Dit is ou, getoetste raad wat Evagrius Ponticus (343-399 n.C.) gee
wanneer hy oor woede en sagmoedigheid skryf en wys hoe gebed ‘n belangrike
hulpmiddel is in ‘n mens se stryd teen woede:
Elke keer wanneer jy
in die versoeking beland, of teenspoed optel, of wanneer jy vies voel of
opgewerk raak omdat ‘n klip in jou pad gerol word, of elke keer wanneer jy die
drang voel om bandeloos aan die skel te gaan, word dit tyd om jouself in te
stel op 'n gesindheid van gebed en op hoe sulke optrede beoordeel gaan word. Jy sal ontdek dat
jou wanordelike optrede dadelik tot bedaring gebring word.
Oorkom
die negatiewe deur gebed. Bid, het Jesus sy volgelinge immers geleer om nie in
die versoeking te kom nie.
Let
op: nie gebedswoorde nie. Dit gaan om 'n gebedgesindheid. Dit is 'n
oorstap van een ontstuimige situasie in God se teenwoordigheid.
Daar is iets anders wat lyk my deur die gebedsgesindheid opgeroep word. Wie in 'n atmosfeer van gebed leef, dink nie meer aan hom- of haarself nie. Die Ander maak saak.
Wanneer jy beheer kwyt is, keer jy dit om, kry jy weer perspektief deur na te dink oor die konsekwensies. Dink, vra Evagrius,
oor hoe ‘n mens oor jou gedrag verantwoording doen, hoe ander dit gaan
waarneem.
Besef dat ander na jou kyk, jou beoordeel en dat jou gedrag iets aan
hulle doen.
Onderskei
al die implikasies wat in jou emosies en optrede gesetel is.
Bid
dus, vra Evagrius, dat ‘n mens die genade kry om buite jouself te gaan staan,
jouself dop te hou en te sien wat ander mense sien as hulle na jou in sulke tye
van woede kyk.
Ou
raad – om te bid dat ‘n mens nie in versoeking kom nie. Maar vars, nuut wanneer
Evagrius, wat 16 jaar lank in die woestyn in Egipte geleef het en diepsinninge
werke van geleerde voorgangers gelees het, daaroor skryf. Deur in die gees van gebed te leef, skryf hy, ontdek
‘n mens sagmoedigheid.
Trouens, die gees van gebed waarin ‘n mens jouself kan
vergeet, kan so kragtig werk dat ‘n mens “dadelik” tot bedaring kom.
So vinnig kan die gebeur, so sterk werk gebed en soveel berge kan 'n mens versit.