Geestelike
oefeninge word al hoe meer gewild. In onlangse tye het dit ook in Protestantse
kring ‘n opbloei begin beleef.
In
die geskiedenis van spiritualiteit was dit dikwels die geval. Mense het gesoek
om hulle in te oefen in ‘n lewe van deugde. Dit het hulle gedoen deur die
afrigting van hulle gees en liggaam. ‘n Belangrike manier van oefening is veral
meditasie, terwyl baie aandag ook gegee word aan gebede.
Askese
is ook so ‘n belangrike geestelike oefening.
Die
belangstelling in geestelike oefening was ook in die tyd van Thomas a Kempis
groot.
Die
gevolg van hierdie belangstelling in geestelike oefeninge in die afgelope tye
en in Thomas se tyd, word sy Navolging
van Christus dikwels gelees as ‘n boek wat op askese fokus.
En
tog het dit vir Thomas om veel meer as net sekere geestelike praktyke gegaan.Hieroor skryf Waaijman 'n belangrike artikel.
Wanneer
‘n mens sy boek lees, help Thomas ‘n mens om die plek van spirituele oefeninge
in die regte lig te sien. Hy weier om te voorskriftelik daaroor te wees. Hy sal
byvoorbeeld ruimte laat vir baie soorte oefening en hy beklemtoon dat ‘n mens
se geestelike oefening baie kan wissel. Verskillende mense doen verskillende
geestelike oefeninge (1.19.22) en sal op verskillende geleenthede en tye sekere
oefeninge bo ander nodig hê of verkies. Wanneer dit swaar gaan of wanneer ‘n
mens ontspanne is, sal ‘n mens verskillend ingestel wees. In tye van rou en met
feesvieringe sal oefeninge ook heel anders lyk.
Maar
belangriker is dat Thomas die geestelike karaktere van geestelike oefening
beklemtoon. Dit gaan vir Thomas nie om die oefeninge self of die inspanning
waarmee mense daarby betrokke is nie. Hy plaas hulle in ‘n geestelike raamwerk
en gee aan hulle waarde omdat hulle ‘n geestelike doel en nut het.
Vir
Thomas is ‘n geestelike oefening nodig omdat dit ‘n mens volwasse, geïntegreerd
en sterk maak. Jou uiterlik en innerlike lewe word in ‘n noue eenheid verbind. Jy
oorkom die spanning tussen wat na buite en na binne gebeur. Wat ‘n mens deur
geestelike oefeninge doen werk deur op jou innerlike lewe. Jou binneste word
deur die buitenste gevorm. Geestelike oefening bevorder die suiwerheid van die
hart. Sulke oefening vertel iets van jou binneste. Jy word bewus daarvan dat jy
tot in jou binneste deur God gesien word.
Thomas
se houding teenoor geestelike oefeninge word deur drie dinge geïllustreer:
Neem
byvoorbeeld die lees van die Skrif as die belangrikste geestelike oefening. ‘n
Mens kan die Bybel van buite goed ken en deeglik lees sonder dat jy deurdring
verby die letter van die teks tot by die geestelike inhoud daarvan. Die
uiterlike boodskap van die teks laat geen spoor op jou innerlike lewe nie. Die
doel van die geestelike oefening is egter om ‘n mens te laat leef in die lewe
van Jesus. Skriflesing beteken om jou in die lewe van Jesus in te leef.
Daardeur moet ‘n mens ook tot die uitbeelding van Jesus in die daaglikse omgang
kom. Deur die innige, verlangende en geestelike lees van die Bybel word die
mens ingevoer in die liefde van God en kom woon ‘n mens in daardie liefde.
Ook
die viering van die nagmaal as belangrike geestelike oefening is iets waarna ‘n
gelowige intens verlang. Die nagmaalsganger verlang om Christus self as geskenk
te ontvang. Thomas skryf: Ag, laat my U teenwoordigheid ervaar. Verteer my en
vorm my in U om” (3.16.10). Die nagmaal wil die nagmaalsganger aan Christus
gelykvormig maak. Christus verenig hom met die mens en maak hom/haar deel van
sy brandende liefde – skryf Waaijman oor Thomas se siening. ‘n Mens neem baie
versigtig deel aan hierdie geestelike oefening en soek om met ‘n suiwer hart
die nagmaal as ‘n geskenk God Christus te vier. Maar die gelykvormigheid met
Christus is net ‘n teken van die vereniging met God: die nagmaal herinner ‘n
mens aan die ewige aanskouing van God. Uiteindelik gaan dit dus om die
verwagting van God se teenwoordigheid en die toekomstige ervaring van God se
heerlikheid. Om die nagmaal te vier is dus besonders. Maar dit is ook maar
relatief – groter as die nagmaal is om by God in heerlikheid te kan wees. Nie
die geestelike oefening nie, maar die teenwoordigheid van God maak werklik
saak.
Thomas
praat ook oor die geestelike leergesprek (collatio) as ‘n derde, belangrike
geestelike oefening. Waaijman kontrasteeer die leergesprek met die eindelose
gepraat waaraan mense dikwels deelneem, wat ‘n mens so besig hou en wat ‘n mens
leeg laat voel en jou nie bewus maak van jou eintlike egte menslike bestaan
nie. ‘n Leergesprek is ‘n baie ou geestelike oefening wat mense in groepe
bymekaar bring sodat hulle oor belangrike sake kan gesels om beter te kan
verstaan en leef. Vir Thomas is dit ‘n kans om “innig” saam met ander mense te
wees. Dit laat mense eensgesind in hart en gees voel en bring mense tot die
punt dat hulle egte gemeenskap met God ervaar. Ook hier is die groter
eenwording met God die doel van die geestelike oefening.
Thomas
is dus nie iemand wat oordrewe asketies is nie. Hy soek nie geestelike oefeninge
ter wille van die oefeninge nie. Hy soek nie ‘n lewe in stilte en in
afsondering nie net om asketies te wees nie. Sy visier is eerder ingestel op ‘n lewe wat in diens staan van God en
wat gerig is op die teenwoordigheid van God. Die innerlike lewe wat die
teenwoordigheid van God ken, sal na buite ryk en geseënd wees. Waar daar wel
stil, asketiese praktyke is, is dit steeds gerig daarop gerig om ‘n mens te omvorm en bewus
te maak van die teenwoordigheid van God.
Ook deur hierdie insigte is Thomas waardevol wanneer in ons tyd so baie oor geestelike oefeninge nagedink word.
Ook deur hierdie insigte is Thomas waardevol wanneer in ons tyd so baie oor geestelike oefeninge nagedink word.