Wysiwyg:
“what you see is what you get.” So lui ‘n akroniem in die rekenaarwêreld.
Wanneer ‘n mens op ‘n rekenaar werk, weet jy presies hoe die eindproduk lyk
deur na die skerm te kyk.
In
Spiritualiteit werk dit anders. Op jou geestelike reis ervaar ‘n mens
maar altyd baie dinge.Maar
wat jy sien is nie altyd wat die eindresultaat gaan wees nie.
Daarom
vra dit van ‘n mens die gawe van onderskeiding - die gawe om te onderskei waarom alles regtig gaan.
Die
lewe kan bedrieglik wees. Op die oppervlakte lyk dinge normaal, mooi en
aanloklik; of dit lyk gevaarlik, swak of moeilik.
Maar
as jy die dinge versigtig begin bekyk kom jy agter dit is nie so normaal, mooi
en aanloklik nie. Of wat gevaarlik lyk, is onder die oppervlakte dalk genesend
of ‘n manier om te groei.
Spiritualiteit
met sy fokus op die geestelike dimensie van die menslike bestaan in die wêreld,
beklemtoon steeds dat ‘n mens “dieper” moet kyk as die oppervlakte.
Altyd
weer moet ‘n mens besef dat alles wat ‘n mens beleef ‘n geestelike betekenis
het wat nie altyd maklik herkenbaar is nie.
‘n
Mens moet deur die oppervlakte kan dring om by die geestelike impak van dinge
uit te kom.
Hier
kan ‘n mens van Jesus leer:
‘n Mens
kan, soos Jesus se opponente, die wet van die Here tot in die fynste detail
letterlik gehoorsaam en selfs liefhê.
Maar as
jy mooi kyk, soos Jesus, sien jy hoedat wetsgehoorsame mense nogtans sonder God
leef. Die wetsgehoorsaamheid is maar net ‘n fasade. Dit is die masker van ‘n
liefdelose lewe.
Neem
‘n voorbeeld: Wat saak maak, sê Jesus, is nie dat ‘n mens op die sabbatdag die
sabbatswette onderhou nie. Wat saak maak is dat hierdie sabbatswette steeds
weer vir ‘n mens nader aan God en aan ander mense moet bring. Die sabbat is ‘n
dag vir rus in God se liefde.
As
iemand egter op die Sabbatdag by jou aankom en hulp vra, weet jy, as jy in God
se liefde woon: daardie persoon se trauma vra van jou om alles te gee, al is
daar dinge wat op die oppervlakte in jou pad staan.
Daarom,
bevestig Jesus, gaan dit in die wet steeds weer om die Goue reël: die Liefde.
Die liefde is dit groot opsomming van die wet. Altyd weer moet die wet in diens
staan van die dieper, belangriker mag van die liefde.
Nooit
kan jy die liefdevolle God in jou menslike sisteem probeer vasvang nie. Om te
glo, bring by jou ‘n oop lewensstyl, waarin ‘n mens steeds weer soek om as ‘n
veranderde mens God se wil en liefde vir ander uit te leef. Niks, geen wet,
geen uiterlike voorskrifte keer die liefde nie. Die wet kan nie ‘n tronk word
waarin die liefde weggesluit word nie. Altyd weer is die liefde die grootste.
Wie
in die liefde woon, woon in God se teenwoordigheid.
Wat Jesus
oor die Wet gesê het, geld ook ten opsigte van ons houding vandag oor die
Bybel. ‘n Mens kan die Woord van God lees en leer, maar sonder om God self te
ken en sonder om by God te wees. Wie deur sy of haar siening van die Bybel
ander verwerp, veroordeel en verdoem, leef byvoorbeeld nie in God se liefde en
teenwoordigheid nie. Vandaar Jesus se beroemde uitspraak in Matteus 7:7.
Van
die vroegste tye af het spirituele mense beklemtoon dat die Bybel ons in die
teenwoordigheid van God bring. ‘n Mens kan egter so met die Bybel omgaan dat ‘n
mens nie by God uitkom nie. Dan hou ‘n mens aan die letter van die Bybel vas.
Dan hoor ons woorde, maar luister nie na die Woord nie, die stem van die God
van liefde.
‘n
Mens kan woorde oor God in die Bybel lees. Dit is nog lank nie om in God se teenwoordigheid te
leef en God se Stem te hoor nie. Dit is asof ‘n mens met
iemand se klere sit. Jy het genoeg om aan vas te hou. Maar dit is nog lank nie
om by die persoon te wees wie se klere dit is nie.
Goed is dit om aan die woorde vas te hou, die
Bybel te bly lees, wanneer dit ‘n mens by God self bring.