-->
Ek
onthou hoe ek die tweede Afrikaanse
vertaling van Thomas a Kempis se Die Navolging van Christus ervaar het toe ek
dit moes geresenseer het.
Die
inhoud daarvan was op die oog af heel prakties, doodgewoon en, het ek by tye
gevoel, herhalend. Dit lyk na ‘n eenvoudige, eintlik simplistiese boek – soos Waaijman
dit ook beskryf.
Maar,
het ek destyds geskryf, dit is ‘n boek wat ‘n mens nie soos ‘n storie lees nie.
Jy lees dit stukkie vir stukkie. Ruminerend, herkouend.
En
dan was daar by tye die wonderlike lewenswysheid en die sterk bewussyn van God se
liefdevolle teenwoordigheid wat my geraak en geboei het. Sy viering van die
liefde in Boek 4 is enige dag net so aangrypend soos 1 Korintiërs 13.
En,
het ek later besef, jy lees die boek in die lig van die geheel om nog meer
daarby ingetrek te word en daardeur aangespreek te word.
Eers
wanneer ‘n mens die gang van die boek in gedagte hou, begin jy agterkom waarom
geslagte van mense die boek as ‘n bron van geestelike groei en inspirasie
gelees het.
Net
om hieroor na te dink, bring ‘n stuk geestelike verryking.
Daar
is vier afdelings:
Daar
is, eerstens, wenke (nie reëls nie!) vir die geestelike lewe in boek 1. Hier
het ‘n mens te doen, volgens Waaijman, met die ommekeer wat in mens se lewe
moet plaasvind wanneer jy op jou geestelike reis vertrek. Op die weg onderskei ‘n
mens die lig van die duisternis en groei jy na die lig toe. Waaijman skryf
hieroor: “die selfgenoegsame wete, die ongeordende drifte en die strikke van
sosiale vervlakking word verlaat, om binne te gaan in die waaragtige eenvoud,
die luisterbereidheid en die onderlinge liefde. Op die manier kom die wêreld
van God aan die lig.” ‘n Sin om aan te
kou – en wat wêrelde van betekenis oproep. Thomas, in ‘n tyd van vervlakking in
die korrupte kerk en maatskappy, vra dat ‘n mens moet iewers moet begin om
daarmee te breek. Die reis moet begin en ‘n mens moet goed weet waarheen jy
reis.
Dan
volg in Boek 2 die wenke wat met die mens se innerlike te doen het. Dit gaan in
die deel om ‘n godsdiens wat meer is as blote pligpleging, as blote formaliteit
en as uiterlike handeling. In hierdie opsig gaan dit in die Navolging om die onderskeiding
van wat werklik saak maak, wat godsdiens innerlik aan ons doen en hoe dit ons
transformeer. Hier is daar sprake van ‘n wedersydse innerlikheid van God en
mens. Wie sy innerlike oopstel vir God, deel in die innerlike van God. Met
groeiende toewyding en innigheid, skryf Waaijman, gaan ‘n mens binne in die
innerlikheid (interioritas) van God. Dit gebeur wanneer ‘n mens God in jou
innerlike toelaat. Die gevolge kan jou nie onaangeraak laat nie. Want waar God
in mense woon, leef ‘n mens heilsaam. Om met God innerlik te wandel vra ‘n
pynlike proses van afsterwe aan jouself, van onthegting aan jouself. Hoe meer
‘n mens sterf aan eie belang, hoe meer lewe ‘n mens vir God. Ja, dus, dit gaan
om die mens se innerlike – maar dan om die innerlike as die woonplek en
werkplek van God.
In
boek 3 skryf Thomas oor die nagmaal (nie, soos in die meeste teks-uitgawe’s in
boek 4 nie). Die nagmaal is ‘n belangrike deel van die geestelike reis: ‘n Mens
ontdek Christus as die ewige middelpunt van die lewensweg. ‘n Mens groei in
gelykvormigheid aan Christus en deur Hom
draai ons na die ewig lig van die waarheid, wat God is (Waaijman). Maar hoe
word ons gelykvormig aan Christus? Veral deur die nagmaal, maar ook deur
Bybellees, deur naasteliefde, deur gebede, deur die oorskryf van manuskripte
(‘n tipiese kloosterbedrywigheid) en deur onderwys. Dit is alles geestelike oefeninge waardeur ons
Christusgelykvormig word.
Boek
4 handel oor die innerlike vertroosting. Hier praat Thomas oor die voltooing
van die geestelike reis wanneer ons uiteindelik die troosryke genade vier. In die
laaste verse van die boek skryf Thomas: “Die voltooing van alle goeie dinge,
die hoogtepunt van ons lewe en die diepste grond van ons spreke is U. En die
sterkste troon van U dienaars is om op U te vertrou bo alles.”
Elke
hoofstuk van die Navolging moet in die boeke en in die lig van die hele teks
gelees word. Soos die naald van ‘n kompas altyd na die noorde wys, so is elke
wysheidspreuk en aforisme in die Navolging steeds weer gerig daarop dat ons
bewus moet wees van God se liefde en die weg daarheen. Dit gaan om geestelike
groei, steeds meer en meer op soek na die diepere bewussyn van die goddelike
omgee en troue liefde. In ons geestelike reis rus ons en eindig ons in die
goddelike troos. Meer nog, dit wat werklik saak maak is om in God se
teenwoordigheid geborge te wees. Dit is ons enigste troos.
Waaijman skryf oor die vraag of die Navolging van Christus 'n simplistiese boek is. Hy antwoord: "Dit is nie eenvoudig om die boek te lees nie. 'n Mens het 'n stuk eenvoud daarvoor nodig. Maar by die eenvoud moet 'n mens met 'n kritiese insig en met kritiese versigtigheid lees terwyl 'n mens 'n "gedugte leesvertraging" handhaaf.
Die Navolging se eenvoud is dus bedrieglik. Dit is 'n boek gelaai met insigte. Dit is nie verniet 'n klassieke teks nie: die versigtige, geduldige leser wat presies en sorgvuldig lees ontdek daarin 'n mistieke mede-reisiger op die geestelike lewensweg.
Waaijman skryf oor die vraag of die Navolging van Christus 'n simplistiese boek is. Hy antwoord: "Dit is nie eenvoudig om die boek te lees nie. 'n Mens het 'n stuk eenvoud daarvoor nodig. Maar by die eenvoud moet 'n mens met 'n kritiese insig en met kritiese versigtigheid lees terwyl 'n mens 'n "gedugte leesvertraging" handhaaf.
Die Navolging se eenvoud is dus bedrieglik. Dit is 'n boek gelaai met insigte. Dit is nie verniet 'n klassieke teks nie: die versigtige, geduldige leser wat presies en sorgvuldig lees ontdek daarin 'n mistieke mede-reisiger op die geestelike lewensweg.