Kierkegaard, een van die bekendste filosowe, was ‘n
ywerige student van Grieks en Hebreeus.
Hy het hulle bestudeer om die Bybel in sy
oorspronklike taal te kan lees. Daarsonder, het hy gevoel, kan die Bybel nie eg
met hom kommunikeer nie.
Hy het sekere basiese beginsels vir die Bybel
beklemtoon wat ook te doen gehad het met die taal van die Bybel.
Om die Nuwe Testament te verstaan moet ‘n mens dit
vanuit die Ou Testament lees, het hy byvoorbeeld beklemtoon. Die Ou Testament
moet immers as ‘n Hebreeuse geskrif gelees word. Jesus was tog ‘n Jood en die
vroeë kerk het in ‘n Joodse konteks ontstaan.
Dit is waarom ‘n mens die taal daarvan deeglik moet
verstaan. Dan moet ‘n mens ook die inhoud daarvan ook goed leer ken. Maar om te
kan “ken,” moet ‘n mens kan kommunikeer.
Dit weer vra dat ‘n mens gedurig die teks van die
Bybel hardop moet lees. Deur die voorlees van die teks word die Bybel dan ook
beter “gehoor.” Waar dit gebeur, word die leesproses ‘n wonderlike stuk musiek
wat harmonieus en inspirerend tot ‘n mens kom.
Wanneer ‘n mens deur die harmonie van die Skrifwoorde
geraak word, kom ‘n mens voor die aangesig van God self te staan. Dit lei
daartoe dat ‘n mens oop is vir ‘n verhouding met God. God kan tot ‘n mens
spreek en dit skep lewe in ‘n mens.
God, skryf Kierkegaard, die groot filosoof, roep
elkeen van ons by die naam en wil met ons ‘n liefdevolle verhouding aanknoop.
Daarom bestaan die lees van die Bybel nie in die eerste plek uit die studie van kommentare en tegniese eksegese nie – hoe nodig dit ook al by tye mag wees.
Die Bybel is eerder ‘n liefdesbrief wat deur elke mens sy eie gemaak moet word.
Wat saak maak is daardie persoonlike, eksistensiële verhouding tot God waardeur die Bybelse woord die mens raak, verander en tot nuwe lewe bring.