Wednesday, October 17, 2012

Alles eindig in vreugde.


Dana Snyman se rubrieke lees altyd oor verskeie redes baie lekker. Ek het byvoorbeeld geleer om sy rubrieke te lees in afwagting van die slot. Hy het altyd merkwaardige slotsinne waarin hy aan sy skryfwerk dieper betekenis gee. Dit is asof hy aan die einde in enkele woord vir sy lesers vra om sy skryfwerk op ‘n hoër vlak te verstaan. Die slot word die onthullende oomblik wat lig op die voorafgaande verhaal laat skyn.

‘n Skrywer wat dit kan doen, styg uit bo baie ander en boei sy lesers.

Die slotsinne van ‘n storie kan op ‘n heel spesiale manier closure of afsluiting bring. Wie dit lees, herken ‘n afgeronde, betekenisvolle vertelling.

Dit dink ek toe ek vanaand weer die slot van Lukas se Evangelie lees. Jesus verskyn in die laaste hoofstuk daarvan aan sy dissipels en eet saam met hulle ‘n gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek.

(‘n Stuk heuningkoek? Is hieroor al ‘n preek gemaak?)

Aan die einde van die ontmoeting laat Jesus hulle verstaan waaroor sy lewe gaan en watter rol hulle voortaan gaan speel in die nuwe bedeling van sy bestaan as die opgestane Jesus.

Hulle sal, hoor hulle van Hom, getuies wees en daarvoor sal hulle besonder krag, die krag van die Gees ontvang.

As Jesus hulle verlaat het, volg die laaste twee sinne:

“En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.” (OV).

“Met groot blydskap” en “God geprys en gedank.”

Lukas praat hier van groot blydskap. Die afskeid, weggaan van Jesus is nie weer ‘n tydjie van rou en smart nie.

Hierdie keer is dit anders: Die dissipels verstaan uiteindelik wie Jesus is. Sy lyding en opstanding was nodig om mense vryheid te gee (46-47) van alles wat verkeerd geloop het en hulle gebind het.

Maar wat God doen in Jesus – die merkwaardige, onverwagse gebeure wat hulle so gesukkel het om te verstaan en wat hulle vryheid gee, bring hulle ook in beweging, belowe Jesus. Soos God na hulle toe uitreik, so sal hulle hul deel doen. As getuies, kragtig gemaak deur God se genadegawe, maar hierdie keer aan alle nasies (vers 47). Die mens word akteur in die volgende toneel oor God se dade in ons wêreld.

Nie net word die toekoms belig nie, en ook die mens se nuwe rol as mede-speler belig nie. Lukas sluit ook sy verhaal af: Hy het sy Evangelie begin met beloftes aan Maria en Sagaria in die tempel. Die beloofde Een sal na hulle en hulle mense kom as bevryder van die Joodse mense.  Toe was daar ook groot vreugde.

Maar nou gaan God in groter ruimtes in:  God betree die wêreldspasie. Almal, ver buite die Joodse volk om, sal vanuit die hart van die Jodedom uitgenooi word om in vryheid te deel.

En die dissipels sal hierdie keer die verhaal verder voer – soos dan in Handelinge inderdaad gebeur.

Hieroor is hulle bly. Baie bly. En gaan hulle na die tempel. Net soos Sagaria aan die begin in die tempel was.

Die verhaal van Lukas oor Jesus kom so tot closure, tot afsluiting. Die egte betekenis van Jesus word verduidelik.

Vandaar dus die vreugde.

Dit is ‘n vreugde in God: die dissipels weet hulle lewe is in lyn met God se wil. Hulle is deel van God se plan. Hulle word opgeneem in wat God doen.

Dit is soos kitaarspel. God, die kunstenaar, stel die snare in en bespeel dit. Maar die snare resoneer mee, gee ryke klanke af wat die melodie oordra en in baie ore ingaan as blye musiek.

Alles is nodig – die Een wat speel en die ander wat resoneer – om hierdie vreugde te kan ervaar. Hierdie een groot harmonie, dat almal op mekaar ingestem is, dat almal die dieper dinge kan herken – dit is wat vreugde gee.

Hoe kyk ons dan hierdie punt verby: Lukas is die Evangelis van vreugde. Hy laat sy verhaal in goddelike vreugde eindig. En hy vertel hoedat mense voor God in aanbidding staan, verwonderd dat hulle in vreugde deel kan wees van God se teenwoordigheid. 

Lukas vertel van die intieme verhouding tussen God en mens. Nie God nie, en ook die mens leef nie vir hulle self nie. Altyd weer is God en mens op mekaar ingestel. Wat God doen raak die mensdom en die mensdom reageer en resoneer op hierdie dinge wat God doen en werk.

Dit beteken dat die mens die betekenis van sy /haar bestaan buite hom- of haarself vind. Om saam met die diepere dinge te wees, bring geluk. Om saam met ander die dieper dinge te ervaar, vul ‘n mens met vreugde. 

Vreugde is dus veel meer as 'n emosie, 'n opwelling van goeie gevoelens. 

Dit is 'n diepe wete dat 'n mens deel is van rykdom wat veel groter as jouself is en wat jou laat deel in alles wat mooi is. 


Blog Archive