Thursday, October 11, 2012

'n Mens wat God lief het, het, noodwendig, die stilte lief.

-->
DIE GROOT STILTE
“A man who loves God
necessarily loves silence.”
Thomas Merton


Eens sal elk-een die Onbekende ingaan, plek
waar hy ál-een is, met ‘n magtelose versinking
in dieptes dieper as gedagtes: ‘n onbewustheid
waar tyd nie meer bestaan nie, duiseling
van ruimte wat ontbind, leegte en duisternis
waaruit niks en niemand terugkeer nie.

Dit is die universele toestand waar dogmatiese
versnipperings verdwyn, finale kennismaking met die sélf,
spieël van aangesig tot aangesig, die óópvlek
waarteen daar geen skuiling is nie, maar óók:
‘n oplê van die hande, inseëning en wyding,
‘n eenword met die Heel-Al in ‘n hoër harmonie
as ‘n simfonie van snare, ‘n in-stemming op
die enigste stem van God wat hoorbaar is.

M.M. Walters skryf hierdie sonnet in sy bundel, Sprekende van God, wat in 1996 verskyn het. Dit is die voorlaaste gedig in die bundel.

Die motto verwys na Merton se uitspraak oor liefde vir God wat noodwendig ook liefde vir stilte inhou. 

Ek lees dit, geboeid, want Walters, die satirikus, se messie is skerp. As ‘n mens sy ander gedigte met liefde moet verbind, sal jy miskien op sy beste met “tough love” kon wegkom. Hier dus ‘n gedig oor die liefde, en, ook oor stilte?

Walters is nie die enigste digter in Afrikaans wat Merton so eksplisiet betrek nie. Cussons doen dit ook. Die gedig verskil van Cussons se Christ of the Burnt Men waarvan die motto ook na Merton verwys. Terwyl die digter in Cussons se gedig, in haar fisieke pyn met haar verbranding, die mistieke ontmoeting met Christus intens en liefdevol beleef en dus ‘n Christologiese mistiek vashou, is Walters se gedig nader aan apofatiese mistiek. Dit praat oor die belewenis van God anderkant en verby alle woorde heen. God, in die apofatiek, is bo ons rasionele kategorieë en verby alle tale heen te bedink.

Ek verwonder my oor die gedig se duidelike steun op Merton. Dit is opvallend hoedat nie-teoloë en ‘n bekende digter soos Walters, origens so vlymskerp in sy kritiek van vlak godsdiens, Merton lees en toe-eien terwyl Merton feitlik ‘n onbekende onder Afrikaanse teoloë was. 

En nog meer boeiend is dat Merton se insigte inspirasie bied vir digters, soos, juis, Walters. 

Ook interessant is dat jy nie juis binne teologiese kringe verwysings na Walters se gedig optel nie. Daarvoor was hy miskien te kwaai in sy soms hete kritiek teen die godsdiens van die establishment en die status quo. Maar dalk is dit omdat Merton, die apofatiek en die gedig te anders is?

Op die oog af is die eerste strofe van Walters se gedig so bietjie oppervlakkig. Hy dig op die binnegaan wat elke mense te wagte staan wanneer die dood die deur op die Onbekende oopmaak. Hier is nie engele, paradys, krone, diamante, kore en allerhande besige hemelse dinge aan die gang nie. Die gedig skryf eerder oor die ewige “leegte en duisternis,” die opheffing van tyd en ruimte vir die een wat sterf.

Leeg en duister (Genesis?). In lyn met die apofatiese mistiek, is dit die “Onbekende” – geskryf met ‘n hoofletter – wat ‘n mens binnegaan. Dus, veel anders as bloot net niks. Dit is tog ook ‘n “plek” waar ‘n mens “al-een” is. Dit is die plek by die “dieptes wat dieper as gedagtes” is, wat verby alle tyd en ruimte sterk.

Hoe, laat die digter weet, kan ons ooit in ons denk-kategorieë daardie totaal ander bedeling vasvat.

Dit is die spieel waardeur ons sien.

Soos in die apofatiese mistiek wil die digter praat oor dinge wat nie in woorde uitgedruk kan word  nie. En juis met sy gedig wil hy daardie nie-taligheid, die Verborgenheid wat verby en anderkant taal is, uitdruk.

Dit is die ironie: taal moet oor nie-taal praat. Hoe sou ons oor transendensie tog kan dink?

In die tweede strofe word hierop uitgebrei: Alles wat ‘n mensdom so netjies oor God bedink het, al die dogmatiese versnipperings (!) verdwyn. Al die slimmighede van die teologie is nie meer daar nie.

Maar daar vind ‘n verborge ontmoeting plaas. Die mens sal uiteindelik tuiskom, uiteindelik besef waarom gaan dit. Daar is “finale kennismaking met die self.”

In Bybelse taal praat Walters (1 Kor. 13) van “kennismaking” met die self en verbind die frase met “‘n spieël van aangesig tot aangesig.” Die oopvlek (let op die beklemtoning deur die óó) vind plaas. Niemand kan daarteen skuil nie. Dit is purifikasie. Die skoonmaak.

Die Verborgene sal nie meer verborge wees nie. Uiteindelik sal dinge geopenbaar wees.

Maar dan kom die transformasie, en dit is hierdie volgende, laaste reëls wat my raak. Want die oënskynlike oppervlakkige stukkie filosofiese grepe op die bestaan na die dood as “leegte en duisternis” (nietigheid in die mistiek), word daarin skielik in ‘n ander toonaard en met warm, toegeneë taal aangebied.

Daar is nie filosofiese spekulasie nie. Skielik is daar warmte, is daar vereniging, word die al-een met die Heel-al in ‘n volmaakte verhouding opgeneem. Eensaamheid kom tot ‘n einde. Alles kom saam in ‘n intieme, hoër bymekaar-hoort.

Hierdie eenheid (vereniging in die mistiek) word in metaforiese, warm, konkrete, kerklike taal uitgebeeld: daar is ‘n “oplê van die hande, inseëning en wyding.” Dit word ‘n ritueel, ‘n sakrament, ‘n viering – hierdie vereniging. Dit kom tot die mens as ‘n gawe, as ‘n verademing, as ‘n opneem in ‘n heilige ruimte.

Die transformasie, die omvorming is aangrypend: die eenwording bring op ‘n “hoër” vlak die ewebeeldigheid waarvan mistici so baie praat. Die Heel-Al neem die een wat sterf, die een wat, soos die eerste strofe treurig sê, “al-een” is, in ‘n hoër harmonie op. Dit is mooier as ‘n simfonie, as ‘n ryk spel van vele klanke.

Die een wat sterf word ingestem op die enigste stem van God wat hoorbaar is. Harmonie. Wedersydsheid, sou Waaijman dit noem.

Daar is so baie stemme wat aanspraak maak om stem van God te wees. Hulle sal, as dogmatiese versnipperinge, tot niet gaan. Al ons kennis, soos Paulus vertel, sal tot niet gaan. Uiteindelik, verby alle tyd en ruimte, sal ‘n mens God herken, die Heel-Al. En dan, die eenvoudige wete, die instemming, die openheid en toe-eiening van die enigste stem van God.


Op die manier word die leegte en die duisternis, die stroping, die oopvlek, getransformeer in die spesiale ruimte van heiligheid, van wyding waar mense tog ‘n goddelike stem hoor.

‘n Mens wat God lief het, het, noodwendig, die stilte lief.




Blog Archive