Wanneer 'n mens nadink oor die loon-gaping wat gedeeltelik agter die huidige staking sit (sien gister se blog), is daar 'n hele klomp sake wat 'n mens in ag moet neem.
1. Daar is persepsies wat die gewone publiek het en wat dikwels naïef is. Hierdie persepsies kan nie gebruik word om 'n oordeel te vel oor die regverdigheid en billikheid van stakers se optrede nie. Dit is byvoorbeeld oppervlakkig om te dink dat stakers bloot slagoffers is, dat hulle maar net 'n beter lewe wil hê, dat hulle nie soms gevaarlik intimiderend kan wees nie of dat hulle nie ook in sommige gevalle bloot net gierig is nie. Soms sou dit wel die geval wees by sommige stakers.
Aan die ander kant is ook die volgende sieninge problematies. Dat die stakers almal gewelddadig is, dat hulle "onwettig"optree (hulle neem aan onbeskermde stakings deel), dat hulle griewe oordryf is of dat stakings verkeerd is, is ook naïef en veralgemenend. Anders as wat ons dikwels in 'n Afrikaanssprekende konteks dink, is stakings 'n gevestigde gebruik met 'n lang geskiedenis in baie ontwikkelde lande. Dit is nie onwettig nie. Dit is 'n legitieme manier waardeur mense hul griewe aan die orde kan stel en vir hulle 'n beter lewe kan beding.
2. Die stakings wat tans aan die gang is, is deel van 'n komplekse werklikheid in ons land. Ingeligte waarnemers waarsku dat dit nie net oor die loongaping en armoede gaan nie. Daar is soms ook verborge agenda's wat die legitieme kritiek van werkers uitbuit vir politieke gewin. Hieronder tel 'n magstryd tussen vakbonde, of 'n politieke magstryd in die regeringsalliansie. Die saak is dus kompleks. Jan de Lange het byvoorbeeld onlangs 'n insiggewende rubriek geskryf waarin hy uitspel hoedat kenners maande gelede gewaarsku het dat die bestaande situasie rondom die loon-onderhandelingsopset en die vakbondwese gevaarlike konsekwensies vir die land mag hê. Hierdie kenners se pogings om die saak onder die aandag van owerhede te bring, het nie die nodige reaksie van hulle uitgelok nie. Juis omdat dit so kompleks is, moet 'n mens se uitsprake oor die saak ingelig en beredeneerd wees. Veral wanneer dit om die ekonomie gaan, is oordele van 'n spirituele en morele aard sleg nuttig wanneer hulle gebaseer is op goeie insigte.
3. Onaanvaarbaar, maar ook onverstaanbaar, is die geweld wat met stakings gepaard gaan. Solidariteit het vandag 'n media-verklaring met 'n sterk appel teen geweld in stakings uitgereik. Niemand kan op enige manier geweld, wat moorde op en deur die polisie insluit, maar ook moorde wat stakers pleeg, ignoreer nie. Skokkende berigte oor hierdie geweld het in die media verskyn. Niks, nie eers die woede van stakers oor hul desperate situasie, regverdig die geweld nie.
4. Die mynbase met hul groot salarisse kan gekritiseer word, maar kan nie gedemoniseer word nie. Ook hier is die situasie kompleks. Die media berig byvoorbeeld dat die myne in sommige gevalle groot somme geld beskikbaar gestel het aan plaaslike instansies om die allerellendige omstandighede waarin hulle werkers woon te verbeter. Die geld word nie bestee nie en die plekke word nie verbeter nie, want die plaaslike owerhede en instansies is ongeorganiseerd - dikwels weens onderlinge twiste oor wie wat moet doen, of omdat die kundigheid ontbreek.
5. Iewers moet 'n mens ook perspektief behou. Die loongaping en stakings is nie net 'n plaaslike verskynsel nie. Internasionaal is studies gedoen wat bewys hoe die top een tot tien persent van ryk lande se bevolkings meer besit as dertig prosent van die armes tesame. Terwyl mense op die onderste skaal van die inkomsteleer verarm of arm bly, word hierdie boonste groep teen 'n vinnige pas al hoe ryker. Wanneer 'n mens dus die loongaping kritiseer, is jy deel van baie groepe wêreldwyd wat sien hoe dat 'n sekere ekonomiese en finansiële bestel buitengewone slegte en negatiewe gevolge het. Ons land deel in 'n globale situasie en ly onder 'n bestel wat handuit geruk het. Die stakings by ons kry 'n ander kleur wanneer 'n mens sien wat in Griekeland en Spanje gebeur. Dit bly egter ontstellend dat die loongaping in ons land van die grootste in die wêreld is. Dit is nie 'n goeie prentjie nie.
6. In die debat is ook al, heel sinnig, opgemerk dat dit nie billik is om die regering as korrup en onbesorg oor die lot van die armes te beskryf nie. Bekende persone in ons land, in nie-regeringskringe, wys daarop dat die regering wel op groot skaal die armoede van miljoene mense verbeter het. Ook hierdie werk moet erkenning kry. Die verskrikking van korrupsie wat ons kultuur deursyfer, moet 'n mens nie blind maak vir die goeie werk wat wel gedoen word nie. Die wye voorkoms van die stakings is nie noodwendig 'n aanduiding dat dinge in die land niks verander het nie.
7. Die stakings het my in die afgelope tyd laat vra watter transformatiewe optrede nou nodig is. Watter verskil kan 'n mens maak? Daar is in ons land baie individue en kerke wat op groot skaal iets doen in hulle omgewing om die lot van armes te verbeter. Tog weet 'n mens nie altyd hoe sleg dit werklik gaan nie. Dus was ek bly om te sien dat iemand gevra het dat die media op 'n meer gefokusde manier en meer gereeld aandag gee aan die tema van armoede. Dit is belangrik dat meer berigte oor armoede verskyn sodat daar groter bewuswording daaroor sal kom en meer mense die omvang daarvan begryp en betrokke raak by die oplossing daarvan. Kerke kan dit ook doen, nie net deur projekte te organsieer nie, maar deur doodgewoon inligting deur te gee oor armoede en mense wat daaronder ly.
In al hierdie dinge leer Spiritualiteit my dat 'n mens steeds weer in ontferming, billikheid en met 'n sin van omgee meer betrokke kan wees. Spiritualiteit gaan immers om 'n lewe wat transformerend werk: watter verskil maak 'n mens in die plek en tyd waarin jy jou bevind. Spiritualiteit leer 'n mens ook dat dit nie oornag gebeur nie. Armoede is uiters kompleks. Dit sal veel vra. Maar daar is plekke in die wêreld waar armoede minder voorkom en meer opvangnette bestaan vir hulle wat swaarkry. Daarom gee 'n mens nie op nie. Dit is 'n proses van heling wat langsaam loop, maar wat nie gelaat kan word nie.