Tuesday, January 01, 2013

As die geneesheer siek is.

Thomas a Kempis se Navolging van Christus is ‘n boek wat ‘n mens op vele bladsye roer.

Tog lyk dit  vir sommige mense asof sy appel nie meer met moderne gelowiges kommunikeer nie.  Sulke mense dink (en skryf) dat die rede hiervoor gesoek moet word in die feit dat die Navolging min met sosiale geregtigheid te doen het.

Dit is, beweer hulle, ‘n boek wat die wêreld ontvlug en nie die onregverdige strukture daarvan konfronteer nie.

Maar Thomas se boek is gebore uit en deurdrenk met verset teen die korrupsie en sosiale ongelykheid/onderdrukking van sy tyd. 

Hy het die magsmisbruik en magsvertoon van die kerk en die samelewing deeglik raakgesien. Dit is meer as duidelik uit Thomas se lewensverhaal. Hy het met verontwaardiging gesien hoe die armes uitgebuit word, mense gemanipuleer word en hoe kerkleiers hulleself verryk het ten koste van die gewone lidmaat.

Thomas was deel van die Moderne Vroomheidsbeweging en die Broeders van die Gemeenskaplike Lewe wat die kerk wou hervorm het.  

Keer op keer kry sy woorde in die Navolging besondere trefkrag wanneer ‘n mens dit lees as reaksie op die kerklike praktyke van sy tyd.

Wat Thomas van sy lesers vra lyk soms na alledaagse goed en na persoonlike vroomheidsideale. Maar dit is ideale en praktyke wat nie meer in die kerk gevind is  nie. Thomas beklemtoon hulle in sy poging om die kerk geestelik te hervorm. 

Thomas vra dus dat mense in sy gemeenskap anders moet leef as in die kerk van daardie tyd met sy uiterlike vertoon en sy innerlike armoede. Wat hy vra is juis kritiek teen alles wat in sy omgewing verkeerd geloop het.

Hy kyk egter ook dieper as die gewone dinge. Hy sien die diepere oorsake van die korrupsie, agteruitgang en magsspel in die kerklike lewe.

En dit is op hierdie vlak dat hy sy boek skryf: Julle moenie soek, soos die belangrike, korrupte mense van julle tyd na die uiterlike, ydele en manipulerende dinge nie.

Wat saak maak, is die innerlike, die nederige, die hulpvaardige, die ontfermende.

Nog belangriker: Uiteindelik is die regte verhouding met God wat die deurslag vir die alledaagse praktyk gee. Dit alles dryf die omgee vir ander en dien die liefde vir die wêreld.  

Thomas beklemtoon daarom die eenvoudige gemeenskaplike lewe van mense wat juis arm/eenvoudig leef en wat soek om die armes by te staan, onder andere veral deur opvoeding.

Dit is die geestelike vorm wat hy aan sy kritiek teen die onregverdige sisteme van sy tyd gee. 

Hy beveg ongeregtigheid op 'n unieke manier in sy Navolging deur sy fokus op die gelowige gemeenskap se transformasie. Hy en die Broeders van die Gemeenskaplike lewe is beroemd vir hul opheffingswerk. Hulle het soms so ernstig met die kerk en sy magsmisbruik gebots dat hulle selfs verbied is om te preek (Groote).

Thomas se "mistiek", die intieme verhouding met God, is 'n "nugtere" mistiek. Dit is 'n mistiek wat 'n praktiese, opmerklike verskil maak en veral na vore kom in 'n reg doen, 'n regverdige bestaanswyse. Sy mistiek is die beeld wat egte godsdiens moet hê juis teenoor die korrupsie van sy tyd.

'n Mens kan nog ander sosiale perspektiewe van Thomas se mistieke sin vir geregtigheid na vore bring. In die algemeen is dit egter waar dat Thomas se boek moeilik verstaan kan word sonder om te weet van die korrupte strukture in sy tyd. Sy boek is by uitstek 'n verset daarteen.

Thomas skryf egter sy boek nie vir die korrupte kerklike leiers van sy tyd nie. Hy skryf vir mede-gelowiges wat, soos hy, na verdieping in hul geloofslewe en na egte kerk-wees soek. Hulle moet alles wees wat die kerk nie vir sy lidmate was nie.

Sy boek bring vir my 'n dimensie na vore wat dikwels in kontemporêre vorme van sosiale protes teen onregverdige aksies en strukture ontbreek. Dikwels word vanuit die kerk uitbuiters ontmasker en aangeval. Die aard van sulke protes-aksies verdien nadere aandag, veral omdat hulle dikwels na my mening die situasie van konflik eindeloos vertroebel en verskerp. 

Thomas kritiseer o.a. die uitwendigheid van godsdiens met 'n uitgebreide liturgie en rituele (al die vorme van nagmaal waarvoor die armes ten duurste moes betaal). Dit is egter opvallend hoe sosiale geregtigheid in sy kritiek na vore kom. Ek dink Thomas dra 'n belangrike punt by tot die debat oor hoe die kerk oor ongeregtigheid moet praat: moet tog nie te hoog opgee oor sosiale geregtigheid as jy nie self innerlik nuut en vernuwe is nie. En, tweedens, alle sosiale kritiek moet uiteindelik transformatief wees – dit moet jouself, maar ook ander mense help om tot geloofsgroei te kom. Uiteindelik is die belangrikste om ook in jou sosiale kritiek in die teenwoordigheid van God te leef – 'n mistieke insig met diep relativerende waarde. Dit is nie regverdige strukture wat die hoogste goed is nie. Wat werklik saak maak is dat die verheerliking van God deur niks ontluister of gestuit word nie.


Blog Archive