feesmaal, bitter en verwytend oor die goeie dinge wat ook uitgedeel word aan ander, aan die sondaars, wat besef het hoe hul hul eie lewens verwoes het.

Wat gaan fout?  Die fout kom in wanneer ‘n mens swoeg en sweet, goed doen, beloning soek, vroomheid begeer en dan in die proses wil verdien wat jy reeds het. 

Wanneer ‘n mens sien hoe geseënd jy is, watter oneindige gawes jy geniet deur by die Vader te kan wees, dat 'n mens uit genade alles besit wat die Vader het, kom die vrolikheid. Maar as ‘n mens alleen maar jou eie vroomheid en ander se slegtheid bekyk, kyk ‘n mens maklik die goedheid mis van die Vader, die guns wat so ryklik vir almal daar is, vir jouself ingesluit - en dan kom die onvergenoegdheid, die woede en die afguns. 

Egte vreugde is om by God te wees en dankbaar bly te wees wanneer ander ook die goddelike teenwoordigheid opsoek en vind.  

Dit is die blye evangelie: 'n Mens vind vreugde in God se teenwoordigheid. 

 

Monday, September 24, 2012

Vreugde kom op uit ‘n hart wat een is met God.

Seën op hul arbeid. Die oes is ryp en sukses met die inbring daarvan bly nie uit nie. Hulle harde werk het vrugte afgewerp.

Dit alles is al goeie rede om bly en opgewonde te wees.

Hieroor praat Lukas in ‘n belangrike deel van sy Evangelie. Jesus se dissipels keer, vol van blydskap, terug van die sendingwerk wat Hy vir hulle gegee het, skryf Lukas.

Hulle het merkwaardige, ongelooflike dinge sien gebeur soos hulle uitgegaan het as getuies. Hulle geloof word versterk. Hulle verhouding met Jesus verdiep. Hulle sien en herken verborge, spesiale dinge.

In Lukas 10:17-24 vertel die 72 dissipels “vol blydskap” hoe selfs die bose geeste hulle onderwerp het by die hoor van Jesus se Naam. Hul kan met verbasing en met vreugde sien hoe besonders hul sukses was.

En tog, daar is nog onvolmaaktheid: Kyk  hoe hulle daaroor praat: die bose geeste onderwerp hulle aan “ons,” sê hulle – al erken hulle darem dit gebeur by die hoor van Jesus se naam. Al te naby is die klem op hulself, op eie roem. Hulle weet dat hulle op een of ander manier deur Jesus magtige dinge doen, maar dit is asof hulle dit nie ten volle begryp nie.

Hul blydskap word deur Jesus in die regte rigting gestuur: nie een van hulle moet te veel roem nie. Steeds moet hulle onthou dat die mag aan hulle gegee is. Sag, aanporrend, bring Jesus, die mistagoog, die geestelike vriend op die kronkelpad van die geloofsreis, hulle tot dieper insigte en tot groter verstaan.

Jesus gaan nog verder: Selfs al is hulle bewus dat Jesus hulle bemagtig het en erkentlik teenoor God daarvoor, is dit nie die sukses van hul werk wat saak maak nie. Wat tel is dat hulle name in die hemel opgeskryf is.

Die egte vreugde kom op uit die wete dat mens uiteindelik deur God onthou word, by God hoort en vir altyd in God se teenwoordigheid is.

Blydskap is altyd en veral in God gevestig. Om tog net in God se teenwoordigheid te kan wees - dit is waaroor alles gaan.

Daar is ook ‘n ander prentjie as Lukas se vertelling oor die dissipels se vreugde. Lukas vul hierdie verhaal aan met ‘n ander een oor Jesus se blydskap. Jesus doen wat die dissipels nie doen nie. Terwyl hulle verbaas en bly is oor hulle spesiale en magtige dade, is Jesus biddend met God besig. Hy onthou van wie alles kom. God is aan die werk en God se bedoeling word daarin ‘n werklikheid.

Vir Lukas is Jesus se gebed ‘n teken van die werking van die Heilige Gees. “Deur die Heilige Gees” het Hy dit “uitgejubel”: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” Die tyd van verlossing, die tyd waarin die Gees mens en wêreld kragtig transformeer, is uiteindelik daar. Dit is ‘n tyd van blydskap in die Here.

