Sunday, January 20, 2013

Wanneer 'n groot held val? Oor onderskeiding...

Groot gesprekke was die afgelope paar dae gevoer oor die Lance Armstrong-skandaal.

Die Nederlandse televisie-kanaal het boeiende onderhoude en gesprekke, tot in fynste detail, oor die biegsessie van die fietsryer voor Oprah gehad.

Een van die persone met wie 'n onderhoud gevoer is, was 'n prokureur uit Amerika wat gedwing is om 'n borgskap uit te betaal hoewel hul geweet het dat Armstrong dwelms gebruik het. 

Ek bekyk die gesprek op twee vlakke: aan die een kant sien 'n mens in so 'n onderhoud meer van die binne-werkinge van groot sport en groot sportborgskappe. 

Aan die ander kant ontdek jy die menslike gesig agter al die groot geld. Hier is 'n prokureur wat rustig na vele jare dat hy geweet het van die yslike bedrog-sage, nou  sy gevoelens oor die vernederende, boelie-taktiek van Armstrong teenoor hom en sy groep beskryf. 

Ek sien hoe hy, die ervare prokureur wat sekerlik alle rede tot triomfalisme het, met 'n ingehoude, saaklike en besadigde houding oor die tragedie en oor die ellende van die Armstrong-gebeure reageer.  

Hy kan, sê hy in reaksie op die onderhoudvoerder se vraag, nie blydskap voel noudat dit na al die jare en al die geboelie van Amstrong wat hulle maatskappy miljoene dollars gekos het, blyk dat hulle tog reg was nie, 

Hy kan net met 'n gevoel van treurigheid dink oor die reputasie van dapper mense wat die waarheid gepraat het en wat deur Armstrong beskuldig is van laster en leuens. Hy het gesien watter intimidasie op daardie mense losgelaat is en hy weet van die dreigemente en selfs die lewensgevaar wat hulle ondervind het. En, voeg hy by, dit bly 'n skok om te sien dat 'n wêreld-ikoon soos Armstrong in 'n dag se tyd so dramaties en so totaal tot 'n val kom.

Ek sit 'n oomblik stil voor die man se woorde en sy besadigdheid. 

Hoe kan 'n mens jou oor die val - selfs van 'n skurk verbly?, dink ek terwyl ek die onderhoud bekyk en sien hoe die prokureur, 'n man van integriteit, sy mening lug. Hoekom, terwyl ek ook gekweld is oor Armstrong se donker geskiedenis, is daar soveel haat, venynigheid, veroordeling en verwerping in alles wat mense oor hom sê?

Ek dink terug aan ons eie Hansie Cronje voorval. 

Ek lees juis in hierdie dae dat, by al die ellende wat Hansie se val veroorsaak het, hy in die massa-histerie wat losgelaat is, deur mense baie naby aan hom vals beskuldig is van sekere sake. Almal het dit gedoen, vertel die man wat gelieg het en, boonop, die prokureurs het my gedreig om die saak teen Hansie so waterdig as moontlik te maak.

In Engels praat hulle van lynch mobs. 

Ons het hulle in die Bybel ook gehad: die ouens wat die vrou na Jesus gesleep het en haar wou stenig.

Juis teenoor so 'n massa-histerie is dit belangrik dat die reg sy loop neem: maar dan nie sommer enige regsproses nie. Maar 'n deeglike, betroubare en geweegde regsproses wat skuld duidelik uitwys en bewys. Soos die jarelange ondersoek wat die Amerikaners oor die Armstrong geskiedenis gedoen het. 

Maar dan ontdek 'n mens weer hoe die deeglikheid van die regsproses en die skulderkenning van Armstrong tog weer die massa-histerie wakker maak.

Daar is in al die kommentaar op Armstrong vir my 'n paar opmerkings van mense wat my bybly en wat my herinner aan my destydse, analoë ervaring van Hansie se val. Ek herinner my hoe ondenkbaar die situasie vir my was, selfs nadat Hansie self sy skuld erken het. Ek onthou hoe my sekretaresse, 'n Xhosa vrou wat later predikant sou word, kom vertel het hoe haar seuntjie die hele naweek in sy kamer gelê en huil het oor die nuus van Hansie. Dit was 'n vernietigende ervaring vir mense ver en verby die kringe van fanatieke krieket-ondersteuners.

Teen die agtergrond sien ek die volgende kommentaar en herken ek die innerlike teleurstelling wat by vele, vele gewone mense op die grond ervaar is. Hier is die kommentaar van 'n gewone leser op die berig in die NYT op die Armstrong onderhoud:

My colleague worked sixty hours a week to help his kids go to college and he had a screen saver of Armstrong on his bike during one of the Tours. He said "Every time I thought I couldn't work longer I looked at that picture of Lance and was inspired." Today my colleague just looks crushed.

Wat sou ek vir so 'n kollega sê, dink ek, as hy met my oor sy gevoelens gepraat het en sy gevoel van diepe ontnugtering? 

Woorde in so 'n tyd moet geweeg word. 

Maar tog, ten minste op my eie, sou ek  dink dat 'n mens 'n bietjie soos Jesus moet word. 

Nie net soos by die owerspelige vrou en haar moorddadige vervolgers nie: Weet maar ook van die kwaad wat nestel in die diepste innerlike van jou eie bestaan. Dit ook ja.

Ek sou verder dink aan die reaksie daardie aand, na Sy gevangeneming, in die koue herfstyd, toe Jesus, stukkend geslaan deur die moorddadige klomp om hom, gehoor het hoe die rotsman, sy voorste vriend, gemaak het of hy nog nooit van Jesus gehoor het nie. 

Ek kan my indink hoe Jesus, hier, anders as Armstrong en Hansie, inderdaad ook nog die man sonder skuld, moes gevoel het. 

En daar was net daardie lang, intense oomblik waarin Jesus na sy vriend gekyk het. Woordeloos. Sonder 'n vinger wat skuld uitdeel. Daar was nie woede of verwyte nie.

Was dit heilige stilte, miskien, van Jesus waarmee hy moes reageer op die ontugtering van die oomblik? Daardie oomblik in die onderskeidingsproses wanneer 'n mens die lewe bekyk en sien hoe kwaad diep in ons harte, in o so getroue harte, ingebed is - ook van ons mees getroue en mees geliefde vriende? 

En jy weet, soos Hy vroeg reeds vertel het: moenie kwaad moet kwaad vergeld nie. Want dit is wat die kwaad soek?  

En jy hoor ook die woorde in jou gedagtes opkom, wat Hy skaars kon sê, en maar Boontoe moes bid, daardie laaste oomblike: vergewe mense wat nie weet wat hulle doen nie. Sagtheid, ontferming, vergifnis teenoor hulle wat jou in die steek laat kom nie vanself nie. Dit moet afgebid word, van Bo ontvang word.


Blog Archive