In
sy merkwaardige foto-boek, Long Ago Way, waaroor ek al
voorheen geskryf het, vertel Obie Oberholzer van sy besoek aan die misrabele,
doodse landskap van Delmas, Leandra en Coalville.
Hy
is duidelik afgesit deur wat hy daar ervaar.
Dit
is so ‘n vaal, plat landskap dat ‘n mens sommer Ierland toe wil immigreer,
vertel hy.
In Ierland sal jy immers nie sulke goor dorpies, eindelose
mielie-lande, groot silo’s en enorme steenkool-myne sien nie.
Sy
depressie word net groter oor die stukkende paaie en die massiewe vragmotors
met hul steenkoolvragte.
Niks,
skryf hy, kan jou van steeds erger wordende depressie verlos nie – nie eers die
spiritualiteit van die fotograaf Hustinx, in wie se voetspore hy sy
fotografiese reis loop nie.
Maar
dan kom die keerpunt:
Net
toe hy vertel hoe hy wil stilhou, in die veld instap en sommer in ‘n hoop mis
wil gaan val, kyk hy in die lug op en sien swaeltjies in 'n vreugdevolle
vlug.
(Die
wysheid van die Bergrede oor depressiwiteit gaan lê diep in die mense se dieptestrukture, dag ek, toe ek die stuk
lees. En besluit net daar dat hierdie "stukkie" van Oberholzer 'n kontemporêre resepsie daarvan is....)
Oberholzer
verkyk hom aan hierdie sierlikheid van die swaeltjies.
Dit laat hom asem skep, hy word geraak, daar is transformasie.
Hy asem die vars lug diep in, al het dit, voeg hy bietjie wrang by, so ‘n smakie van steenkool- en veldbrandrook.
Hy
pak net daar sy veldstoel uit en gaan sit tussen telefoondrade en die swaeltjies wat steeds in hul
sirkelvlug verlore is. Daar bekyk hy die foto’s van Hustinx, dekades gelede in verskeie plekke in Suid-Afrika geneem. Hy is immers besig om in
die spore van Hustinx te loop om dieselfde tonele weer te kan afneem
(intertekstualiteit…)
Die storie is nie verby nie. Die proses van transformasie duur voort. Wie diep kan asemhaal, verby valigheid kan sien, sal nog groter geheime ervaar...
Weer
in sy bakkie en op pad, kom hy af op ‘n paar Telkom werkers. Hulle werk aan ‘n
telefoonpaal.
Hulle
klim af en drom om sy bakkie saam asof hy die eerste witman is wat hulle ooit
gesien het.
Hier begin die partytjie eers behoorlik.
Hy skryf, met humor en in sy beter bui, dat hy vir die werkers vertel dat hy van ‘n
klein plekkie met die naam Holland kom en dat hulle die eerste swartmense is
wat hy ooit gesien het.
Hulle
weet hy trek been en lag heerlik saam met hom.
Die atmosfeer is joviaal. Die klomp weet dit is 'n goue oomblik. Hulle kan die valigheid oorleef deur bymekaar te wees. Dit is 'n intieme oomblik, gelaai met humor en grappe en goedgesindheid en lewensvreugde. Die vaal landskap is getransformeer in 'n feessaal.
Moenie
vergeet waar hulle is nie, vertel hy: ‘n
Vragmotor vol steenkool dreun by hulle verby. Die ondertoon van vaalheid bly klink.
En
tog: Hy skryf hy is net so "opgewonde" om in die "wye en lelike" omgewing tussen
sulke "vrolike mense" te wees. Transformasie in heerlikheid.
Die
proses van kommunikasie loop goed en dieper: Hy wys vir hulle dat sy linkerarm donkerder as sy
regterarm is. Weer ‘n keer skater hulle van die lag.
In
die lug vier die swaeltjies die vrolike gespottery en gejillery met hul
swierige, akrobatiese vlug, skryf hy.
Die
lewe, sluit hy af, is die moeite werd, voordat hy die besoekie afsluit met ‘n
drankie wat hy met die werkers deel.
Ek
kyk lank na die foto waarby Oberholzer hierdie nota’s gevoeg het. Groot en vaal
staan die silo’s op die agtergrond. Die vaal van die veld kom net nog sterker
na vore deur die skelrooi van die stopteken.
Die drie werkers vorm 'n volmaakte driehoek in die middel van die foto. 'n Triniteit van gemeenskaplikheid.
Twee van die drie werkers is nog
in ‘n joviale bui. Hulle wuif. Maar die een in die voorgrond, in fokus, is die gelukkigste.
Hy poseer spoggerig, laf en uitgelate vir die fotograaf.Hy verloor homself in die foto-nemery. Dit is 'n ekstatiese oomblik.
Dit is daardie spierwittande-glimlag wat alles sê: in die vaalste veld, in die
allerellendigste omstandighede, in die grysheid van sommige dae, kan ‘n mens
jouself in ‘n glimlag verloor.
Geluk
word nooit gebore in wat om jou is nie. Dit kom van binne.
Ek verloor my in Oberholzer se boek. Dit vertel, aards, kru-aards soms, van die diepere, maar dit bring ook na die diepere. Nie net deur die foto's nie, veral deur die foto's, maar ook deur sy teks - waarvoor hy, vreemd genoeg en sover as wat ek weet - nie juis erkenning gekry het nie.