Sunday, October 07, 2012

Liefde vir God en die Groot Stilte. Oor 'n mistieke gedig in Afrikaans

-->
DIE GROOT STILTE
“A man who loves God
necessarily loves silence.”
Thomas Merton


Eens sal elk-een die Onbekende ingaan, plek
waar hy ál-een is, met ‘n magtelose versinking
in dieptes dieper as gedagtes: ‘n onbewustheid
waar tyd nie meer bestaan nie, duiseling
van ruimte wat ontbind, leegte en duisternis
waaruit niks en niemand terugkeer nie.

Dit is die universele toestand waar dogmatiese
versnipperings verdwyn, finale kennismaking met die sélf,
spieël van aangesig tot aangesig, die óópvlek
waarteen daar geen skuiling is nie, maar óók:
‘n oplê van die hande, inseëning en wyding,
‘n eenword met die Heel-Al in ‘n hoër harmonie
as ‘n simfonie van snare, ‘n in-stemming op
die enigste stem van God wat hoorbaar is.

M.M. Walters skryf hierdie sonnet in sy bundel, Sprekende van God, wat in 1996 verskyn het. Dit is die voorlaaste gedig daarin.

Die motto verwys na Merton se uitspraak oor liefde vir God wat noodwendig ook liefde vir stilte inhou.

Die gedig het my dadelik aan Cussons laat dink, want ook hier is daar 'n duidelike mistieke toon en ook Cussons was deur Merton geïnspireer.

Die gedig van Walters verskil van Cussons se Christ of the Burnt Men waarvan die motto ook na Merton verwys. Terwyl die digter in Cussons se gedig, in haar fisieke pyn met haar verbranding, die mistieke ontmoeting met Christus intens en liefdevol beleef en dus ‘n Christologiese mistiek vashou, is Walters se gedig ‘n boeiende kommentaar op apofatiese mistiek. 

Die gedig praat in beperkte taal oor die belewenis van God anderkant en verby alle woorde heen. Nie net is taal gebreke om aan hierdie Verborgenheid uitdrukking te gee nie, maar dit is ook 'n ervaring wat verba taal heen strek. Elke poging om oor die Misterie van die toekoms te praat, is voorlopig, is in 'n sekere sin gedoem tot oppervlakkigheid. Immers, lui die grondtoon van die apofatiese mistiek, hoe kan 'n mens ooit dink om God en die uiteindelike ontmoeting met God te probeer bind in menslike taal - die Een wat alle taal transendeer en wat nie in taal gevange gehou kan word nie.

Ek verwonder my oor die gedig. Die gedig maak my bewus daarvan hoe nie-teoloë in ons land Merton al lank lees en toe-eien - en dit terwyl hy feitlik ‘n onbekende onder teoloë was. Hier is 'n gedig wat deur Merton geïnspireer is om na te dink oor goddelike liefde wat ook uiteindelik, liefdevol, in stilte na vore kom - die stilte van alles wat anderkant menslike taal, ervaring en dogmatiserings lê. 

Hier is Merton, mistikus van ons tyd, die inspirasie vir digters. So pertinent - in die geval van Cussons lei dit tot een van die mooiste gedigte in Afrikaans. 

'n Mens sal nie juis binne teologiese kringe verwysings na Walters se gedigte optel nie. Hy word nie van preekstoele aangehaal nie. Daarvoor was hy te kwaai in sy soms hete kritiek teen die godsdiens van die establishment en die status quo. Ons, gekwets oor sy aanslag op formalien-godsdiens, netjies opgebaar vir besigtiging en uitstellerigheid, loop draaie om hom, verdink hom en besef nie hoe hy op sy manier wel oor die dieper dinge gedig het. Die bundel in sy geheel is 'n merkwaardige gestoei met van die diepste vrae wat die teologie besig hou. Hy begin dit byvoorbeeld met nadenke oor die teodisee-vraagstuk. Gedig na gedig worstel met al die skerp kante van godsdiens en die uitdagings wat dit vir geloof bied. (En dan, aan die einde, na al die intellektuele gestoei in die vorige, lang gedigte, volg hierdie Groot Stilte). 

