Die
gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 vertel van groot vreugde wanneer die
seun teruggegaan het na sy pa se huis.
Lukas
gaan uit sy pad om te vertel met watter groot blydskap die seun deur sy pa en
die hele huis verwelkom word. Hy gebruik eenvoudige beelde om die groot viering
uit te beeld: daar is ‘n groot geslag van diere aan die gang, musiek dawer oral
en die klomp sing om die beurt hul vrolike liedjies. Aanmekaar en by herhaling
word in Lukas 15:23, 24, 29 en 32 verwys na die groot klomp vreugde waarmee
hier fees gevier is.
Dan
is daar die stompsinnige oudste seun wat dikmond en vies eenkant bly staan. Hy
wil nie naby daardie partytjie kom nie. Die woede en die nukkerigheid van die
oudste seun staan in absolute kontras met die vreugde binne die huis.
Die
gelykenis sluit af waar die pa, liefdevol, bekommerd en ernstig met die seun
buite die huis gaan staan en praat.
Die
pa kry dan ‘n lang preek van sy seun oor sy pa se roekeloosheid om so ‘n slegte
kind so spesiaal te behandel.
Die
oudste seun herinner die pa aan wat belangrik is. Hy is die tradisionele een van
die gesin wat vashou aan wat reg en goed is en wat wegbly van wat verkeerd en
sleg is.
Die
oudste seun is vasgevang in ordentlikheid. Die voorskrifte, gebruike en
tradisies tel vir hom baie meer as vir die pa. As sy pa nie daarby hou nie en
dan uitreik na die jonger seun wat sy erfdeel op slegtighede vermors het, wil
hy niks daarmee te doen hê nie. Hy is verontwaardig en vies oor die blydskap en
vreugde in die huis.
Hoe
interpreteer ‘n mens nou hierdie storie spiritueel?
Jesus
vertel die verhaal vir die Fariseërs wat kwaad was omdat hy met sondaars gemeng
het. Dit is hoe hulle die geestelike reis interpreteer: dit is ‘n reis in
isolasie, weg van sonde, op jou paadjie van heiligmaking en goedheid, soos al
die jare en eeue van jou voorouers geleer. Dit is gehoorsaamheid aan wat die
wet van jou vra.
Dit
is maar ‘n vreugdelose prentjie wat die klomp vir mens voorhou, vertel Lukas. Hulle
is vol van hul eie goedheid. Miskien is dit nie so erg nie, want die pa vertel
nie vir die oudste seun hy is verkeerd en hy kon maar ook sy lewe so bietjie
meer geniet het nie. Om goed te wees, is goed genoeg.
Dit
is die woede, die verwerping, die isolering en die onttrekking wat die pa
afwys. Hy nooi die oudste seun om eerder deel te hê in wat in die huis met
soveel vreugde gebeur. Hy vertel hom, verder, dat hy sy jonger broer nie as die
sondaar moet sien nie, maar as die een wat huis toe gekom het. Hy smeek die
ouer broer om sy jonger broer nie as ‘n dooie mislukking te onthou nie, maar as
die een wat sy mislukking agtergelaat het en huis toe gekom het.
Die
vader wil eintlik ook sê: Kom jy ook terug, Seun, in die huis, by My. Moenie
dat jou goedheid jou van ander, maar meer nog, van My weghou nie. Wat tel, is nie wie jy was of is nie. Wat tel
is of ‘n mens in die liefdeskring van die Vader tuis is, bly oor die goedheid
en en van die genade wat oor ryk en arm, regverdige en sondaar, Fariseër en
tollenaar uitgestort word.
In
spiritualiteit gaan dit dus oor vreugde wat ‘n mens daarin vind dat God ‘n mens
vrygemaak het van die jongstebroer-sonde – die sonde van slegtheid en ook van die
sonde van die ouerbroer se liefdelose vroomheid. Vrolikheid en blydskap in God,
in die Liefde, in die Genade – dit is waarop alles gerig is.