 In ‘n intieme gebed, gee Jesus vir God erkenning oor alles wat gebeur het. Terselfdertyd is Hy uitbundig bly omdat die tyd waarna almal uitgesien het, al vir eeue lank, uiteindelik in Hom vervul is. Hy is vol vreugde omdat sy lewe uiteindelik die wil en begeerte van God weerspieël. Wat Hy doen en wat sy dissipels oor Hom getuig, is God se openbaring van die eindtye.

Egte blydskap is veral waar ‘n mens jou heil in God vind en ontdek dat jou lewe in diens van God is - dat wat tel, nie jou sukses en jou krag is nie, maar God wat alles moontlik maak.  

 Die dissipels is bly, want hulle deel in God se werk. Jesus is uitbundig gevul met vreugde, want die nuus bevestig aan Hom dat Hy self die weg is waardeur God aan die werk is.

Om bly te wees, is die gevolg van ‘n mens se innerlike vervulling, gevoed deur die wete dat ‘n mens in alles wat gebeur, God se wil vir ‘n mens se lewe kan uitleef. 

Vreugde kom op uit ‘n hart wat een is met God.








Sunday, September 23, 2012

Vreugde steek alle grense oor. Oor 'n spiritualiteit van vreugde (6).

-->


Lukas is veral bekend as die evangelie van vreugde. ‘n Kwart van alle verwysings na vreugde kom in hierdie boek voor.

Reeds heel van die begin van die boek is die prominente plek van blydskap daarin opmerklik.

Lukas vertel hoedat Jesus se geboorte uitdruklik met besondere blydskap verbind word. Die engel sê byvoorbeeld vir die skaapwagters oor Jesus se geboorte: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is” (Lk.2:10).  

Nie net Jesus se geboorte staan in die teken van blydskap nie. Selfs sy voorloper, Johannes is iemand wat, soos die Grieks wys, met driedubbele blydskap verbind word. Die engel sê aan Johannes die Doper se pa: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14 Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte.”

Maria se groet aan Johannes se ma, laat haar kindjie “in vreugde” beweeg (Lk.1:46). En, volgens Lukas 1:58 was die bure en familie saam met haar “bly” oor die Here se groot ontferming oor Elisabeth.

Jesus se geboorte is die groot oomblik van blydskap: dit is die tyd van die Messias wat aan die volk verlossing bring. Wanneer mense bly is oor hierdie nuwe tyd wat God laat aanbreek, wys dit dat hulle reageer op God se dade en dat hulle harte ingestel is op wat God doen. Die blydskap sal die “hele volk” raak (Lk.2:10). Hulle vreugde wys hoedat hulle lewens geraak word deur wat God doen. Hulle stel hulle self oop vir die nuwe dade van goedheid wat God vir mense doen.

Maar daar is meer. Vreugde is vir Lukas radikaal, juis omdat alle mense, wie hulle ook al is, daarin kan deel. 

Barton skryf dat dit opvallend is hoedat Lukas veral die armes en nederiges beskryf as mense wat vol blydskap oor die koms van Jesus is. Dit is mense soos die skaapwagters en vroue. Die blye boodskap kom ook nie net na die belangrike stad Jerusalem en die tempel nie, maar ook na Nasareth en Bethlehem in Galilea, ‘n klein dorpie in die platteland. Vreugde is nie beperk tot sekere mense nie. Dit spoel oor en raak alle mense, selfs die nederigstes onder hulle.

God se vreugde word nie ingeperk nie. Hoe gering ook al, word mense geraak deur die innerlike opwinding oor die goeie wat oor hul lewenspad kom. 

Lukas wil duidelik maak dat God oor alle grense heen vir mense wil bly maak. Meer nog: die groot tye, die belangrikste van alle oomblikke, is die ligte tye, die sagte oomblikke van innerlike blydskap en vreugde. As 'n mens die nuwe tyd binne gaan, so onbekend in baie opsigte, hoef daar nie kommer te wees nie. Dit is immers 'n blye tyd, 'n tyd van groot vreugde. 



Blog Archive