Thursday, January 03, 2013

Geloof staan nie vyandig teenoor die wêreld nie.


‘n Boek is dikwels uitgelewer aan die reputasie wat dit by sy lesers verwerf. Soms kry ‘n mens dit dat ander lesers so ‘n boek op ‘n ander, nuwe manier lees en tot ander insigte daaroor kom. Dink maar aan die negatiewe manier waarop moderne lesers Uncle Tom’s Cabin lees, terwyl dit met sy verskyning ‘n treffer was wat die aanskyn van Amerika verander het en ‘n groot bydrae tot die stryd teen slawerny gelewer het.

Dit is ook die lot van Die Navolging van Christus wat Thomas a Kempis oor ‘n tydperk van 20 jaar geskryf het. Die boek is in vele opsigte ‘n slagoffer van ‘n interpretasie van lesers wat hulle eie geestelike ervarings op die boek afgelaai het en die impak daarvan gemis het.

Een so ‘n  wanopvatting is dat die boek vyandig is teenoor die wêreld waarin die mens leef. Daar word dan deur kritici van die boek gedink dat dit mense uitnooi om hulle wêreld van duisternis agter te laat en eerder ‘n ander wêreld van lig binne te gaan.

Thomas a Kempis, skryf Waaijman, was egter nie so oppervlakkig nie. Die saak lê by hom heel anders: Hy sien hoe die mens beide ‘n wêreldse duisternis en ‘n wêreld van die lig in sy/haar innerlike omdra. In die heel eerste sin van die Navolging skryf Thomas immers dat ‘n mens van jou blindheid bevry moet word en verlig moet word.

Die donkerte woon dus net soveel in jou soos die lig. Jy vlug nie van ‘n bose wêreld na die wêreld van die lig nie. Jy stry teen die donker wat ook jou binneste beset.

Thomas vra sy lesers in die eerste hoofstuk om van die ydelhede (vanities) van die wêreld bevry te word. Waaijman wys daarop dat die stryd teen uiterlikhede en ydelhede lank nie beteken dat Thomas vra dat ‘n mens van die wêreld ontslae moet raak nie.

Nog duideliker word die totale gebrek aan wêreldvyandigheid by hom wanneer Thomas hierdie wêreldse ydelhede in meer besonderhede beskryf. Hy vra dat sy lesers bevry moet word van hul gejaag na rykdom, hul vertroue op materiële dinge, hul gejaag na erkenning en aansien, hul verslawing aan hul drifte, hul gejaag om in te palm eerder as om ‘n kwaliteitlewe te voer en hul vasklouery aan hul besittings (1.1.-13-17).  Dit is die uiterlike dinge wat die innerlike lewe verstik en bedreig.

Thomas het met hierdie gedagtes kritiek teen die samelewing van sy tyd gelewer. Maar hy het ook die kerk in sy visier gehad. Hy verwerp die bygelowigheid van mense, hulle wettiese lewenswyse, die klere wat sommige geestelikes aangetrek het om indruk op ander te maak, die oppervlakkige gebruik van die sakramente en die spoggery met godsdienstige kennis. Hierdie dinge is ook ydel en het nie plek in die lewe van ‘n mens nie.

Waaijman verduidelik die oppervlakkige en uiterlike lewensstyl verder aan die hand van Martin Buber se boek, Ich und Du. Ons wil die wêreld opeis, beheers en ten alle koste gebruik tot ons voordeel. Die wêreld word ‘n “besitting”, ‘n voorwerp, ‘n “dit” wat ons hanteer en manipuleer.

Hierteenoor staan die wêreld wat God aan mense in liefde skenk as ‘n gawe en as ‘n vreugde. Die wêreld kom as ‘n geskenk na mense wat eerbiedig daarmee omgaan. Dan herken ‘n mens die wêreld soos God dit sien. Meer nog – dan ontdek ‘n mens die binnekant van die skepping. Jy sien die werklike, dieper kant van die wêreld waarin jy leef.

Dit is in hierdie wêreld, soos ‘n mens dit in sy kern en binnekant raaksien, dat ‘n mens troos vind.

Dus: Thomas vra sy lesers om van die ydelhede en uiterlikhede ontslae te raak. Dit is nie altyd maklik nie. ‘n Mens gaan deur beproewinge wanneer ‘n mens so wil leef. Jy ervaar eensaamheid, krisis, teenspoed, teleurstellings, ontnugterings, bekommernisse, kwellings en verdriet.

Maar, som Waaijman Thomas op, al die dinge dwing ons om dieper te soek en na die innerlike te verlang. ‘n Mens moet na die geestelike voedsel van die woord, na liefdevolle verhoudings tussen mense en na die opregte gebruik van die sakramente soek.

Soms kry ‘n mens dan wel troos. Dit is iets wat ‘n mens ten alle koste soek en begeer.

Maar ander tye weer word die troos ons ontneem. Want troos is maar net ‘n voorlopigheid. Waar die troos van ons weggeneem word, is God besig om God self aan ons te skenk. Dus, wanneer ‘n mens teen die ydelhede van die wêreld stry en die wêreld leer ken as ‘n plek waarin ‘n mens troosvol in liefde met ander kan verkeer, is dit nie die einde van ‘n mens se geestelike reis nie.

Die einde van die geestelike reis is om met God verenig te word. Dit is die belangrikste wat ‘n mens kan vind. Alleen hierdie vereniging is blywende en onvernietigbaar.

Blog Archive