Die nuwe boek, “Towards a theory of spirituality,” (2011), geredigeer deur Hense en Maas, begin met ‘n interessante inleiding waarin hulle daarop wys dat heelwat meer dissipline’s as teologie en godsdiens die afgelope jare in spiritualiteit begin belangstel het.
Hierdie, skryf hulle, ander
dissipline’s sluit sielkunde, sosiologie en antropologie in.
Ek dink ‘n mens sou ook die besigheidswêreld, filosofie en die gesondheidswetenskappe by hulle lysie kon byvoeg.
Ek dink ‘n mens sou ook die besigheidswêreld, filosofie en die gesondheidswetenskappe by hulle lysie kon byvoeg.
Hulle skryf voorts dat 'n belangrike
gevolg van die groeiende belangstelling is, eerstens, dat ons meer inligting as
ooit tevore oor spiritualiteit ontsluit en dat, tweedens, nuwe, alternatiewe
moontlikhede na vore kom om die nuwe beskikbare data te ontleed.
Maar, voeg hulle
by, daar is ‘n verreikende ontwikkeling in spiritualiteitsnavorsing: Dit lyk
asof die konsensus wat bestaan het oor wat spiritualiteit is, aan die verdwyn
is.
Ons besef nou,
skryf hulle, dat daar ‘n oneindige aantal spiritualiteite is. Trouens, ons kom agter sommige hiervan
staan direk teenoor mekaar. Ander weer, lyk asof hulle niks met mekaar te doen
het nie.
Die uitdaging is
dus meer as ooit tevore om spiritualiteit as ‘n verskynsel beter te verstaan.
Ek is geïnteresseerd
in hierdie inleidende woorde. Dit bring sekere van my eie waarnemings helderder na vore.
Ek dink ‘n mens
moet in die algemeen eers twee dinge besef:
Die eerste is dat
elke keer wanneer ‘n mens oor spiritualiteit praat, ‘n mens helder sal moet
weet en wees oor wat ‘n mens daarby bedoel.
Tweedens moet ‘n
mens ook besef dat jou verstaan van spiritualiteit beslissend bepaal gaan word
deur wie jy is en hoe jy dink. ‘n Mens se verstaan van spiritualiteit gebeur
nie los van jouself nie. Spiritualiteit is nie “iets” wat “daar” is nie en wat
‘n mens net moet ontdek nie. Wanneer 'n mens dus oor spiritualiteit praat, moet 'n mens dus gedurig bewus wees van hoe jou eie konteks jou verstaan van die dissipline bepaal.
Dit alles beteken
nou nie dat ‘n mens maar almal moet aanhoor wat iets oor spiritualiteit wil sê
nie. Daar is ‘n losse, niksseggende manier van praat oor spiritualiteit. Mense
praat dan oor spiritualiteit soos oor “godsdiens” – dit is ‘n nul-begrip wat
eintlik nie veel betekenis het nie.
Dit beteken wel dat 'n mens voor die tyd weet dat jy nie gaan saamstem met sommige spiritualiteite nie: trouens, dit kan selfs wees dat jy hulle nie naby aan jou wil hê nie. Dit vra wel om op 'n spirituele manier om te gaan met hulle wat van jou verskil.
Dit beteken wel dat 'n mens voor die tyd weet dat jy nie gaan saamstem met sommige spiritualiteite nie: trouens, dit kan selfs wees dat jy hulle nie naby aan jou wil hê nie. Dit vra wel om op 'n spirituele manier om te gaan met hulle wat van jou verskil.
Meer nog: daar is
vir my sekere basiese elemente in spiritualiteit. Miskien is die
belangrikste hiervan dat spiritualiteit transformatief en self-impliserend moet
wees. En dat ‘n mens oor spiritualiteit moet skryf as iemand wat oop is, gereed
is om die ervaring van transformasie te hê en om deur die voorwerp van jou
studie gestuur te word. Maar daarmee is 'n mens terug by 'n bepaalde "universele" verstaan van spiritualiteit. En dit, volgens ons Nederlandse kollega's, is juis die probleem: sommige gaan in hulle spiritualiteit nie hieraan vashou nie.
Ek sien uit om
meer van die boek te lees.