Saturday, October 20, 2012

Die botteltjie in my hand... Oor vergenoegdheid

-->
Daar is mense wat versigtig met hul finansies omgaan. Op ‘n verstandige manier spandeer hulle net wat hulle op hul begroting beplan het.

Hulle sorg vir die toekoms en sit genoeg weg, byvoorbeeld, vir ‘n sorgvrye oudag.

Hulle is tevrede om met basiese dinge uit te kom. Niks is oordadigs en niks uitspattigs nie.

‘n Dak oor die kop, bruikbare kledingstukke in die kas, ‘n bord kos op ‘n dag en so af en toe ‘n goeie vakansie.

Nadat vir ‘n pensioen beplan en weggesit is, gee hulle weg. As hulle hoor van ‘n ramp, is hulle by om geld te skenk. As iemand in die familie in die nood raak, voorsien hulle. Hulle is nie besitlik nie. Inhaligheid en opgaar ken hulle nie.

Maar dit gaan om baie meer as net aardse dinge. Hulle gee goedheid weg, deel liefde, is weldadig met hul omgee. Hoe hulle met hul besittings omgaan, is maar net 'n teken van hoe hulle leef.

As dinge fout gaan en die kop verdwyn onder die woeste waters, sluk hulle mondevol, maar kom weer dapper op en begin van vooraf lewe. Hulle kyk nie terug nie. Hulle kerm nie, al sit die seerkry en die swaarkry soms so bietjie vlak in die oë.

Die lewe, vratte en al, is vir hulle goed.

Op ‘n keer sit ek by so ‘n persoon. Getroud met ‘n knorpot-diamant en die ma van ‘n stout maar warmhartige seun, is sy al jare lank in die gesondheidsdienste. Sy is die sout van die aarde.

Elke keer weer as ek daar gaan besoek aflê, kry ek ook groot skeppe van die toegeneentheid wat sy in ander mense se honger borde uitskep.

Haar huis word vir my ‘n huis, oor die sewe jaar wat ek daar werk. Ek sit by haar en praat met haar asof sy my ma is.

My foon lui op ‘n dag en sy vra my om in te loer by hulle. Ons het ‘n projek aan die gang waarvoor ons toe net begin ondersteuning soek het. Dit is waarom sy bel, sy. Dit is moeilike tye en ons verwag dat dit maar stadig sal gaan.

Sy het so pas een of ander erflating gekry, vertel sy vir my toe ek by haar huis opdaag en by haar gaan sit en gesels. 

Die enorme bedrag wat sy vir ons uit die erflatinkie wil gee, sal ons presies uithelp om alles sonder skuld te kan doen.

Ek sukkel om te reageer. Dit is een van daardie oomblikke waar woorde nie deur die swaarheid van die diep gevoelens kan beur  nie.

Ek wil eers protesteer. Ek dink aan al die welaf mense in die gemeenskap wat tog hul kant sal bring en wat veel eerder kan bekostig om so 'n skenking te maak. Ek wil sê dit hoef nie.

Waarom sal sy dan, hier aan die gryser kant van die lewe, nie daardie skenking gebruik vir ‘n welverdiende wegbreek of ‘n genotvolle luukse nie na al haar jare van swoeg en sweet?

Maar sy is al anderkant my protes verby en het haar praat gepraat. Sy gesels nou oor die buurt: vir wie sy nog wat wil doen. Waar sy nog orals daardie week wil inloer. 

Wat sy vir ons projek uitdeel is maar ‘n item op haar lang lys van weggee. Sy het al vergeet dat ons besoek oor haar gee begin het.

Dit is nie haar pennie in die skatkis nie, besef ek. Sy “doen” nie hier "goed" nie. Sy is nie die een wat haar oor ander “ontferm” nie. Sy is nie besig om "vir die kerk" haar deeltjie te gee nie.

Sy bring eerder mense nader aan haar, sodat hulle deel kan word van die ligkring van wedersydsheid en saamwees. Sy gee vir hulle net soveel as wat sy van hulle kry. En ook die gemeenskap, die gemeente hoort in haar kring van lig. Natuurlik.

Sy het oorvloed en sy deel in oorvloed. Saam met ander. Sy is ryk, ver verby die basiese eenvoud van haar mooi huisie en haar vrugbare tuintjie.

Toe ek huis toe ry, skaars toegelaat om ‘n woord of twee van dankie in te kry, stop sy my ‘n botteltjie tuisgemaakte konfyt in die hand.

Blog Archive