Sunday, October 21, 2012

Vreugde oor die Lig van Vuur.




Pinksterdag is die dag waarop die nuwe bedeling gevier word: mense ontdek dat in die oomblik van diepste krisis, wanneer die kruis ‘n swaar skaduwee oor hul lewens gooi, onvoorstelbare krag gevind kan word. God se manier is om mense te ontmoet om hul lydensweg om te keer in ‘n nuwe bestaan, gevul met nuwe drome, ideale, hoop… en blydskap.

Die lewe van Jesus staan met Pinkster sentraal: Wanneer Petrus op die dag met die teenwoordige mense praat oor Jesus, konsentreer hy veral op die opstanding as die antwoord op die kruis. Die opstanding het vir Petrus ‘n duidelike geestelike boodskap: dit onthul dat die dood geen houvas op Jesus gehad het nie (Hand.2:24).

Petrus moet hierdie spesiale gebeurtenis verder verduidelik. Hy verwys na Psalm 16:8-11. Hierdie Skrifgedeelte verduidelik vir mense dat reeds Dawid oor die magteloosheid van die dood gepraat het. Die Here sit aan God se regterhand en beklee dus ‘n spesiale posisie in God se teenwoordigheid. God se Heilige sal nie deur die dood oorwin word nie. Deur die eeue heen, dus, het die wat naby God was, steeds weer die voorlopigheid van die dood onderstreep.

In Jesus sou hierdie verwagting ‘n werklikheid word.

Vir Petrus is die voorlopigheid van die dood maar net ‘n donker kant van ‘n veel helderder lig wat met die opstanding oor God se wêreld aangeskakel is.

Petrus interpreteer daarom die opstanding as Jesus se verheffing tot die allerintiemste nabyheid by God.

Tog, nog meer, gaan die gedeelte nie bloot net om wat God in Jesus aan nuwe dinge doen nie. God se dade werk transformatief: dit bring nie net die lewe van Jesus tot vervulling nie. God keer ook die lewe van mense wat naby aan Jesus is, om. Die geestelike waarde van Pinkser is juis te vind in wat dit aan mense doen.

Die lewe ondergaan ‘n metamorfose wanneer ‘n mens dit vanuit die lewe van Jesus bekyk.

Vir Petrus val die klem immers in die getuienis ook op die menslike respons: Dawid verbind met sy siening dat God sterker is as donkerte, ‘n uitbundige vreugde: “my hart is bly” en “my tong juig” (Hand.2:26). Petrus hou hierdie aanhaling vol en sluit dit af met: “Daarom vervul U my met vreugde by U aangesig.” 

Want, Jesus se lewe bring ons by God, in die teenwoordigheid van die Verborgene, die Een wat sterker is, die Onpeilbare, die Oorwinnaar.

Vreugde is dus vir Lukas om bewus te wees van die goeie wat God doen. Tussen die donker moet ‘n mens die lig kan vind en herken. Selfs die donkerste uur verduister nooit die lig nie. Al soekende sal mense wat van die lig is, die Lig wel vind.

Soms is dit die nabyheid van Jesus, sy woorde, sy lewe wat die Lig is.

Soms is dit die wyses van die tye, die Dawids van lank gelede, wat ‘n mens herinner aan God se getroue goedheid waaraan ‘n mens nie moet opgee nie.

Soms is dit die getuies van ‘n getroue dissipel wat bevestig dat God nie wegloop van wat God begin doen het nie.

Die Skrifte, die getuies, die Ligtende teenwoordigheid van die goeie bly by hulle wat soek, wie se harte hoopvol bly, wie se tong biddende bly stamel. En wie bly kyk, bly luister, naby aan God vertoef, se hart sal bly wees, se tong sal loof en se innerlike sal oorloop met vreugde.

Dit is die hoogste gawe: om nooit aan sinisme onder te gaan nie. Om te bly hoop, teen hoop in, teen omstandighede in.

En wanneer ‘n mens die Lig herken, kom die vreugde. Dubbele, driedubbele blydskap sal ‘n emns oorweldig.

Pinkster is die vreugdefees, om opnuut aan God se goedheid vasgeanker te word.

Blog Archive