Die geskenk
Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
-->
Deur die blou van die beminde se oë kry die
digter deel aan die blou van die hemel, die ver rante, die skemering en ‘n blom
tussen groen gras (“die dromerige rookblou van ver rante!).
Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
ook die
meerblou lug tussen wit wolke-oewers het
myne geword,
die dromerige
rookblou van ver rante,
die pêrelblou
van die skemering
en die
roekelose blou van ’n blom tussen groen gras.
Jy het my meer
gegee as die beroering van jou hande:
die lug het
teerder om my gevloei,
die aand het
my inniger as voorheen ontvang in sy
koele omhelsing
en die wind
het gaan lê op my bors.
Jy het my meer
gegee as die besorgdheid van jou
stem:
die bome het
hul takke behoedsaam geneig
en die sterre
het hulle rondom geskaar soos wagte.
Jy het my meer
gegee as die drang van jou bloed:
die warm krag
van die aarde het deur my gestroom,
die sap wat
lentebotsels uitstoot het gepols in my
are
en die Ewige
Lewe het ontkiem in my skoot.
Jy het my meer
gegee as die droom van een nag:
al die verlore
drome van my kindertyd het terug-
gekeer
en in my oë
het jy sterre aangesteek,
te helder om
te vlug vir die daglig.
Alles
wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde
was, het jy my gegee.
Jy
het my meer gegee as jou liefde:
die
guns en die liefde van God.
Hierdie gedig van Elizabeth Eybers het 'n mistieke kwaliteit: die liefde wat 'n mens van die minnaar ontvang open wêrelde van nuwe, wydse ervaringe. Dit wat voorheen verborge was, of ongemerk was, selfs verlore was, kom deur die liefde terug, word deur die liefde anders beleef.
Die liefde maak 'n mens bewus van oneindigheid, van die Ewige Lewe, van die guns en liefde van God.
Die liefde, so konkreet soos blou oë, hande wat aanraak, 'n sorgsame stem, is ook die liefde wat 'n mens laat droom, wat 'n mens teer en innig laat beleef, wat 'n mens veilig laat voel.
Die vrug van die liefde, die vervulling van die drang van die bloed, is die Ewige Lewe. Dit bly vir altyd. Dit bring verlore drome terug, lank gelede gedroom, in 'n mens se kindertyd. Dit bring selfs die toekoms, dit wat nog ongevonde was (!), as 'n geskenk met hom mee.
Groter as die liefde, die liefde van die minnaar, die konkrete liefde tussen twee mense, is die geskenk wat dit aan 'n mens gee - die liefde vertel van die guns en die liefde van God.