Op
pad terug van ‘n dorps-takie, in my motor, luister ek ‘n storie van ‘n
koerierbestuurder oor die radio.
Dit
is ‘n voorspelbare verhaal. Hy vertel hoe ongeduldig motoriste op die pad kan
raak. Flikkerende ligte, op-die-stert van die motor voor hulle wat hul pad
versper, ongeduldige en gewaagde verby-steek is die kultuur van die mens wat
niemand voor hom of haar in die pad duld nie en altyd, altyd die ekstra sekonde
wil wen.
Ek
voel skuldig.
Maar,
bietjie onverwags en selfs losserig, val die verteller weg met ‘n herinnering
aan die dag toe hy, moeg na twee dae op die pad, ‘n motor agter hom sien en,
gedienstig, plek maak sodat dit verby kan kom.
Die
sprong in die verhaallyn laat my dink hy wil eintlik hart skoon-maak – ‘n lank
opgekropte ervaring uitkry uit sy binneste en met ander deel.
Die
vrou wat verby hom ry is ‘n “swart dame,” vertel hy, wat vriendelik vir hom
wuif om dankie te sê.
Dit
klink asof hy hiermee iets moois van haar wil sê. Sy is erkentlik, al is sy
haastig. Sy is nie die gewone jaagduiwels nie.
‘n
Ent later sien hy haar motor langs die pad lê. Dit het gerol en sy lê in die
bloedige son en hitte van die dag langs haar motor in die oop veld.
Twee
mans op die toneel stop hom en vertel hom wat gebeur het.
Hy
gaan kniel by haar. Die vrou, by haar bewussyn, se eerste woorde aan hom is dat
sy weet sy gaan sterf.
Hy
gaan haal haar handsak in die kar en kry ‘n Bybel daar. Hy sit alles netjies
langs haar neer, terwyl die twee mans ‘n sambreel oor haar hou.
Die
polisie is naderhand daar en ‘n ambulans op pad. Haar man is in kennis gestel
van die ongeluk. Alles is georganiseerd.
Ek
sit terug, dit klink goed. Alles is onder beheer.
Hy
vertel sy verhaal verder – amper saaklik. Die vrou sê weer vir hom dat sy weet
sy gaan sterwe.
Hierdie
keer beweeg sy verhaal na sy ontknoping. Sy begin, “in haar taal” bid. En, voeg
hy by in die stuk wat die omroepster voorlees, hy bid saam met haar, ook in sy
taal.
Enkele
sekonde’s voor die ambulans opdaag en terwyl die vrou bid, sterf sy , al
biddende, waar hy langs haar kniel.
Hy
en die twee ander mans het daar in die oop veld onder die skroeiende son,
skaamteloos gehuil.
Vir
‘n oomblik, verbeel ek my, hoor ek die omroepster half-sluk as sy die deel lees.
Ek
bedink, luisterende na die stil-vertelde storie, hoe belangrik ons verstaan van
gebed word wanneer jy so iets hoor.
Want,
al het die verteller niks verstaan wat die vrou gebid het nie, is daar oor een
ding nie te twyfel nie:
Want,
sal Spiritualiteit sê, in gebed, in die verlangende spreke en roep na God, is God
self, mistiek, eintlik ondenkbaar, selfs onvoorstelbaar, teenwoordig. Verby
alle grense van taal, ruimte en ons klein, beperkte insig is dit, in gebedstyd,
Immanuelstyd.
In
die skroeiende son, langs ‘n oop pad, in die barre veld, by die sterwende, saam
met die wakende, sorgsame reisgenote, wil God wees.
Of
ook, in die tuin, in die donkerste , stilste deel van die nag, verlate, terwyl
hulle wat waak, aan die slaap raak en mens aan alles twyfel.
Altyd
wanneer die mens uitreik verby hom- of haarself na die Verborgene, is God hier.
Verborge, ja, maar veel nader as wat ons hart ooit vir ons kan onthul.