Op die oog af is die eerste strofe van Walters se gedig so bietjie teleurstellend, dog ek toe ek dit lees. Dit skryf oor die ewige “leegte en duisternis,” die opheffing van tyd en ruimte vir die een wat sterf. Dit klink vir my na die soort van slagspreukagtige manier van praat oor die lewe na die dood. Cliche-agtig. So praat mense maar dikwels oor die dood: die terugkeer na niks. 

Maar tog, in lyn met die apofatiese mistiek, is dit die “Onbekende” – geskryf met ‘n hoofletter – wat ‘n mens volgens die digter binnegaan. Dus, gaan dit om iets anders as bloot net niks. Dit is ‘n “plek” waar ‘n mens “al-een” is. Dit is die plek in “dieptes wat dieper as gedagtes” is, wat verby alle tyd en ruimte sterk.

Soos in die apofatiese mistiek wil die digter praat oor dinge wat nie in woorde uitgedruk kan word  nie. En juis daarmee wil hy nie-taligheid van die Verborgene uitdruk. Hoe kan ons hierdie hoogs intieme Einde "ken"- die groot Onbekende? 

In die tweede strofe word hierop uitgebrei: "dogmatiese versnipperings" verdwyn wanneer 'n mens verby ons huidige bewussynstoestand sal beweeg. Al die slimmighede van die teologie is nie meer daar nie. 

Weer is dit nie die einde nie. Daar gebeur tog iets wanneer 'n mens in die leegte en duisternis kom: dit word die “finale kennismaking met die self.” Hier, hier sal die mens uiteindelik te wete kom. "Kennis" in kennismaking sal daar tog ook wees. In Bybelse taal bind Walters (1 Kor. 13) hierdie “kennismaking” met die self met “‘n spieël van aangesig tot aangesig.” Die oopvlek (let op die beklemtoning deur die óó) vind plaas. Niemand kan daarteen skuil nie. Die Verborgene sal nie meer verborge wees nie. Uiteindelik sal dinge geopenbaar wees.

Maar dan kom die transformasie, en dit is hierdie volgende, laaste reëls wat my raak. Want die oënskynlike oppervlakkige stukkie filosofiese grepe op die bestaan na die dood as “leegte en duisternis” (nietigheid in die mistiek), word daarin skielik in ‘n ander toonaard en met taal aangebied. 

Daar is blykbaar in hierdie Onbekende 'n stem te hoor.

Nou is daar nie meer filosofiese taal ter sprake, soos in die eerste strofe nie. Leegte en duisternis is verby. Skielik is daar in die vier laaste reëls warmte, is daar vereniging, word die al-een met die Heel-al in ‘n volmaakte verhouding opgeneem. Eensaamheid kom tot ‘n einde. Vandaar die : (dubbelpunt) na die "óók".

Hierdie eenheid (vereniging in die mistiek) word in metaforiese, warm, konkrete, kerklike taal uitgebeeld: daar is ‘n “oplê van die hande, inseëning en wyding.” Dit word ‘n ritueel, ‘n sakrament, ‘n viering – hierdie vereniging. Dit kom tot die mens as ‘n gawe, as ‘n verademing, as ‘n opneem in ‘n heilige, groter ruimte.

Die transformasie, die omvorming is aangrypend: die eenwording bring op ‘n “hoër” vlak die ewebeeldigheid waarvan mistici so baie praat. Die Heel-Al neem die een wat sterf, die een wat, soos die eerste strofe treurig sê, “al-een” is, in ‘n hoër harmonie op. Die een wat sterf word ingestem op die enigste stem van God wat hoorbaar is. Harmonie. Wedersydsheid, sou Waaijman dit noem.

Daar is so baie stemme wat aanspraak maak om stem van God te wees. Hulle sal, as dogmatiese versnipperinge, tot niet gaan. Al ons kennis, soos Paulus vertel, sal tot niet gaan. Uiteindelik, verby alle tyd en ruimte, sal ‘n mens God herken, die Heel-Al. En dan, die eenvoudige wete, die instemming, die openheid en toe-eiening, die in-stemming op die enigste stem van God. Hier is daar die antifrase: want die in-stemming is ook nie-talig. Dit is meer 'n harmonieuse respons, 'n reaksie op die enigste stem van die Onbekende.


‘n Mens wat God lief het, het, noodwendig, die stilte lief.




Blog Archive