Saturday, January 12, 2013

Egte omvorming


‘n Mens is, word dikwels gesê, die een wat jou eie bestaan kan bepaal. Jy maak die keuse’s wat dinge in jou lewe in ‘n goeie rigting stuur. Jy veg vir jou ‘n pad in die lewe oop.

Dit lyk na ‘n opvatting wat te doen het met ‘n verantwoordelikheidsin, met toewyding en idealisme. Om suksesvol te kan presteer, is die begeerte van baie mense en is ‘n goeie karakter-trek.

Dit lyk na ‘n algemene manier waarop ‘n mens getransformeer raak.

En tog is die vraag wanneer hierdie lewensdrif en selfbemagtiging omslaan in eie-magtigheid. En net so ook is hierdie drome vir jouself soms die stalmaat van ‘n tipe self-bemagtiging wat net op jouself ingestel is sodat al jou behoeftes, begeertes, welsyn en geluk om jouself draai en jouself in die oog het.

Jou lewe word, in die woorde van Blommestijn, ‘n “eie projek” wat jy self aan die gang hou.

Tog hou dit nie met die werklikheid rekening nie.

Eintlik sit daar in so ‘n self-gerigte gedrewenheid ‘n stuk ontvlugting. Met allerhande “bokspronge” probeer mense wegkom van die waarheid wat diep in hul binneste leef.   
Eintlik ontken mense hulself deur hulle self-gerigte greep op hul eie lewe. Mense vlug maklik weg in allerhande onrealistiese rigtings eerder as om te begin waar dit werklik saak maak. Hulle begryp nie eintlik dat alles wat ons altyd so geniet en opsoek, verganklik is. Een oomblik is dit daar, dan is dit weg.

En al die tyd kom hulle nooit eintlik in aanraking met wat werklik saak maak nie. Hulle besef nie dat al die uiterlike dinge wat die lewe so vol maak en mense so besig hou, ver verwyderd is van die belangrikste van alles nie.

Wat is die belangrikste en wat maak saak? Wat is dit wat lewens verander en waarna mens moet streef?

Die antwoord vind ‘n mens eintlik veel nader as wat mense ooit dink. Wat saak maak, is te vind in ons innerlike ruimte. Dit leef in ons binneste.

In godsdienstige taal praat mens van God wat in mense woon en werk. Elke dag is die krag van God teenwoordig in ‘n mens se innerlike bestaan.

God se teenwoordigheid in mense sal nooit ophou nie. Die is die enigste volle waarheid wat daar bestaan, want daar is niks verganklik aan God nie.

Terwyl mense vasgevang is deur onbetroubare, wisselende, verganklike en tydelike dinge, versper dit die pad na vryheid.

Die groot uitdaging is om te ontdek dat mense in hul binneste totaal vry kan wees.

Dit is waarom spiritualiteit gaan.

Dit wat werklik saak maak, woon in die innderlike en stroom onophoudelik deur mense. Dit is die krag wat mense in stand hou.

Wanneer ‘n mens dit ontdek, is die volgende stap dat ‘n mens omgevormd moet word in God.

Dit is nie ‘n wettiese proses nie asof ‘n mens deur allerhande reëls en regulasies ‘n goeie Christelike lewe lei nie.

Prakties beteken dit ‘n proses om Christus uit te beeld. Ook dit is nie ‘n wettiese proses asof ‘n mens allerhande voorskrifte van Jesus volg en gehoorsaam nie.

Wanneer ‘n mens soos Christus leef en optree, word ‘n mens bewus van die intieme verhouding van Jesus met die Vader, skryf Blommestijn. Christus baan die weg vir die mens en skep die ruimte vir die mens om ook die intieme verhouding met God te ervaar. Gedurig, ontdek mense, word ‘n mens deur God nuut gemaak, tot nuwe mens geskep.

‘n Mens se lewe is dus nie in die eerste plek op jouself gerig en om jouself te bemagtig nie. Die keuse’s is nie joune om te maak nie.

‘n Mens se lewe bestaan veel eerder daaruit dat jy jou oorgee aan God se skeppende liefde. Dit behels dat ‘n mens na binne kyk, na die ruimte in jou waar God woon, waar ‘n mens steeds weer vanuit ‘n intieme verhouding met God word wat God wil hê jy moet wees.

Waar dit gebeur, word ‘n mens omgevorm om God se wil te doen. Dan word die wet van God die rigsnoer van die lewe.

Deur in die binneste te kyk, in die ruimte waar God woon en met ‘n mens ‘n intieme verhouding aanknoop, raak ‘n  mens vry en ontdek ‘n mens hoe blind ‘n mens kan wees vir die krag van God wat in ‘n mens se binneste vloei.

Friday, January 11, 2013

Groot is onbeantwoorde liefde

Hammarskjøld skryf dat 'n groot liefde dalk nooit beantwoord word nie:

Ons gee en gee liefde aan die ander Dikwels loop die liefde soos water in die woestyn weg. Droë harde insluk van ons pogings tot toegeneentheid is al wat ons sien.

Miskien is dit die beste wat met ons kan gebeur, skryf Hammarskjøld. As ons liefde beantwoord sou word, kan dit kinderlik bly, onvolwasse, klein en dwerg-agtig. 

"Wanneer liefde beantwoord word deur sy meeloper in die Ander en warmte en skuiling word daaraan gegee, sou dit dalk verhinder gewees het om tot volwassenheid te groei." 

Liefde "gee" ons niks nie. Maar in sy wêreld van alleenheid lei dit ons tot wye tonele - van insig.

Onbeantwoorde liefde, maar wat tog nog liefde bly, is ongeëwenaard. Daar is niks groters as hierdie liefde nie. As ons lief het en lief bly, groei daar in ons binneste dieper verstaan. Ons worsteling om die liefde maak ons ryper en sterker. 

Ek dink aan die merkwaardige boek van moeder Teresa waarin sy in brief na brief vertel van haar brandende liefde vir Christus. En op elke bladsy byna, lees 'n mens hoedat sy vertel dat dit vir haar voel asof haar liefde nooit beantwoord word nie. 

'n Mens staan verstelpt voor die grootheid van haar liefde.

Hammarskjøld laat my bietjie meer hiervan verstaan. 

Stilte was die antwoord op haar liefde - sodat dit groter, sterker en volwasser kon word.

Heeltemal van 'n ander kant af laat dit my dink aan die pa wat sy seun om die draai sien verdwyn het. Dag na dag het hy op die seun gewag. Vir tye en tye was sy vaderliefde onbeantwoord. Sy geliefde seun was die verlore seun. En die pa het dag na dag dieper in sy liefde moes groei.

Tydloos, groot en groots in hierdie onbeantwoorde liefde.  

Thursday, January 10, 2013

God in die oop veld.






Op pad terug van ‘n dorps-takie, in my motor, luister ek ‘n storie van ‘n koerierbestuurder oor die radio.

Dit is ‘n voorspelbare verhaal. Hy vertel hoe ongeduldig motoriste op die pad kan raak. Flikkerende ligte, op-die-stert van die motor voor hulle wat hul pad versper, ongeduldige en gewaagde verby-steek is die kultuur van die mens wat niemand voor hom of haar in die pad duld nie en altyd, altyd die ekstra sekonde wil wen.

Ek voel skuldig.

Maar, bietjie onverwags en selfs losserig, val die verteller weg met ‘n herinnering aan die dag toe hy, moeg na twee dae op die pad, ‘n motor agter hom sien en, gedienstig, plek maak sodat dit verby kan kom.

Die sprong in die verhaallyn laat my dink hy wil eintlik hart skoon-maak – ‘n lank opgekropte ervaring uitkry uit sy binneste en met ander deel.

Die vrou wat verby hom ry is ‘n “swart dame,” vertel hy, wat vriendelik vir hom wuif om dankie te sê.

Dit klink asof hy hiermee iets moois van haar wil sê. Sy is erkentlik, al is sy haastig. Sy is nie die gewone jaagduiwels nie.

‘n Ent later sien hy haar motor langs die pad lê. Dit het gerol en sy lê in die bloedige son en hitte van die dag langs haar motor in die oop veld.

Twee mans op die toneel stop hom en vertel hom wat gebeur het.

Hy gaan kniel by haar. Die vrou, by haar bewussyn, se eerste woorde aan hom is dat sy weet sy gaan sterf.

Hy gaan haal haar handsak in die kar en kry ‘n Bybel daar. Hy sit alles netjies langs haar neer, terwyl die twee mans ‘n sambreel oor haar hou.

Die polisie is naderhand daar en ‘n ambulans op pad. Haar man is in kennis gestel van die ongeluk. Alles is georganiseerd.

Ek sit terug, dit klink goed. Alles is onder beheer.

Hy vertel sy verhaal verder – amper saaklik. Die vrou sê weer vir hom dat sy weet sy gaan sterwe.

Hierdie keer beweeg sy verhaal na sy ontknoping. Sy begin, “in haar taal” bid. En, voeg hy by in die stuk wat die omroepster voorlees, hy bid saam met haar, ook in sy taal.

Enkele sekonde’s voor die ambulans opdaag en terwyl die vrou bid, sterf sy , al biddende, waar hy langs haar kniel.

Hy en die twee ander mans het daar in die oop veld onder die skroeiende son, skaamteloos gehuil.

Vir ‘n oomblik, verbeel ek my, hoor ek die omroepster half-sluk as sy die deel lees.

Ek bedink, luisterende na die stil-vertelde storie, hoe belangrik ons verstaan van gebed word wanneer jy so iets hoor.

Want, al het die verteller niks verstaan wat die vrou gebid het nie, is daar oor een ding nie te twyfel nie:

Want, sal Spiritualiteit sê, in gebed, in die verlangende spreke en roep na God, is God self, mistiek, eintlik ondenkbaar, selfs onvoorstelbaar, teenwoordig. Verby alle grense van taal, ruimte en ons klein, beperkte insig is dit, in gebedstyd, Immanuelstyd.

In die skroeiende son, langs ‘n oop pad, in die barre veld, by die sterwende, saam met die wakende, sorgsame reisgenote, wil God wees.

Of ook, in die tuin, in die donkerste , stilste deel van die nag, verlate, terwyl hulle wat waak, aan die slaap raak en mens aan alles twyfel.

Altyd wanneer die mens uitreik verby hom- of haarself na die Verborgene, is God hier. Verborge, ja, maar veel nader as wat ons hart ooit vir ons kan onthul.

Wednesday, January 09, 2013

Sonder gebed is daar net waansin en afgryse


Vasili Razonov, die kontroversiële negentiende eeuse Russiese skrywer het ‘n uitspraak oor gebed gemaak wat dikwels aangehaal word.

Hy skryf: “Daar is geen lewe sonder gebed nie. Sonder gebed is daar net waansin en afgryse.”

Dit is altyd boeiend wanneer ‘n mens lees hoe hoog mense gebed inskat.

‘n Mens lees byvoorbeeld dikwels hoe gebed as die asemhaling van die siel beskryf word. Ontbreek dit, sterf die siel.

Dit is eintlik wat Razonov ook sê.

Maar boeiend is sy alternatief:  “Sonder gebed is daar net waansin en afgryse.”

Dit kan vir vele oordrewe lyk.

Waarom sou Razonov so skryf?

Ek bedink hierdie uitspraak. In my nalees kom ek af op ‘n opmerking wat iemand oor gebed skryf: “gebed is so belangrik omdat ‘n mens God onthou.”

In die onthou van God kom God ons lewe binne. Gebed is veel meer as om met God te praat. Gebed is, veel eenvoudiger, om by God te wees.

Ons bedink dit nie altyd bewustelik nie, maar ons lewe in onsself, ingetrek in ons eie klein bestaan, is veel meer afgryslik en waansinnig as wat ons besef.

Om sonder gebed te wees, is om sonder God te wees. Die lewe word louter hel. Dit word gevul met waansin en afgryse. Die geestelike is nie daar nie. Die Gees van krag en liefde ontbreek.

Paulus het die lewe buite die Gees immers as volg beskryf: “jaloesie, twis, woede, selfsug, tweespalt, groepvoming, afguns” (Gal.5:29-30 IB). Pure waansin, iets afgrysliks.







Tuesday, January 08, 2013

In eenvoud in God se teenwoordigheid.

-->
Ek onthou hoe ek die  tweede Afrikaanse vertaling van Thomas a Kempis se Die Navolging van Christus ervaar het toe ek dit moes geresenseer het.

Die inhoud daarvan was op die oog af heel prakties, doodgewoon en, het ek by tye gevoel, herhalend. Dit lyk na ‘n eenvoudige, eintlik simplistiese boek – soos Waaijman dit ook beskryf.

Maar, het ek destyds geskryf, dit is ‘n boek wat ‘n mens nie soos ‘n storie lees nie. Jy lees dit stukkie vir stukkie. Ruminerend, herkouend.

En dan was daar by tye die wonderlike lewenswysheid en die sterk bewussyn van God se liefdevolle teenwoordigheid wat my geraak en geboei het. Sy viering van die liefde in Boek 4 is enige dag net so aangrypend soos 1 Korintiërs 13.

En, het ek later besef, jy lees die boek in die lig van die geheel om nog meer daarby ingetrek te word en daardeur aangespreek te word.

Eers wanneer ‘n mens die gang van die boek in gedagte hou, begin jy agterkom waarom geslagte van mense die boek as ‘n bron van geestelike groei en inspirasie gelees het.

Net om hieroor na te dink, bring ‘n stuk geestelike verryking.

Daar is vier afdelings:

Daar is, eerstens, wenke (nie reëls nie!) vir die geestelike lewe in boek 1. Hier het ‘n mens te doen, volgens Waaijman, met die ommekeer wat in mens se lewe moet plaasvind wanneer jy op jou geestelike reis vertrek. Op die weg onderskei ‘n mens die lig van die duisternis en groei jy na die lig toe. Waaijman skryf hieroor: “die selfgenoegsame wete, die ongeordende drifte en die strikke van sosiale vervlakking word verlaat, om binne te gaan in die waaragtige eenvoud, die luisterbereidheid en die onderlinge liefde. Op die manier kom die wêreld van God aan die lig.”  ‘n Sin om aan te kou – en wat wêrelde van betekenis oproep. Thomas, in ‘n tyd van vervlakking in die korrupte kerk en maatskappy, vra dat ‘n mens moet iewers moet begin om daarmee te breek. Die reis moet begin en ‘n mens moet goed weet waarheen jy reis.

Dan volg in Boek 2 die wenke wat met die mens se innerlike te doen het. Dit gaan in die deel om ‘n godsdiens wat meer is as blote pligpleging, as blote formaliteit en as uiterlike handeling. In hierdie opsig gaan dit in die Navolging om die onderskeiding van wat werklik saak maak, wat godsdiens innerlik aan ons doen en hoe dit ons transformeer. Hier is daar sprake van ‘n wedersydse innerlikheid van God en mens. Wie sy innerlike oopstel vir God, deel in die innerlike van God. Met groeiende toewyding en innigheid, skryf Waaijman, gaan ‘n mens binne in die innerlikheid (interioritas) van God. Dit gebeur wanneer ‘n mens God in jou innerlike toelaat. Die gevolge kan jou nie onaangeraak laat nie. Want waar God in mense woon, leef ‘n mens heilsaam. Om met God innerlik te wandel vra ‘n pynlike proses van afsterwe aan jouself, van onthegting aan jouself. Hoe meer ‘n mens sterf aan eie belang, hoe meer lewe ‘n mens vir God. Ja, dus, dit gaan om die mens se innerlike – maar dan om die innerlike as die woonplek en werkplek van God.

In boek 3 skryf Thomas oor die nagmaal (nie, soos in die meeste teks-uitgawe’s in boek 4 nie). Die nagmaal is ‘n belangrike deel van die geestelike reis: ‘n Mens ontdek Christus as die ewige middelpunt van die lewensweg. ‘n Mens groei in gelykvormigheid aan Christus en deur  Hom draai ons na die ewig lig van die waarheid, wat God is (Waaijman). Maar hoe word ons gelykvormig aan Christus? Veral deur die nagmaal, maar ook deur Bybellees, deur naasteliefde, deur gebede, deur die oorskryf van manuskripte (‘n tipiese kloosterbedrywigheid) en deur onderwys. Dit is alles  geestelike oefeninge waardeur ons Christusgelykvormig word.

Boek 4 handel oor die innerlike vertroosting. Hier praat Thomas oor die voltooing van die geestelike reis wanneer ons uiteindelik die troosryke genade vier. In die laaste verse van die boek skryf Thomas: “Die voltooing van alle goeie dinge, die hoogtepunt van ons lewe en die diepste grond van ons spreke is U. En die sterkste troon van U dienaars is om op U te vertrou bo alles.”

Elke hoofstuk van die Navolging moet in die boeke en in die lig van die hele teks gelees word. Soos die naald van ‘n kompas altyd na die noorde wys, so is elke wysheidspreuk en aforisme in die Navolging steeds weer gerig daarop dat ons bewus moet wees van God se liefde en die weg daarheen. Dit gaan om geestelike groei, steeds meer en meer op soek na die diepere bewussyn van die goddelike omgee en troue liefde. In ons geestelike reis rus ons en eindig ons in die goddelike troos. Meer nog, dit wat werklik saak maak is om in God se teenwoordigheid geborge te wees. Dit is ons enigste troos. 

Waaijman skryf oor die vraag of die Navolging van Christus 'n simplistiese boek is. Hy antwoord: "Dit is nie eenvoudig om die boek te lees nie. 'n Mens het 'n stuk eenvoud daarvoor nodig. Maar by die eenvoud moet 'n mens met 'n kritiese insig en met kritiese versigtigheid lees terwyl 'n mens 'n "gedugte leesvertraging" handhaaf. 

Die Navolging se eenvoud is dus bedrieglik. Dit is 'n boek gelaai met insigte. Dit is nie verniet 'n klassieke teks  nie: die versigtige, geduldige leser wat presies en sorgvuldig lees ontdek daarin 'n mistieke mede-reisiger op die geestelike lewensweg. 


Monday, January 07, 2013

Spiritualiteit onthul die dieper sin van ons daaglikse lewe.

In vandag se Trouw is daar ‘n artikel oor spiritualiteit wat dien as voorbereiding en deel van ‘n Nederlandse maand vir spiritualiteit wat op 12 Januarie begin. 

Die artikel maak ‘n interesante punt: Spiritualiteit is vreemd vir vele mense. Dit is veral die geval waar dit geassosieer word met sekere praktyke wat eenvoudig op die oog af weinig met mense se alledaagse bestaan te doen het. Mense kyk dus met argwaan na alles wat so oor Spiritualiteit geskryf word.  

Die skryfster verwys na die volgende "vreemde" onderwerpe: “klankschaalmeditatie, soulfullness klankontspanning, verstilling als levenskunst, meditatie, mineralenorakel (?), de goddelijke driehoek, verwijlen bij je ziel, het ritme van de stilte en spiritueel afvallen.”

Al hierdie aspekte van die Spiritualiteitstoneel in Nederland het ‘n ongewone karakter. Dit is sake wat vir die gewone mens min beteken en heeltemal onverstaanbaar is. Dit raak of interesseer hulle nie.

Ook hier by ons word veel gewerk met hierdie "ongewone" spiritualiteit met aandag aan sake soos meditasie, afsondering en opsoek van stilte. En ook hier vind mense Spiritualiteit as gevolg daarvan vreemd, onbelangrik en ontersake. Dit is iets wat hulle in hul "gewone" bestaan nie ken nie en wat hulle ongemaklik laat voel.

Sulke oefeninge is dus besig om ‘n groot groep mense van spiritualiteit af te skrik.
Mense soek eerder iets konkreets, wat hulle aan die bas kan voel. Hulle wil Spiritualiteit in die alledaagse lewe kan beleef.

Aan die einde van hul lewens wil mense juis ervaar dat hulle hul lewe sinvol geleef het en wil hulle nie spyt wees oor wat hulle aan lewensvreugde ontbeer het nie of oor dinge wat hulle weggeneem het van hulle normale lewensgang.

Hulle wil nie ‘n Spiritualiteit ontvang wat hulle uit die wêreld wegdryf of hulle lewens ondraaglik maak nie. Spiritualiteit moet nie “iets swewerigs” wees nie.

Hoewel ek hierdie argument kan verstaan, moet ‘n mens Spiritualiteit ook na die ander kant afskerm. Neem byvoorbeeld wat die outeur skryf: “die dagelijkse werkelijkheid is ten slotte voor de meeste mensen de hoofdcontext waaruit men betekenis haalt, de eerste zingevingcontext.” 

Dit klink goed en aanvaarbaar. Baie hang egter af van hoe ‘n mens die “daaglikse werklikheid” verstaan.

Dit is ongetwyfeld so dat mense hier en nou sinvol wil leef. Hulle wil inderdaad voel Spiritualiteit help hulle om in die daaglikse bestaan betekenisvol te leef. Die geskiedenis van Spiritualiteit bevestig juis dat dit alles te doen het met die harde werklikheid waarin mense leef en waarin mense sin soek.

Maar die daaglikse werklikheid is ook hard, onsimpatiek, ‘n gesleur, ‘n gejaag, onrustig, vervelig, pynlik en soms net eenvoudig aaklig. Hierdie werklikheid kan vir vele mense sinloos wees. Spiritualiteit kan nie so ‘n werklikheid net oppervlakkig dokter of bevestig asof dit die laaste woord is nie.

Spiritualiteit gaan dus nie bloot net om mense gelukkig te maak nie, asof dit ‘n tipe anti-depressant is nie. Die goedvoel-benadering tot Spiritualiteit sal net so ‘n nekslag daarvoor wees. Spiritualiteit, hoe nou ook al verbind met die werklikheid, daag soms hierdie werklikheid fundamenteel uit.

Nietemin is ek aangespreek deur die punt van die artikel: spiritualiteit is nie net werklikheidsbevraagtekend nie. Dit is ook werklikheidsbevestigend. En te min werk ons dalk met die groot vraag op watter maniere Spiritualiteit ons help om ons daaglikse bestaan as spesiaals en as sinvol te herken.

Hier is die artikel:

Elk mens is spiritueel, maar weet het vaak niet
MARISKA OVERMAN, HBO-THEOLOOG EN DOCENT IN SPIRITUELE ZORG, OMGAAN MET DE DOOD, ROUW EN ZINGEVING − 07/01/13, 12:30

© Thinkstock.
Menig Nederlander zal blijven roepen dat hij niet spiritueel is zolang het geassocieerd blijft met 'geloof' of 'iets zweverigs'.
Is de maand van de spiritualiteit een feestje voor intimi, of is het een middel om 'het grote publiek' te laten nadenken over spiritualiteit? Ogenschijnlijk het eerste. En dat is een gemiste kans.

Afgelopen vrijdag verscheen ter gelegenheid ervan een speciale bijlage bij deze krant. Vanaf 12 januari is het weer zover; de maand van de spiritualiteit start. Een maand die met een aan zekerheid grenzende waarschijnlijkheid voorbij zal gaan aan een grote groep mensen omdat zij zichzelf beschouwen als 'niet spiritueel' en zich niet aangesproken voelen tot de activiteiten.

Spiritualiteit is een lastige term. Er zijn meerdere definities en waarschijnlijk heeft zo ongeveer elk individu zijn of haar eigen opvatting van de betekenis er van. In veel gevallen komen bij mensen associaties op met 'zweverig' en 'iets met geloof'. 'Daar doe ik niet aan, aan spiritualiteit', wordt ook vaak gezegd.

Maar niet aan spiritualiteit doen, is een onmogelijkheid. Elk mens is spiritueel. Spiritualiteit gaat namelijk over dat wat je beweegt, dat wat zin geeft, betekenis geeft aan je leven. Het gaat over bewust worden en bewust zijn van die 'drive'. Dit kan met inbegrip van, maar ook volledig los staan van religie, van godsdienst of van een geloof in een transcendente werkelijkheid van welke aard dan ook. Spiritualiteit is in veel gevallen juist heel aards en ligt dichtbij de persoon zelf. Naasten, familie, werk, hobby's: allemaal drijfveren voor mensen, beweegredenen, zingevende factoren.

Kijkend naar de activiteiten die op de agenda staan in de maand van de spiritualiteit zijn zaken te zien als klankschaalmeditatie, soulfullness klankontspanning, verstilling als levenskunst, meditatie, mineralenorakel (?), de goddelijke driehoek, verwijlen bij je ziel, het ritme van de stilte en spiritueel afvallen.

De gemiddelde Nederlander wordt niet warm van dergelijke activiteiten. Het roept zelfs weerstand op, en bevestigt de associaties die men al had bij het woord spiritualiteit. Het zou goed zijn om meer aandacht te besteden aan bestrijding van de vooroordelen rondom de terminologie en ook activiteiten te bedenken die meer raakvlakken hebben met de dagelijkse werkelijkheid van de meeste mensen; die dagelijkse werkelijkheid is ten slotte voor de meeste mensen de hoofdcontext waaruit men betekenis haalt, de eerste zingevingcontext.

Misschien is het een goed idee om het thema van volgend jaar het tegenovergestelde te laten zijn van het thema van dit jaar ('Stilte'): het geluid van spiritualiteit. Een thema waarmee gewerkt kan worden aan het imago van spiritualiteit. Want imago is enorm belangrijk. Zolang ook een goedbedoeld initiatief als de maand van de spiritualiteit nadruk blijft leggen op die kant van spiritualiteit die vooral negatieve associaties oproept bij het grote publiek, zal menig Nederlander blijven roepen dat hij/zij niet spiritueel is.

Is dat uiteindelijk erg? Kunnen we leven met het gegeven dat de grote massa zichzelf als niet-spiritueel beschouwt? Vast wel.

Maar ergens denk ik dat een wat groter bewustzijn van eigen drijfveren en vermogens een mens een prettiger leven geeft. Een leven dat, als het uiteindelijk eindigt, geen vragen op een sterfbed laat rondzingen als: "Had ik maar meer uit het leven gehaald".

Voor zover we weten hebben we maar één leven, dus niets mis mee om daar wat bewuster in te gaan staan. Voor jezelf, maar ook voor degenen naast je. Oók voor al die mensen die zogezegd niets hebben met spiritualiteit. Of beter: juíst voor hen. Want degenen die al redelijk bewust zijn, die hebben het zelf al gevonden. In de maand januari in ieder geval wel.

Sunday, January 06, 2013

Oor die waarde van geestelike oefeninge.

Geestelike oefeninge word al hoe meer gewild. In onlangse tye het dit ook in Protestantse kring ‘n opbloei begin beleef.

In die geskiedenis van spiritualiteit was dit dikwels die geval. Mense het gesoek om hulle in te oefen in ‘n lewe van deugde. Dit het hulle gedoen deur die afrigting van hulle gees en liggaam. ‘n Belangrike manier van oefening is veral meditasie, terwyl baie aandag ook gegee word aan gebede.

Askese is ook so ‘n belangrike geestelike oefening.

Die belangstelling in geestelike oefening was ook in die tyd van Thomas a Kempis groot.

Die gevolg van hierdie belangstelling in geestelike oefeninge in die afgelope tye en in Thomas se tyd, word sy Navolging van Christus dikwels gelees as ‘n boek wat op askese fokus.

En tog het dit vir Thomas om veel meer as net sekere geestelike praktyke gegaan.Hieroor skryf Waaijman 'n belangrike artikel.

Wanneer ‘n mens sy boek lees, help Thomas ‘n mens om die plek van spirituele oefeninge in die regte lig te sien. Hy weier om te voorskriftelik daaroor te wees. Hy sal byvoorbeeld ruimte laat vir baie soorte oefening en hy beklemtoon dat ‘n mens se geestelike oefening baie kan wissel. Verskillende mense doen verskillende geestelike oefeninge (1.19.22) en sal op verskillende geleenthede en tye sekere oefeninge bo ander nodig hê of verkies. Wanneer dit swaar gaan of wanneer ‘n mens ontspanne is, sal ‘n mens verskillend ingestel wees. In tye van rou en met feesvieringe sal oefeninge ook heel anders lyk.

Maar belangriker is dat Thomas die geestelike karaktere van geestelike oefening beklemtoon. Dit gaan vir Thomas nie om die oefeninge self of die inspanning waarmee mense daarby betrokke is nie. Hy plaas hulle in ‘n geestelike raamwerk en gee aan hulle waarde omdat hulle ‘n geestelike doel en nut het.

Vir Thomas is ‘n geestelike oefening nodig omdat dit ‘n mens volwasse, geïntegreerd en sterk maak. Jou uiterlik en innerlike lewe word in ‘n noue eenheid verbind. Jy oorkom die spanning tussen wat na buite en na binne gebeur. Wat ‘n mens deur geestelike oefeninge doen werk deur op jou innerlike lewe. Jou binneste word deur die buitenste gevorm. Geestelike oefening bevorder die suiwerheid van die hart. Sulke oefening vertel iets van jou binneste. Jy word bewus daarvan dat jy tot in jou binneste deur God gesien word.

Thomas se houding teenoor geestelike oefeninge word deur drie dinge geïllustreer:

Neem byvoorbeeld die lees van die Skrif as die belangrikste geestelike oefening. ‘n Mens kan die Bybel van buite goed ken en deeglik lees sonder dat jy deurdring verby die letter van die teks tot by die geestelike inhoud daarvan. Die uiterlike boodskap van die teks laat geen spoor op jou innerlike lewe nie. Die doel van die geestelike oefening is egter om ‘n mens te laat leef in die lewe van Jesus. Skriflesing beteken om jou in die lewe van Jesus in te leef. Daardeur moet ‘n mens ook tot die uitbeelding van Jesus in die daaglikse omgang kom. Deur die innige, verlangende en geestelike lees van die Bybel word die mens ingevoer in die liefde van God en kom woon ‘n mens in daardie liefde.

Ook die viering van die nagmaal as belangrike geestelike oefening is iets waarna ‘n gelowige intens verlang. Die nagmaalsganger verlang om Christus self as geskenk te ontvang. Thomas skryf: Ag, laat my U teenwoordigheid ervaar. Verteer my en vorm my in U om” (3.16.10). Die nagmaal wil die nagmaalsganger aan Christus gelykvormig maak. Christus verenig hom met die mens en maak hom/haar deel van sy brandende liefde – skryf Waaijman oor Thomas se siening. ‘n Mens neem baie versigtig deel aan hierdie geestelike oefening en soek om met ‘n suiwer hart die nagmaal as ‘n geskenk God Christus te vier. Maar die gelykvormigheid met Christus is net ‘n teken van die vereniging met God: die nagmaal herinner ‘n mens aan die ewige aanskouing van God. Uiteindelik gaan dit dus om die verwagting van God se teenwoordigheid en die toekomstige ervaring van God se heerlikheid. Om die nagmaal te vier is dus besonders. Maar dit is ook maar relatief – groter as die nagmaal is om by God in heerlikheid te kan wees. Nie die geestelike oefening nie, maar die teenwoordigheid van God maak werklik saak.

Thomas praat ook oor die geestelike leergesprek (collatio) as ‘n derde, belangrike geestelike oefening. Waaijman kontrasteeer die leergesprek met die eindelose gepraat waaraan mense dikwels deelneem, wat ‘n mens so besig hou en wat ‘n mens leeg laat voel en jou nie bewus maak van jou eintlike egte menslike bestaan nie. ‘n Leergesprek is ‘n baie ou geestelike oefening wat mense in groepe bymekaar bring sodat hulle oor belangrike sake kan gesels om beter te kan verstaan en leef. Vir Thomas is dit ‘n kans om “innig” saam met ander mense te wees. Dit laat mense eensgesind in hart en gees voel en bring mense tot die punt dat hulle egte gemeenskap met God ervaar. Ook hier is die groter eenwording met God die doel van die geestelike oefening.

Thomas is dus nie iemand wat oordrewe asketies is nie. Hy soek nie geestelike oefeninge ter wille van die oefeninge nie. Hy soek nie ‘n lewe in stilte en in afsondering nie net om asketies te wees nie. Sy visier is eerder ingestel op ‘n lewe wat in diens staan van God en wat gerig is op die teenwoordigheid van God. Die innerlike lewe wat die teenwoordigheid van God ken, sal na buite ryk en geseënd wees. Waar daar wel stil, asketiese praktyke is, is dit steeds gerig daarop gerig om ‘n mens te omvorm en bewus te maak van die teenwoordigheid van God. 

Ook deur hierdie insigte is Thomas waardevol wanneer in ons tyd so baie oor geestelike oefeninge nagedink word.

Saturday, January 05, 2013

Wanneer daar geen afstand meer tussen God en jou is nie.

Hammarskjold skryf die volgende;

Dit is nie genoeg om jou daagliks vir God beskikbaar te stel nie. ‘n Mens moet net vir God beskikbaar wees. Die geringste afwyking van ‘n mens se lojaliteit aan God skep ‘n opening vir dagdromery, kleinlike praatjies, kleinlike grootpratery, kleinlike gemeenheid – alles die aanhangsels van die doodsinstink.

“Maar hoe het ek God lief?”

“Jy moet God lief hê asof God nie-God is, ‘n nie-Gees, ‘n nie-Persoon, ‘n nie-Substansie: bemin God as die Een, die suiwer en absolute Eenheid waarin daar geen dualiteit is nie. En in hierdie Een moet ons onsself van syn tot nie-syn laat val. God help ons om dit te doen.”

Om hierdie uitspraak te begryp, moet ‘n mens weet dat Hammarskjold vir Meister Eckhart - een van die beroemdste mistici van alle tye - volg. 

Eckhart is bekend daarvoor dat hy die noue eenheid van die mens met God benadruk het. Elke mens, sou 'n mens toegspits kon sê, het God in hom of haar.

God alleen, en net God – dit is waarom dit vir Hammarskjøld gaan wanneer hy oor die mens praat.

‘n Mens moet God lief hê asof daar geen afstand tussen jou en God is nie.

Hammarskjøld neem ook Eckhart se via negativa oor. ‘n Mens moet aan jouself sterf (tot nie-syn word) sodat God alleen in ‘n mens leef. “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” – skryf Paulus. Ek word van syn tot nie-syn. Daar moet in ‘n mens se bestaan totale ruimte wees vir God om te bewoon. En hierdie ruimte word alleen geskep wanneer ‘n mens alle beelde, vorme, voorliefdes en konsepte laat vaar. Immers, God is bo en anders as alles wat ons in menslike denke en taal kan uitdruk.

‘n Mens moet hierdie noue band met en inwoning van God toeëien. Liefde bestaan uit totale toewyding, absolute lojaliteit aan God. ‘n Mens se hele bestaan is op God en die teenwoordigheid van God in jou lewe gerig. Waar dit gebeur, kom God in mense bly. In elke mens is God te vind, want God woon in mense.

Boeiend is die uitkoms van die vereniging met God: waar ‘n mens God lief het, bly die dinge wat ‘n mens tot niet maak uit. Dan is daar nie ‘n gespoggery, gemeenhede,  slegte praatjies nie.

Net die liefde.


Friday, January 04, 2013

Prostitusie.


Hoe gebeur dit dat van die mees progressiewe lande in die wêreld (bv. in Swede) ‘n al hoe strenger, afkeurende houding teenoor prostitusie inneem deur byvoorbeeld mans wat prostitute besoek te straf? Dit lyk asof daar ‘n al hoe sterker groeiende mening groei dat prostitusie veral die menslikheid van vroue aantas en hulle uitlewer aan ernstige gevaar en mishandeling.

Die onderstaande rubriek in gister se Trouw oor ‘n onlangse byeenkoms in die Europese parlement waar prostitusie bespreek is, maak ‘n paar belangrike punte wat hierdie nuwe houding teenoor prostitusie verklaar.

Uit ongeveer dertig lande het tweehonderd organisasies die onderwerp onder die loep geneem. Dit was dus nie ‘n byeenkoms van verkrampte en moraliserende godsdienstige fundamentaliste nie, maar ‘n ingeligte bespreking deur kundiges uit die mees ontwikkelde lande in die wêreld. 

Die rubriek bevat ontnugterende inligting oor hoeveel prostitute mishandel word. 

Ses uit tien prostitute vertel dat hulle al verkrag is en tot 95 persent vertel dat hulle een of ander vorm van liggaamlike geweld beleef het. 

Vroue rapporteer dat hulle weens uiterste armoede gedwing word om teen hul sin geld met hul liggame te verdien. 

Negentig persent van prostitute wil nie hul liggame verkoop nie, maar sê dat hulle nie ‘n keuse het nie. 

Byna 70 persent ly aan post-traumatiese stress-sindroom.

Sulke syfers laat ‘n mens meer as ooit tevore besef hoeveel mense slagoffers is van misdadige, onmenslike en gewelddadige houdings en praktyke wat met prostitusie saamgaan.

Prostitusie, word gesê, is ‘n moderne vorm van slawerny en mense-handel. Dikwels word prostitute deur hul manlike hanteerders uitgebuit, mishandel en selfs gevange gehou. Opvallend is hoe veral vroue verder deur prostitusie in ‘n posisie van minderwaardigheid vasgevang word.

Die skryfster van die rubriek eindig haar bespreking met ‘n verwysing na die situasie in Nederland waar prostitusie as ‘n beroep gelegitimeer word en hulle bedryf as fatsoenlik beskou word (deur veral mans).

Dikwels, grappenderwys, word oor die “walletjies” in Amsterdam gepraat. Min mense besoek die stad sonder om daar ‘n draai te maak nie. En mense praat, verbaas, oor die mooi, veral jong vroue wat so openlik beskikbaar is. 

Min mense besef egter die onbeskryflike leed wat weggesteek is agter die plesierige beeld wat praatjies oor die buurt wil optower.

Weinig bedink die realiteit van die verwonde, ontredderde, vasgevangde mens agter die siellose, mensonterende bedryf. 

Dit is nie die suurknolle wat altyd pret wil bederf wat vra dat ‘n mens dieper nadink oor die vernedering en die verontmensliking wat prostitusie meebring nie. Dit is die suurknolle, die mense wat vere voel vir omgee, respek, vir die inherente waardigheid van alle mense, wat  prostitusie waar vroue hul liggame verkoop, fatsoenlik wil maak of as 'n noodsaaklike euwel wil verdra. 
 

Hier is die artikel:

'Ze zeggen dat slavernij verdwenen is uit de Europese beschaving. Dat is niet waar. Het bestaat nog steeds, maar nu weegt het alleen op vrouwen en het heet prostitutie.' Victor Hugo schreef dit in 1862 en het is nog steeds actueel.

Daarom was het een verademing dat er zulke duidelijke taal weerklonk tijdens de conferentie over prostitutie in het Europese parlement, vorige maand. Prostitutie is een vorm van geweld, werd er gesteld. Prostitutie is een schending van menselijke waardigheid. Prostitutie is een obstakel naar gelijkheid tussen man en vrouw, tussen rijk en arm, tussen meerderheid en minderheden.

Verkracht
De cijfers die over tafel kwamen, logen er niet om. 68 Procent van de vrouwen in de prostitutie heeft symptomen die voldoen aan de criteria voor post-traumatische stress-stoornis. Negentig procent wil uit de prostitutie stappen, maar voelt zich niet in staat. Meer dan zestig procent rapporteert te zijn verkracht.

De conferentie was beslist geen theekransje. Tweehonderd organisaties uit bijna dertig landen tekenden de eindverklaring die opriep tot nieuw prostitutiebeleid. Want er wordt te weinig resultaat geboekt in de strijd tegen mensenhandel.

De oproep werd niet ondertekend door Nederlandse organisaties. Dat is typerend.

Mensenhandelaren
Ons land is een favoriete bestemming voor mensenhandelaren, vooral sinds de opheffing van het bordeelverbod. De prostitutiewereld is een broeinest van keiharde criminaliteit. Maar in Nederland willen we het vak van prostituee graag zien als een gewoon beroep. Want het is betuttelend om je zorgen te maken over hetgeen die vrouwen in hun werk tegenkomen.

Het percentage gedwongen prostituees in Nederland wordt geschat op tussen de vijftig en negentig. De vrouwen die het vak vrijwillig uitoefenen zijn vaak ook gedwongen: door omstandigheden. Door schulden of armoede. Tussen de 80 en 95 procent van de prostituees is slachtoffer geweest van geweld (verkrachting, incest of andere vormen van seksueel misbruik) voor ze in de prostitutie kwamen.

Keurige ondernemers
Maar wij hebben in Nederland een filmmaker als Frans Bromet die drie uitzendingen lang, voor nota bene de NCRV, alles uit de kast haalt om aan te tonen dat er op de Wallen niets aan de hand is. Hij portretteert raamexploitanten als keurige ondernemers - terwijl bekend is dat zij gedwongen prostitutie faciliteren.

Wij hebben een presentator als Matthijs van Nieuwkerk die bezorgd reageert als Lodewijk Asscher vertelt dat hij de criminaliteit op de Wallen wil bestrijden. "Amsterdam gaat toch niet vertrutten? Er horen toch wel hoeren bij de stad?"

We hebben een filosoof als Ger Groot die, ongehinderd door ook maar enige kennis van zaken, degenen die de prostitutiewereld willen aanpakken, beschuldigt van een misplaatst gevoel voor fatsoen. Ja, het gaat hier inderdaad om fatsoen, maar niet in de zin waarin Groot dat bedoelt.

Het wordt tijd dat we ons in Nederland gaan afvragen waarom wij het zó belangrijk vinden dat mannen seks moeten kunnen kopen, dat wij bereid zijn daar zoveel, vaak piepjonge, vrouwen voor op te offeren.

Renate van der Zee is schrijfster van o.a. 'Bitter avontuur', over uitbuiting in Nederland. Elma Drayer is met vakantie.


Thursday, January 03, 2013

Geloof staan nie vyandig teenoor die wêreld nie.


‘n Boek is dikwels uitgelewer aan die reputasie wat dit by sy lesers verwerf. Soms kry ‘n mens dit dat ander lesers so ‘n boek op ‘n ander, nuwe manier lees en tot ander insigte daaroor kom. Dink maar aan die negatiewe manier waarop moderne lesers Uncle Tom’s Cabin lees, terwyl dit met sy verskyning ‘n treffer was wat die aanskyn van Amerika verander het en ‘n groot bydrae tot die stryd teen slawerny gelewer het.

Dit is ook die lot van Die Navolging van Christus wat Thomas a Kempis oor ‘n tydperk van 20 jaar geskryf het. Die boek is in vele opsigte ‘n slagoffer van ‘n interpretasie van lesers wat hulle eie geestelike ervarings op die boek afgelaai het en die impak daarvan gemis het.

Een so ‘n  wanopvatting is dat die boek vyandig is teenoor die wêreld waarin die mens leef. Daar word dan deur kritici van die boek gedink dat dit mense uitnooi om hulle wêreld van duisternis agter te laat en eerder ‘n ander wêreld van lig binne te gaan.

Thomas a Kempis, skryf Waaijman, was egter nie so oppervlakkig nie. Die saak lê by hom heel anders: Hy sien hoe die mens beide ‘n wêreldse duisternis en ‘n wêreld van die lig in sy/haar innerlike omdra. In die heel eerste sin van die Navolging skryf Thomas immers dat ‘n mens van jou blindheid bevry moet word en verlig moet word.

Die donkerte woon dus net soveel in jou soos die lig. Jy vlug nie van ‘n bose wêreld na die wêreld van die lig nie. Jy stry teen die donker wat ook jou binneste beset.

Thomas vra sy lesers in die eerste hoofstuk om van die ydelhede (vanities) van die wêreld bevry te word. Waaijman wys daarop dat die stryd teen uiterlikhede en ydelhede lank nie beteken dat Thomas vra dat ‘n mens van die wêreld ontslae moet raak nie.

Nog duideliker word die totale gebrek aan wêreldvyandigheid by hom wanneer Thomas hierdie wêreldse ydelhede in meer besonderhede beskryf. Hy vra dat sy lesers bevry moet word van hul gejaag na rykdom, hul vertroue op materiële dinge, hul gejaag na erkenning en aansien, hul verslawing aan hul drifte, hul gejaag om in te palm eerder as om ‘n kwaliteitlewe te voer en hul vasklouery aan hul besittings (1.1.-13-17).  Dit is die uiterlike dinge wat die innerlike lewe verstik en bedreig.

Thomas het met hierdie gedagtes kritiek teen die samelewing van sy tyd gelewer. Maar hy het ook die kerk in sy visier gehad. Hy verwerp die bygelowigheid van mense, hulle wettiese lewenswyse, die klere wat sommige geestelikes aangetrek het om indruk op ander te maak, die oppervlakkige gebruik van die sakramente en die spoggery met godsdienstige kennis. Hierdie dinge is ook ydel en het nie plek in die lewe van ‘n mens nie.

Waaijman verduidelik die oppervlakkige en uiterlike lewensstyl verder aan die hand van Martin Buber se boek, Ich und Du. Ons wil die wêreld opeis, beheers en ten alle koste gebruik tot ons voordeel. Die wêreld word ‘n “besitting”, ‘n voorwerp, ‘n “dit” wat ons hanteer en manipuleer.

Hierteenoor staan die wêreld wat God aan mense in liefde skenk as ‘n gawe en as ‘n vreugde. Die wêreld kom as ‘n geskenk na mense wat eerbiedig daarmee omgaan. Dan herken ‘n mens die wêreld soos God dit sien. Meer nog – dan ontdek ‘n mens die binnekant van die skepping. Jy sien die werklike, dieper kant van die wêreld waarin jy leef.

Dit is in hierdie wêreld, soos ‘n mens dit in sy kern en binnekant raaksien, dat ‘n mens troos vind.

Dus: Thomas vra sy lesers om van die ydelhede en uiterlikhede ontslae te raak. Dit is nie altyd maklik nie. ‘n Mens gaan deur beproewinge wanneer ‘n mens so wil leef. Jy ervaar eensaamheid, krisis, teenspoed, teleurstellings, ontnugterings, bekommernisse, kwellings en verdriet.

Maar, som Waaijman Thomas op, al die dinge dwing ons om dieper te soek en na die innerlike te verlang. ‘n Mens moet na die geestelike voedsel van die woord, na liefdevolle verhoudings tussen mense en na die opregte gebruik van die sakramente soek.

Soms kry ‘n mens dan wel troos. Dit is iets wat ‘n mens ten alle koste soek en begeer.

Maar ander tye weer word die troos ons ontneem. Want troos is maar net ‘n voorlopigheid. Waar die troos van ons weggeneem word, is God besig om God self aan ons te skenk. Dus, wanneer ‘n mens teen die ydelhede van die wêreld stry en die wêreld leer ken as ‘n plek waarin ‘n mens troosvol in liefde met ander kan verkeer, is dit nie die einde van ‘n mens se geestelike reis nie.

Die einde van die geestelike reis is om met God verenig te word. Dit is die belangrikste wat ‘n mens kan vind. Alleen hierdie vereniging is blywende en onvernietigbaar.

Wednesday, January 02, 2013

Die kwyning van die kerk in Nederland.

Hier is 'n berig in vandag se Trouw oor die kerklike lewe in Nederland en die gevolge van die sekulariseringsproses.

Een van die leser-reaksies op die berig vra: waar elders kan 'n mens nog vandag die Here in gees en waarheid dien? 'n Ander reaksie vind die sluiting van geboue nie so erg nie, want "Jesus het nie massiewe kerkstrukture in sy  bediening in gedagte gehad nie."  (Van iemand wat klaarblyklik min weet van die tempel en sinagoge's).  

De komende jaren krijgt tussen de 30 en 40 procent van de protestantse kerken in Nederland een andere bestemming. Dat heeft Peter de Lange, voorzitter van de Vereniging Kerkrentmeesterlijk Beheer (VKB) gezegd tegen de NOS.

De sanering is plaatselijk al in volle gang, de schattingen van De Lange geven een inzicht in de omvang die de operatie landelijk in de nabije toekomst zal krijgen. De slinkende gemeentes kunnen de belangrijkste kostenposten, het salaris van de voorganger en het beheer van het kerkgebouw, steeds moeilijker opbrengen.

Middeleeuws en modern
De VKB is verbonden aan de Protestantse Kerk in Nederland (PKN), die op dit moment tweeduizend kerkgebouwen telt. Daarvan zullen zes- tot achthonderd verdwijnen of een andere functie krijgen. Veel kerken hebben een monumentale status. Dat geldt niet alleen voor de vele middeleeuwse kerkgebouwen in steden en in dorpen, ook ettelijke modernere godshuizen staan op de monumentenlijst.

In Leeuwarden zijn dat bijvoorbeeld de voormalige gereformeerde Pelikaankerk en de Koepelkerk. Een besluit van de algemene kerkenraad in Leeuwarden om in die stad vier van de zeven PKN-kerken te sluiten, lokte in het afgelopen jaar veel protest uit.

In Den Haag gaan, als het aan de algemene kerkenraad ligt, acht PKN-kerken dicht. Aanvankelijk viel het doek voor zeven gebouwen, maar in november werd bekend dat de PKN ook de Vredeskapel in de Archipelbuurt wil afstoten. Voor de afgestoten kerkgebouwen wordt nog een bestemming gezocht.

Alternatieve exploitatieplannen
Niet alle sluitingen staan al vast. Gemeenteleden proberen soms hun kerkgebouwen te redden met eigen alternatieve exploitatieplannen.

De sanering beperkt zich niet tot de PKN. De gereformeerde Kerk van Kampen wil twee van haar drie kerken sluiten.

In Amersfoort ontstond beroering over het besluit vier katholieke kerken af te stoten. Het bisdom Den Bosch besloot in mei vorig jaar om in diverse parochies negen kerken te sluiten. Ook de sanering in dit bisdom roept veel weerstand op. De sluiting van katholieke kerken is gecompliceerder dan die van protestantse kerken omdat ze relatief veel kunst bevatten, waarvoor ook een bestemming moet worden gevonden.


Tuesday, January 01, 2013

As die geneesheer siek is.

Thomas a Kempis se Navolging van Christus is ‘n boek wat ‘n mens op vele bladsye roer.

Tog lyk dit  vir sommige mense asof sy appel nie meer met moderne gelowiges kommunikeer nie.  Sulke mense dink (en skryf) dat die rede hiervoor gesoek moet word in die feit dat die Navolging min met sosiale geregtigheid te doen het.

Dit is, beweer hulle, ‘n boek wat die wêreld ontvlug en nie die onregverdige strukture daarvan konfronteer nie.

Maar Thomas se boek is gebore uit en deurdrenk met verset teen die korrupsie en sosiale ongelykheid/onderdrukking van sy tyd. 

Hy het die magsmisbruik en magsvertoon van die kerk en die samelewing deeglik raakgesien. Dit is meer as duidelik uit Thomas se lewensverhaal. Hy het met verontwaardiging gesien hoe die armes uitgebuit word, mense gemanipuleer word en hoe kerkleiers hulleself verryk het ten koste van die gewone lidmaat.

Thomas was deel van die Moderne Vroomheidsbeweging en die Broeders van die Gemeenskaplike Lewe wat die kerk wou hervorm het.  

Keer op keer kry sy woorde in die Navolging besondere trefkrag wanneer ‘n mens dit lees as reaksie op die kerklike praktyke van sy tyd.

Wat Thomas van sy lesers vra lyk soms na alledaagse goed en na persoonlike vroomheidsideale. Maar dit is ideale en praktyke wat nie meer in die kerk gevind is  nie. Thomas beklemtoon hulle in sy poging om die kerk geestelik te hervorm. 

Thomas vra dus dat mense in sy gemeenskap anders moet leef as in die kerk van daardie tyd met sy uiterlike vertoon en sy innerlike armoede. Wat hy vra is juis kritiek teen alles wat in sy omgewing verkeerd geloop het.

Hy kyk egter ook dieper as die gewone dinge. Hy sien die diepere oorsake van die korrupsie, agteruitgang en magsspel in die kerklike lewe.

En dit is op hierdie vlak dat hy sy boek skryf: Julle moenie soek, soos die belangrike, korrupte mense van julle tyd na die uiterlike, ydele en manipulerende dinge nie.

Wat saak maak, is die innerlike, die nederige, die hulpvaardige, die ontfermende.

Nog belangriker: Uiteindelik is die regte verhouding met God wat die deurslag vir die alledaagse praktyk gee. Dit alles dryf die omgee vir ander en dien die liefde vir die wêreld.  

Thomas beklemtoon daarom die eenvoudige gemeenskaplike lewe van mense wat juis arm/eenvoudig leef en wat soek om die armes by te staan, onder andere veral deur opvoeding.

Dit is die geestelike vorm wat hy aan sy kritiek teen die onregverdige sisteme van sy tyd gee. 

Hy beveg ongeregtigheid op 'n unieke manier in sy Navolging deur sy fokus op die gelowige gemeenskap se transformasie. Hy en die Broeders van die Gemeenskaplike lewe is beroemd vir hul opheffingswerk. Hulle het soms so ernstig met die kerk en sy magsmisbruik gebots dat hulle selfs verbied is om te preek (Groote).

Thomas se "mistiek", die intieme verhouding met God, is 'n "nugtere" mistiek. Dit is 'n mistiek wat 'n praktiese, opmerklike verskil maak en veral na vore kom in 'n reg doen, 'n regverdige bestaanswyse. Sy mistiek is die beeld wat egte godsdiens moet hê juis teenoor die korrupsie van sy tyd.

'n Mens kan nog ander sosiale perspektiewe van Thomas se mistieke sin vir geregtigheid na vore bring. In die algemeen is dit egter waar dat Thomas se boek moeilik verstaan kan word sonder om te weet van die korrupte strukture in sy tyd. Sy boek is by uitstek 'n verset daarteen.

Thomas skryf egter sy boek nie vir die korrupte kerklike leiers van sy tyd nie. Hy skryf vir mede-gelowiges wat, soos hy, na verdieping in hul geloofslewe en na egte kerk-wees soek. Hulle moet alles wees wat die kerk nie vir sy lidmate was nie.

Sy boek bring vir my 'n dimensie na vore wat dikwels in kontemporêre vorme van sosiale protes teen onregverdige aksies en strukture ontbreek. Dikwels word vanuit die kerk uitbuiters ontmasker en aangeval. Die aard van sulke protes-aksies verdien nadere aandag, veral omdat hulle dikwels na my mening die situasie van konflik eindeloos vertroebel en verskerp. 

Thomas kritiseer o.a. die uitwendigheid van godsdiens met 'n uitgebreide liturgie en rituele (al die vorme van nagmaal waarvoor die armes ten duurste moes betaal). Dit is egter opvallend hoe sosiale geregtigheid in sy kritiek na vore kom. Ek dink Thomas dra 'n belangrike punt by tot die debat oor hoe die kerk oor ongeregtigheid moet praat: moet tog nie te hoog opgee oor sosiale geregtigheid as jy nie self innerlik nuut en vernuwe is nie. En, tweedens, alle sosiale kritiek moet uiteindelik transformatief wees – dit moet jouself, maar ook ander mense help om tot geloofsgroei te kom. Uiteindelik is die belangrikste om ook in jou sosiale kritiek in die teenwoordigheid van God te leef – 'n mistieke insig met diep relativerende waarde. Dit is nie regverdige strukture wat die hoogste goed is nie. Wat werklik saak maak is dat die verheerliking van God deur niks ontluister of gestuit word nie.


Blog Archive