‘n
Mens wat innerlik vry geraak het, wat losgemaak word uit die greep van uiterlike, verbygaande dinge, word ‘n “nuwe”
mens. Sy of hy leef uit en vir hul verhouding met God.
Die
vernuwing kom deurdat God die mens bo hom- of haarself uitlig. God gee aan
mense, wanneer hulle vernuwe word, by wyse van spreke “vlerke” om uit te styg
bo hulle omstandighede. Soos die beroemde beeld van die arend van Jesaja 40:31.
Die
oorgang tot ‘n nuwe manier van bestaan is eintlik opvallend: Die mens is normaalweg
deel van ‘n situasie waarin mense hulle bekommer oor allerhande bedreiginge:
armoede, hongerte, liefdeloosheid, ontrou en verganklikheid is van die sake wat
mense gevange hou, onseker maak en waarteen mense hulle self wil afskerm.
Dit
is nou een maal hoe ‘n mens jou situasie beleef.
‘n
Mens word vry uit die tronk van hierdie self-gerigtheid en kommer wanneer ‘n
mens alles vanuit God se perspektief bekyk.
Daar
is twee dinge waardeur God die mens laat uitstyg bo sy of haar omstandighede.
Dit
gebeur wanneer mense in eenvoud totaal
afhanklik is van God en hulle heeltemal op God instel. Die mens kom tot die
punt dat hulle hulself herken as skepsels van God en hulleself heeltemal instel
op God as skepper wat ‘n totale aanspraak op mense se lewens het. Hulle besef
dat hulle skepsels is, dat hulle hul bestaan aan God te danke het en dat hulle
gedurig deur God herskep en vernuwe word.
Terselfdertyd
leef ‘n mens in suiwerheid getrou aan
die verhouding wat ‘n mens met God het. Deur hierdie eenvoud en suiwerheid word
die self en die kommer uit die weg geruim en sien ‘n mens weer die gelaat van
die Ander, skryf Blommestijn. God kry die totale aanspraak op ‘n mens se lewe.
‘n Mens probeer nie meer die werklikheid netjies beheer en na jou hand te reël
nie (sien NC 2.4.6-15).
Ek
is veral geboeid deur Blommestijn se opmerkings oor die implikasies van die
lewe in eenvoud en suiwerheid. Die gevolg van eenvoud en suiwerheid is dat ‘n
mens nuut na die skepping kyk. Die skepping en elke skepsel word ‘n
verteenwoordiger van God se goedheid. “Soos iemand van binne is, so oordeel hy
of sy na buite,” skryf Thomas a Kempis wanneer hy praat oor die hele skepping
wat ‘n openbaring is van God se onvoorwaardelike liefde. As jy van binne nuut
is, in eenvoud en suiwerheid leef, bewus van God se genadige skepping, gaan ‘n
mens ook so na buite leef. Niks of niemand het of besit op sy of haar eie die
lewe nie. In elke mens en skepsel werk en praat God. “Selfs die kleinste en
mees onooglike wese wys vir ons die volheid van God se goedheid”, skryf
Blommestijn.
In
vreugde oor God se lewegewende werking in die skepping, dra ‘n mens ligter aan
dinge wat ‘n mens andersins so swaar en moeilik gevind het.
Hoe
meer ‘n mens in die liefde bly, hoe vryer ‘n mens word van angs en kommer wat
God se teenwoordigheid in ons lewe verdonker, hoe meer word ‘n mens tot die
nuwe mens omvorm. “’n Mens word deur die vuur van God se liefde losgeweek van
die angstige besorgdheid oor jouself” haal Blommestijn vir Thomas a Kempis aan.
Die
mens as nuwe skepsel besef dat jy as skepsel niks het en op niks kan aanspraak
maak nie. God het ‘n mens immers tot lewe gebring. Mense het in hul self van
nature alleen maar nie-syn. Uit niks is ‘n mens gebore en uit niks het die mens
ontstaan.
Hierdie
insig van jou eie geskapenheid en skepsel-wees bring die nuwe mens tot
dankbaarheid en lof. Dit is die mens met ‘n suiwer hart wat in blydskap leef.
Die
kernvraag wat ‘n mens vanuit jou menslike bestaan moet vra is of ‘n mens God
erken as die Gewer van goeie dinge. Die mens is nie outonoom nie en “beskik”
nie oor sy of haar lewe nie. Wanneer ‘n mens dink jy die reg op bestaan het,
vergryp ‘n mens jou aan die genadegawe van God en sluit ‘n mens die deur vir
die intrede van God in ons werklikheid.
Nou
begryp mense: God vorm die werklikheid, God skep die nuwe dinge. Angs en kommer
wyk voor hierdie wete.
Mense
word dus omvorm in skepping: Hulle raak bewus daarvan dat hulle bestaan ‘n
geskenk van God is. Uit genade het God die mens gevorm. En hierdie omvorming
van God duur voort. Wat God begin het, word daagliks voortgesit wanneer God
gelowiges gedurigdeur tot nuwe mense maak. Nooit kom die omvorming in skepping
tot ‘n einde nie.
Wie
innerlik vry geraak het, woon in die teenwoordigheid van God – die Een wat nuut
geskep het en steeds weer nuut maak.