-->
In die tyd van die Renaissance was
skilderye met treurende mense om die liggaam van Christus ‘n gewilde tema. Die skilderye
is dan ook “Treurlied” of “Klaaglied” genoem.
Die Renaissance kunstenaar, Andrea Mantegna, dikwels beskryf
as een van die bekendste kunstenaars van sy tyd, het aan die einde van die
vyftiende eeu so ‘n treurlied geskilder.
Die skildery is tans in die Pinacoteca di Brera
in Milaan.
Die skildery teken die liggaam van
Christus wat op die koue marmerblad van ‘n lykshuis uitgestrek lê. Dit is ‘n
morbiede, donker atmosfeer wat daardeur geskep word. Die kunstenaar laat die
kyker aan die voete van Christus staan. Die toeskouer kyk “in” die skildery
in en dit is asof Christus werklik
horisontaal lê.
Dit is hierdie perspektief op die
liggaam van Christus wat so boeiend is en wat veroorsaak het dat ‘n horde
wetenskaplike artikels oor die skildery geskryf is. Dit is een van die
bekendste skilderye uit die Renaissance.
Die liggaam van Christus is dus
nie “realisties” geteken nie, want as ‘n mens regtig by die voete van so ‘n
liggaam sou staan, sou die voete groter en die kop kleiner wees. Tog lyk die
liggaam werklik, asof ‘n mens nou daaraan kan raak waar dit voor jou op die
blad lê.
Maar ek bedink, toe ek onverwags op die skildery afkom, eerder die uitwerking daarvan op my.
Hoekom hou ek op blaai toe die skildery skielik op my skerm beland?
Ek wil meer weet, oor die vonk in my.
Ek besef dit is die liggaam van Christus wat in 'n vreemde bad van lig omring en bestraal word.
In die skildery is daar ‘n ryke
spel van lig en donker. Daar is die donker agtergrond, die donker bottel met
olie wat vir die balsem van die liggaam gebruik is (regs bo). Daar is die
donker hoed van die vrou aan die linkerkant en daar is die donkerbruin hare van
Christus.
Die donker laat die omringende lig helderder op die retina brand.
Veral opvallend is die prominente
voue in die kleed om Christus se onderlyf. Lyne, lyne strek oor die breedte van die skildery, laat jou die lyne in die liggaam raaksien en laat jou voel jy is daar, by wat regtig gebeur.
Ewe realisties word die hande en
voete van Christus so geskilder dat ‘n
mens duidelik die spykermerke in sy hande (omgebuig) en voete kan sien.
Dan
is daar die sagte ligroos kleur van die kussing onder Christus se hoof en die
blad onder Christus se voete. Die sagte kleur omraam, saam met die donker
kleure, die skildery verder.
Deur hierdie spel van kleure staan
die doodskleur, die bleek, bloedlose kleur van Christus se liggaam uit.
Dit is ‘n skildery wat die “werklikheid”
van Christus se dood wil uitbeeld. Dit vertel wat werklik, daar in die stad, Jerusalem, gebeur
het. Die kyker word deelgemaak van die tyd net na Christus se dood, nog voor
die opstanding. ‘n Mens word in die geskiedenis teruggeneem wat lank terug
regtig gebeur het.
Aan die linkerkant van die
skildery is daar drie gesigte wat met ingehoue, maar tog rou smart na die
liggaam van Christus kyk. Sommige dink dit is Maria en Johannes, met ‘n derde,
deels verborge gesig was soms as Maria Magdalena geïdentifiseer word. Hulle is
duidelik aangedaan. Maar, anders as wat gewoonlik die geval is met sulke
skilderye, is hulle nie naby of raak hulle nie aan die liggaam van Christus
nie. Hulle is eerder op ‘n afstand. Hulle staan terug, asof verpletter, asof hulle die werklikheid wil weghou. Hulle steier terug onder die aanslag van wat hier gebeur.
‘n Mens weet: hier is iemand wat
gekruisig is en daarvoor die hoogste prys betaal het. Die gesigte vertel dit.
Mantegna vertel deur die skildery
die verhaal van lyding en Christus se gewilligheid om die lydenspad te loop.
Dit is geen bloedige werk nie. Ook
geen smartlike werk van rouklaers wat hulle op die liggaam gooi nie.
Dit is Christus wat dood is, werklik
gesterf het. Die Renaissance het immers steeds weer die realiteit onderstreep:
terug na die feite, terug na die geskiedenis as leermeester, terug na die
klassieke, ad fontes.
Dit laat die kyker verbysterd en
getraumatiseerd. Jy word deur die werklikheid oorweldig: Dit is wat kwaad doen.
Dit was dan wat gebeur het met die
Een wat alles gegee het. Dit is die raaisel. Die gesigte van Maria en Johannes
vertel dit. Kyk net wat het met hom, die gekruisigde gebeur. Ons is verslae en
gebroke. Hy is weg. By ons bly net skok oor, oor wat Hom oorgekom het.
Maar die Renaissance het ook verby
die kruheid van die feite beweeg en gesoek na die ideale.
Dus: ook in die skildery is daar
die ideale, die tipiese. En daarom is daar ook intimiteit, want daar is die gemeenskaplike,
die ewige menslike. Die treurendes vertel van hul noue verbintenis met Hom wat
dood is. Hul smart vertel juis hoe naby hulle aan Hom was.
Hulle steier terug, juis omdat hulle so naby aan Hom was. Daar is distansie, maar tog, hy is ook maar net weer 'n aanraking ver weg.
Hulle is steeds langs Hom, verlore
in Hom. Hulle het net oë vir Hom, vir Hom alleen. Alle oë is op Hom gerig. Hulle
herken in Hom hulle self.
Maar daar is meer. Daar is ‘n
wisselwerking tussen die lig wat op die liggaam val, die bleeklig, en ‘n sagte,
bleeklig wat die liggaam self uitstraal. Jy sien nie verrotting nie. Die liggaam is, mistiek, nog behoue.
So naby voel ‘n mens jou, in
hierdie donker, klein spasie, aan die Een wat hier lê. So naby, asof Hy nog
steeds daar is.
Daarom straal die skildery
intimiteit uit. Dit is ‘n intimiteit wat spreek van vereniging, wedersydsheid:
Wat Hom oorkom, kom ons oor. Wie Hy is, is ons. Hier staan ons, voor Sy
liggaam, aan sy voete.
Daar is skoonheid, daar is ‘n sin,
selfs in hierdie smartlike toneel. Dit
begin gloei in die gemoed van die toeskouer.
Die wete broei in die kyker: die estetiese, die Estetiese, sal duur en bly. Dit sal terugkom en oorwin. Dit sal die dood oorleef. Ons sal die dood teken, skilder en uitbeeld – en ons sal daardeur sê: die dood is swak. Swakker as die Lig, hoe bleek ook al, wat altyd weer sal terugkeer en die Donker sal wegdryf.
Die wete broei in die kyker: die estetiese, die Estetiese, sal duur en bly. Dit sal terugkom en oorwin. Dit sal die dood oorleef. Ons sal die dood teken, skilder en uitbeeld – en ons sal daardeur sê: die dood is swak. Swakker as die Lig, hoe bleek ook al, wat altyd weer sal terugkeer en die Donker sal wegdryf.
Mantegna het die skildery versigtig bewaar. Dit is, soos hy gevra het, by sy begrafnis uitgestal.
Kosbaar.
Kosbaar.