Bybelskrywers dink aan God as die Een wat oor die skepping regeer. Hy is, in Openbaring se woorde, die Almagtige, die Pantokrator.
Maar daar is meer: God bly verantwoordelik vir alles wat in die skepping plaasvind (Jes.45:6-7). Die Almagtige bly betrokke. Die verloop van die wêreldgeskiedenis is deurtrek met God se liefdevolle verbondstrou.
God het die verhouding met die skepping aangeknoop, en God sal hierdie verhouding nie tot niet laat gaan nie.
Tog moet 'n mens nog verder lees: Mense wat die verhaal van Genesis lees, sou net te goed weet dat die skeppingsverhaal opgevolg word deur die vernietiging van die wêreld in die tyd van Noag met die sondvloed.
Hulle sou hulle inleef in die donker goddeloosheid van Noag se tyd en sou des te meer na die skeppingsverhaal gekyk het as ‘n verhaal oor volmaaktheid en skoonheid. Dit, sou hulle besef, is wat dit beteken om in 'n paradys-verhouding met God te leef. Dit is die tuin-tyd, die tyd van onskuld, van oorvloed, van rustigheid en van vrede.
Tog is dit nie 'n rede om nostalgies te wees - om treurig te verlang na tye wat verby is nie.
Nou kom die reënboog: die belofte dat God in verbondstrou die skepping nie verlore sal laat gaan nie.
En in boek na boek van die Bybel word hierdie belofte vasgehou: die paradys gaan weer terugkom. God is getrou. Die kwaad praat nie die laaste woord nie. Daar is nie kans en tyd vir wanhoop nie.
Bybellesers weet: God sit alles in die verhouding met mense. Daarom sal die metamorfose, die totale omvorming van die gevalle skepping nie uitbly nie. Transformasie is die hart van God se verhouding met die wêreld en met mense.
Dit belowe die reënboog tog!