Spiritualiteit
het nog nooit enige vat gehad aan ‘n domme en onkritiese instelling nie.
Neem
byvoorbeeld die hele proses van Bybellees as spirituele oefening wat in Lectio
divina so indrukwekkend weergegee word.
‘n
Geestelike lees van die Bybel was nooit on-krities nie.
Reeds
op die eerste vlak van die geestelike lees van die Bybel is ‘n mens se verstandelike,
analitiese denke aan die werk: wanneer ‘n mens ‘n Bybelteks optel, moet ‘n mens
reeds ingestel wees op hoe jy dit doen. Hier is ‘n teks, besef jy, wat wel lyk
soos alle ander tekste, maar tog ook uniek is.
Dit
is ‘n teks wat bewustelik op geestelike vorming en omvorming ingestel is.
Wie
dit nie besef nie, gaan nie met die teks kommunikeer soos dit vra om gelees te word
nie. Jy moet dus bewustelik, verstandelik besluit hoe jy teenoor die Bybel
ingestel is om die geestelike proses sinvol te kan beleef.
Ook
wanneer ‘n mens doodeenvoudig net die Bybel sag of hardop lees, in die
handeling van “lectio”, wanneer jy dus die teks jou eie maak deur sorgsaam
daardeur te lees, is jou verstandelike vermoëns aan die werk. Die leesproses is
veel ingewikkelder as wat ‘n mens dink. Jy besef dit eintlik eers wanneer jy
sien hoe jong kinders in graad 1 hakkelend en stotterend lees terwyl jy dit
self vloeiend kan doen. Jy as vlot leser weet hoe om die teks in sinne te
verdeel, waar om aksente te lê, wanneer om vreugde in die teks te herken,
wanneer om somberheid op te let. Jou blote lees van die teks vra al dat jou
brein hard aan die werk is.
Maar,
derdens, in die mymerende nadenke oor die teks, veral, is ‘n mens se insig en
brein aan die werk: wie sê wat vir wie en waarom? Niemand kan geestelik met die
Bybel omgaan sonder om diep daaroor te wonder en om deeglike vrae te vra nie.
Ook
die vierde stap in die geestelike lees van die teks is spesiaal. Hier gaan dit
om oratio, of om die biddende oomblik in die geestelike reis. Wanneer ‘n mens in
oratio reageer op die teks – biddend, verlangend, smekend, vierend – is ‘n mens
ook met al jou logiese insigte en vermoëns betrokke.
Ook
die kontemplatiewe moment in lectio divina het ‘n rasionele dimensie. In die
oratiewe oomblikke, gebeur dit soms, verrassend genoeg, dat ‘n mens God ervaar,
onpeilbaar, bo-verstandelik. Maar ook dan is ‘n mens weer eens met jou verstand
bewus dat jy uitsinnig betrokke was, dat iets Groters met jou gebeur het.
As
‘n mens hierna kyk, kry ‘n mens dus twee groot dimensies: die verstandelike en
die geloofsdimensie.
Hierdie
twee dimensies was nog altyd in spanning deur die eeue: ‘n Mens kan praat van drie
groot bewegings in die geskiedenis van die lees van die Bybel.
Daar
was die eerste fase toe mense direk, eenvoudig en onbemiddeld hul geloof ervaar
het. Hulle het die Bybel gelees en aanspraak gemaak dat hulle dit aanvaar “soos
dit daar staan.”
Daar
was ‘n tweede fase toe mense besef het geloof vra ook dat ‘n mens se verstand
aan die werk bly, dat ‘n mens geloof en sy valse vorme moet kan onderskei, dat
die Bybelse teks nie sommer net geglo kan word nie – asof almal aan die
loofhuttefees moet deelneem, besny moet word, groot gedoop moet word, vrouens
in die huis hoort, in tale moet spreek, moet kan profeteer.
Dit
is ‘n fase waarin die menslike, historiese karakter van die Bybel beklemtoon is
en allerhande dinge gesif, gekritiseer, bevraagteken en getoets is.
Tog,
is in hierdie nuwe fase geglo, kan ‘n mens, selfs al het jy verstandelik en
krities die Bybelse teks gelees en geweeg, agterkom wat die waarde van die
Bybelse teks is. Ricoeur het gepraat van ‘n tweede naïwiteit: om, deur kritiese
denke heen, gelowig te kan bly. Die mens kan op ‘n verbeeldingryke manier die
lewegewende boodskap van die Skrif ontdek en deur hierdie interpretasie van die
Bybel tot ‘n lewe van vernuwing aangespoor word. Wat hier gebeur is dat ‘n mens
die toepassing van historiese-kritiese werk en die afbreek van valse,
fundamentalistiese misverstande oor die Bybel (bv. Vroue mag nie ‘n amp beklee
nie, slawerny is nie verkeerd nie, die doodstraf is noodsaaklik) verbysteek en
nou vra: wat is daar in die Bybel wat geloof dryf, inspireer en vreugdevol
maak.
Maar
daar is nog meer wat kan gebeur en wat ons bring by ‘n derde groot beweging – wat
ons, opwindend genoeg, weer verbind met die vroegste van vroeë geloofshelde
en hul geloofservarings. Wanneer ‘n mens
die waarde van die teks ontdek het en die rykheid van geloof in jou eie lewe
daardeur versterk word, kom daar ‘n derde dimensie by. ‘n Mens kan dit
inderdaad ‘n derde naïwiteit noem. Dit lê op die vlak van die kontemplatiewe:
Nou is daar verwondering, stilte, ontsag – nie net vir die Bybel as ‘n
gelaaide, durende en bevrydende teks nie, maar veral vir die Een wat deur die
Bybel en soms selfs ondanks die Bybel die mense-hart aanraak en roer. Nog meer:
die derde naïwiteit beteken ‘n verlangende openheid vir die werking van God hic
et nunc – in die mens se lewe hier en nou. Want waar dit gebeur ontdek die mens
dat hy of sy die beeld van God dra, dat God nie net in die Bybel en in die
geloof teenwoordig is nie, maar by die mens inwoon.
In
die derde naïwiteit word aan die mens opnuut weer onskuld, soos in die paradys,
geskenk – om nakend in die teenwoordigheid van mekaar en God te woon.