Monday, October 01, 2012

Barensnood

Galasiërs 4:19 is 'n gedeelte met besondere betekenis in Spiritualiteit.

Paulus skryf aan die gemeente in Galasiërs oor die slegte situasie waarin hulle hulle bevind.

Gelowige mense verlei hulle, in die naam van die Evangelie, om sekere voorwaardes te stel aan mense wat die Evangelie aangeneem het. Hulle wil mense aan 'n nuwe eise onderwerp: nie net geloof in Christus nie, maar lidmaatskap van die Joodse volk is nodig.  

Paulus verwerp dit. Christus is genoeg. Meer as dit het mense nie nodig nie. God rig nie 'n eksklusiewe klub op nie. Die Evangelie kom uit liefde na almal en in liefde word almal deel van God se familie.

Die boodskap is radikaal: God het sy liefde byvoorbeeld aan Paulus bewys. En Paulus was 'n wreedaard wat gelowige mense uitermate vervolg en vermoor het (Gal. 1:13). Die goddelike liefde is ook oor Paulus, die gewelddadige mens, uitgestort. 

God, skryf Paulus in Gal. 2:20 het dit alles duidelik gemaak toe Christus aan die kruis gesterf het. Die liefde van God kom na vore in die self-gawe van Christus tot in sy dood. Om lief te hê, radikaal te bemin, is om jouself te gee soos wat die Seun van God hom aan mense gegee het.

Vir Paulus is dit nie soseer Jesus se boodskap wat van die liefde praat nie. Die liefde sien 'n mens die meeste in Jesus se gawe van homself, aan die kruis.

In Galasiërs 4:19 skryf Paulus nou dat hy in barensnood is totdat Christus in die Galasiërs 'n gestalte kry.

Wat mense nodig het, is dat Christus vorm in hul lewens inneem. Christus moet in hulle gestalte kry. Wie na hulle kyk, moet Christus sien.

Konkreet beteken dit: wie gelowiges bekyk, moet mense sien wat lief het soos wat God lief het: onbegrensd, onvoorwaardelik, inklusief, altyd aanvaardend. 

Gedurigdeur kan 'n mens jouself toets deur jou te meet aan Christus: hy wat homself nie hoog geag het nie, maar die gestalte van 'n dienskneg aangeneem het (Fil. 2).

Herken 'n mens tog nie hierin die liefde nie! 

Want egte liefde is bereid om jouself prys te gee ter wille van die ander een. Jy laat jouself gaan. Jy word niks: jy sterf. Saam met Paulus leef jy nie meer nie. Die ou lewe is tot niet.

Wat saak maak, is om "vir God te leef" (Gal. 2:20). Die geliefde is op die geliefde ingestel. So kosbaar is die ander een, dat 'n mens nie huiwer nie: jy tel nie. Jy word volmaak een met die ander.

Dit is die vorm van Christus wat ook in gelowiges moet leef: om jouself te gee en te gee. Wie dit doen, wie alles prysgee, ontvang die liefde, die volmaakte, wat altyd daar sal wees.


Blog Archive