Wednesday, October 03, 2012

‘n Goed-gerasperde, netjies gesnyde wortel is ‘n loflied op God. Oor die teenwoordigheid van God - elke dag


Martin Versfeld het ‘n merkwaardige boek geskryf met die naam: “Philosopher’s Cookbook.”

Die boek het mettertyd ‘n klassieke werk geword.

Versfeld was ‘n professor in filosofie in Kaapstad, maar het ook oor teologie en mistiek geskryf.

In die boek skryf hy op ‘n sekere stadium oor hoe ‘n mens die teenwoordigheid van God in die mees alledaagse, normale dagtake kan beleef.

Hy verwys indirek na die gebruik om in die kloosterlewe vas te hou aan beide die kontemplatiewe lewe en doodgewone hande-arbeid.

Monnike moes hul daaglikse take naas hul godsdienstige rituele en afsondering volhou.

Die doen van gewone dinge in so ‘n kloosterbestaan, skryf Versfeld, gaan nie om een deeltjie van jou aandag op jou dagtaak en die ander deel op God te rig nie. Jy loop ook nie met jou bord kos in die een hand en jou Bybel in die ander hand rond nie.

Asof dit gaan om twee dinge waaraan jy vashou sodat die een "vergoed" vir die ander. 

Om bewus te wees van die teenwoordigheid van God in die alledaagse take, is om eenvoudig net met jou hele wese betrokke te wees by wat jy besig is om te doen of te werk.

Ek sit terug en besef, by die lees hiervan, dat ek meer, veel meer hieroor wil dink. 

Dit is die voorbeeld wat Versfeld noem, wat ‘n mens boei:

‘n Goed-gerasperde, netjies gesnyde wortel is ‘n loflied op God.

Die loflied bestaan daaruit dat jy die so-wees van jou materiaal tot sy reg laat kom. Die liefdevolle, aandagtige manier waarop jy gedroogde vrugte voorberei of ‘n ui afskil, bring jou in aanraking met Weser (Being).

Die stukkie leeswerk laat my onwillekeurig dink aan die gedig, veral die slotreël van Eybers se “Die Geskenk” (oor die guns en genade van God – sien gister se blog).

‘n Ateïs, skryf Versfeld, sou in die oë van ‘n monnik nie ‘n sjef kan wees nie. As jy ‘n ateïs wil bekeer, laat hom wortels skraap en rasper. Jy hoef ook nie te sit en mediteer om genade te ontvang nie. 

Om aartappels te skil of om skottelgoed te was kan ‘n mens laat ontdek wat genade is.

Jy sal selfs nie, voeg hy by, die borde laat val nie.

Wanneer jy voedsel voorberei, rys kook, is jy gedurig besig om dit te bewonder: die eenvoudigste van kos-soorte is soos ‘n kind wat jy lief het. Versigtig hanteer jy dit, verwonderd oor die gawe om te mag eet, dat dit aan jou die lewe skenk. 

Die gewone, die alledaagse, wat jy met jou hande doen, kan tekens van God se teenwoordigheid wees. Dit laat jou besef wat voedsel is, hoe eenvoudige alledaagse dinge verborge sin inhou. Jy weet: dit is kos wat jy saam met ander geniet, wat jou deel laat kry aan hulle geselskap. Jy sien in dat jy hulle teenwoordigheid rondom die ete ervaar in die voedende gemeenskap van saam-eet.

Ek resepteer Versfeld op my eie manier, trek sy opmerkings in my eie resepsie in. 

Die eenvoudige, alledaagse, besef ek, word tekens van lewe, van betekenis, van Goddelike waarheid. 

Wanneer ons voedsel geniet, deel ons in die Natuur wat God geskep het en wat aan mense lewe gee.  

Elke oomblik, besef ek toe ek Versfeld lees, elke oomblik is kosbaar. Oral, in die eenvoud van voëls van die veld wat nie insamel en oppot nie, maar heerlik gevoed word, sien ‘n mens die wonder van onbekommerde, onbesorgde bestaan. 

In die gewone, in die trui wat die ma gebrei het, soveel dae lank, met soveel aandag en met soveel inspanning, sien ‘n mens mededeelsaamheid, die deel van warmte, uitgee van liefde, skep van rykheid, omgee en uitreik. 

Hoe perfek is die lewe by die aanhoor van musiek, van 'n oktaaf van gewone musieknote, kunstig saamgevoeg, wat met oorgawe geskep word en in totale skoonheid by jou kom lê. 

Elke oomblik bring jou in aanraking met eenvoud, die alledaagse van Lewe, met die Ewige lewe, met skoonheid, wat lank nadat ‘n mens jou kop neerlê, sal bly, sal voed, sal inspireer en sal seën.

Maar selfs dit alles is dalk bietjie te diep. Net om te kan lewe, voluit te kan lewe, by elke oomblik betrokke te wees, ingestel is op die alledaagse, is om by God te kan wees. 

Wanneer ‘n mens met jou hele bestaan betrokke is by wat jy beleef, sodat alles vir jou skoonheid word, selfs die baarste takie, is ‘n mens in die teenwoordigheid van God.

Kyk, kom eet saam met my. Hier is vir julle ‘n stukkie brood. Kom, drink saam met my ‘n bietjie wyn. Dink altyd daaraan. Laat hierdie stukkie brood en bietjie wyn elke dag in julle 'n nasmaak oorhou. 

Dit is waaroor die koninkryk van God gaan – nou en vir altyd. 

Só het die gasheer, lank terug, aan sy vriende gesê, die dag voordat hy homself volkome, met totale oorgawe, gegee het.


Blog Archive