Tuesday, January 15, 2013

Oor die derde naïewiteit en die hergeboorte van allegorie. Die geboorte van Bybelse Spiritualiteit.


Allegorie, skryf al hoe meer navorsers, is die verlore skat van die kerk.

‘n Magdom tekste van die vroegste kerkvaders wys hoedat allegorie die hart van die kerk laat klop het.

In hulle tekste word die Bybel gelees om die kerk op te bou. Daar is gedurig ‘n doelbewuste fokus om “nuwe lesings” van die teks te gee. Hierdie nuwe lesings van die teks laat die skoonheid van die Bybelse boeke steeds weer sterker na vore kom, maar dit het die kerk ook tot daadwerklike uitleef van die Evangelie gebring.

In moderne tye het navorsers tot ‘n tweede naïewiteit gekom: nadat hulle die Bybelse tekste krities ontleed het en deeglik uitgepluis het, het navorsers tot die punt gekom dat hulle tog die tekste weer as die Woord van God gelees het. Hulle het die Bybel as waar gesien en was ingestel op die verskil wat dit in mense en in gemeenskappe se lewens maak.

Die derde naïewiteit benader die Bybel op so ‘n manier dat die transformatiewe krag daarvan patroonmatig uitgewerk word. In watter konteks moet die Bybel ingetrek word sodat dit transformatiewe uitwerking kan hê?

Hier wag ‘n radikale taak: want skielik kom die geestelike lewe, die spiritualiteit as ‘n beslissende faktor in die hermeneutiese proses na vore. Hoe lyk die regte omgewing vir ‘n lewe in ‘n Bybelse sin? Op watter maniere lees ‘n mens die Bybel sodat die impak daarvan ruimte kry?

Hoe kom ‘n mens tot “nuwe” lesings van die teks vir latere tye?

Die allegorie pas in ‘n sekere konteks in: Stilte, gebed, liturgie, sakramente, feestye, instelling, nadenke, geloof, christosentriese denke, omvorming en ander bekende motiewe uit die monastieke tradisie word skielik in die hart van omgang met die Bybel ingetrek.

Dit is ‘n gewaagde stap in die huidige klimaat van Bybelnavorsing. Byvoorbeeld: ‘n dekade gelede was die Christologiese lees van die Ou Testament – soos in die Nuwe Testament – ‘n voorbeeld van (ongewenste / onhistoriese) allegorie.

Met die derde naïewiteit word hierdie allegoriese lees die doelwit en hoogtepunt van die hermeneutiese proses.

Hoe meer tye verander, hoe meer…

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive