M.M. Walters skryf die volgende gedig in sy digbundel, Sprekende van God, oor die merkwaardige vyftiende eeuse mistikus, Dionisius die Kartuiser. Dit is die eerste van ses gedigte wat saam onder die titel Sanctus voorkom.
Hy dig daarmee sy siening van heiligheid.
'n Boeiende gedig. Ek wil meer daaroor nadink.
Dionisius die Kartuiser
Is dit omdat jy groot en sterk en
bruin was?
Want ek verdra die bleekgesig
entoesiaste moeilik:
die oë wat brand en gluur, pynlik
deurtrek
en versadig van
Christus-aan-die-kruis,
die dun lippe wat vertrek in
skuimende welsprekendheid,
die stem, die styl van dreig en
onverdrae,
en die ekstase, soet wyn van die
engele -
maar jy was anders.
Ek sien jou eet: die hompe brood,
die haring sout gekoek tot in die
kiewe -
jou groot voete oor die
marmerstene van paleise
waar jy stotterend praat maar
onbevrees
voor prinse staan. Die
aristokratiese keffers
kan maar blaf: die knusse
geestelike verkeer
van oorgevoelige verkrimpte
mannetjies
het jy nooit geken nie.
Ek sien jou nou skryf: nagte lank,
die gansveer
fyn en krysend in jou growwe hande
-
geen aangrypende skildering van
verskrikking
maar die heiligste gedagtes,
eenvoudig
vir die eenvoudiges van gees.
En dan die duiwels wat op jou
toesak
in hul pylstert-troppe: die man
moet sterk wees
wat teen duiwels uittrek met 'n
stok
soos 'n verwoede boer- vooruit
met die enigste wapen wat hy ken.
Wat maak die verguising van die
wêreld saak?
Jou skouers was breed genoeg
om ook die las te dra - voorwaar
min heiliges het soos jy geloop:
regop deur die donker eeue.