Die
geestelike pelgrimsreis van ‘n mens word op verskillende manier gevorm. Dit
loop langs ‘n bepaalde weg en word deur verskillende dinge bepaal.
In Thomas a
Kempis se Navolging van Christus word dit aan die hand van veral drie dimensies
uitgewerk. Hein Blommestijn het dit in ‘n artikel op ‘n boeiende manier
beskrywe.
Dit
begin wanneer God ‘n mens nuut maak (die transformasie in skepping) en jou uit
jou niks-wees bring tot ‘n sinvolle bestaan.
Dit
gebeur voorts herhaaldelik wanneer ‘n mens aan Christus gelykvormig gemaak
word.
En
dit gebeur ook, derdens, wanneer ‘n mens God se stem hoor.
Anders
gestel:
Prakties
gebeur hierdie drie dinge eerstens wanneer ‘n mens beheer oor jou eie lewe
afstaan en jouself oopstel vir die grotere, goddeliker liefdesweg.
Dit
gebeur ook, tweedens, wanneer ‘n mens op ‘n spesiale manier die binnekoms van
Christus in ‘n mens se lewe ervaar – veral in die nagmaal.
Of,
derdens, en dit is die tema van die blog: wanneer ‘n mens God se stem in die
lees van die Bybel beluister.
Of nog anders:
Die
oopstel vir God kom eerstens elke keer wanneer ‘n mens die fokus op jouself
opgee. Die wandel met God word, tweedens, intiemer wanneer ‘n mens in die
liefde van Christus veranker word en wanneer ‘n mens deur die stem van die
goddelike tot ‘n liefdesbestaan vernuwe word.
‘n
Mens word derdens getransformeer, of, beter nog, omvorm, wanneer mens deur God
se stem aangespreek voel. Die verdieping in ‘n mens se geestelike lewe gebeur
wanneer ‘n mens bewus raak dat iets groters en iemand buite jouself in jou lewe
inkom: in geloofstaal word gepraat van God se woord wat tot ‘n mens kom, jou
ore open en van jou ‘n ware luisteraar maak.
Hier,
in die hoor van God se stem is op sy beurt weer twee dimensies te merk: aan die
een kant is dit ‘n woord van buite jouself, wat in jou lewe inkom. Dit is die
Bybeltaal, die geloofsgetuienis van vele mense wat voor jou pelgrims op die
lewensweg was. Maar die heel belangrikste is die tweede dimensie: Die Woord
werk in ‘n mens se innerlike. Wat ander geskryf het, mensewoorde, anker in jou
binneste ruimte en verander, word God se woorde.
Blommestijn
haal hier vir Thomas a Kempis aan wat skryf: “Spreek, Here, want u dienaar
luister. Ek is u dienaar. Gee my insig sodat ek u getuienisse ken. Buig my hart
na die woorde van u mond. Laat vloei u strome woorde soos dou.”
Maar
nog moet ‘n mens verder dink. God se woord kom in mensetaal. Dit kom as woorde
van Moses, die profete, die Bybelse woorde, die voorlees van die Bybel in die
erediens en die woorde van vele ander mense wat praat oor God, en oor ‘n
intieme ontmoeting met God.
Tog
is dit nie die woorde self waarop ‘n mens fokus nie. Daardie woorde moet ‘n
mens se bestaan deurgrond en deursuur. Mensewoorde moet vir die mens deursigtig
word – ‘n mens moet God in hulle raaksien en hoor.
As
God swyg, sal die mooiste woorde oor God nie die mens se innerlike aanraak nie.
God, skryf Paulus immers duidelik, is die een wat laat groei. Dit is God dus
wie se spreke mensewoorde tot lewe bring.
‘n
Mens word omvorm alleen maar wanneer ‘n mens deur God aangespreek voel.
Wat
gebeur wanneer ‘n mens God se stem in mensewoorde herken? God se stem bring ‘n
mens se lewe in beweging. Die spreke van God maak nuut. Dit bemagtig. Dit gee
krag om die geloofsweg te loop. Van ons innerlike af na buite vorm God se woord
en spreke die mens, help die mens om sy eiemagtigheid en selfgerigtheid agter
te laat (skryf Blommestijn). Dit maak die mens betrokke. Om God se stem te
hoor, is om die lewensweg met nuwe moed en energie aan te vat.
In
plaas van strome van menslike woorde wat ons nie werklik raak en wat ons
eintlik koud laat, kom God se woord en buig ‘n mens innerlik om tot vernuwing.
God, skryf Thomas, terwyl hy die skrif aanhaal, het die woorde van die ewige
lewe. “Spreek met my tot vertroosting van my siel en tot verandering van my
hele lewe. Maar altyd weer tot U lof, heerlikheid en ewige eer.”
Wie
God hoor praat, voel die lewe en liefde van God deur hul lewe stroom en hulle
aanraak in die kern van hulle bestaan. Die Woord bring ‘n mens tot lewe. Dit is
‘n Woord wat nie as ‘n ornament iewers uitgestal kan word nie en waarna ‘n mens
af en toe kyk nie. Wie die Woord so afstandelik hanteer, weier eintlik om
nuutgebore te word.
Telkens
weer wil ‘n mens die Bybel as ‘n menslike boek tot ‘n interessante leesboek
verskraal. Die Bybel word daardeur nie lewewekkend nie. Dit is ‘n onskuldige
boek wat allerhande netjiese lesse en insigte oplewer. Wie die Bybel as Woord
herken, ontvang ‘n brandende verlange na die ewige dinge. Die aardse, nuttelose
en leë gesukkel en besorgdhede verdwyn op die agtergrond. Wat tel is die
diepere.
Blommestijn
sluit sy nadenke af oor die weg waarlangs ‘n mens getransformeer en omvorm word
en wat hy saamvat as ‘n transformasie in skepping, in konformiteit aan Christus
deur die nagmaal en as die hoor van die Woord van God met ‘n pragtige slot:
Wanneer
God se woord ‘n mens innerlik aanraak en omvorm, hoor ‘n mens die gees van
waarheid in jou innerlike klink. Dan vra ‘n mens nie meer hoe dinge in ‘n mens
se lewe lyk nie. ‘n Mens besef: jou lewe is nie jou projek nie. Jou lewe is die
projek van God. Wanneer ‘n mens dus God se woord hoor, herken ‘n mens jou
diepste waarheid. Ons word ingetrek in die geheim van die goddelike lewe wat in
ons bewaarheid wil word.