By die stil Vroue-monument in Bloemfontein, seker een van die aangrypendste gedenk-plekke ter wêreld, is daar ‘n reeks gedenkstene langs
die wandelpad wat na die monument self loop. Jy sien hulle nie sommer raak nie, veral nie op 'n foto nie.
Onskuldig lyk hulle soos blote versierinkies.
Anders as in
Dachau, daardie verskriklike monument waarin die barre toestand van die
konsentrasiekamp waarin vele Jode gewetenloos vermoor is, is by die
Vroue-monument geen sigbare of opvallende uitstallings van die grusaamhede wat
die slagoffers van die oorlog aangedoen is nie.
Heel
eenvoudig is daar net die een gedenksteen langs die ander.
Op elke
gedenksteen word ‘n dorp se naam gelys en onder die naam die getalle van
kinders onder 16 wat gesterf het, gevolg deur die getalle van mense bo 16 jaar.
En dan volg daar 'n Bybelteks (kan iemand tog nie 'n skripsie oor die tekste skryf nie?).
Die
eenvoudige lys sal die onoplettende, vinnige verbyganger nie maklik roer nie, selfs al sien 'n mens hulle raak.
Maar as jy
gaan stil staan en daarna kyk, jou inleef in die werklikhede agter die syfers,
word die monument ‘n cri de Coeur, meer nog, ‘n verdoemende klag teen hulle wat
mag so vanselfsprekend dink te besit en uit te oefen.
Hier staan
in getalle uitgeskryf waaroor Openbaring praat: die kwaad wat hom veral in
geweld uitdruk, maar vermom deur allerhande edele motiewe van die eerbare
oorlog, vaderlandsliefde, regte vir mense, die Britse Ryk, dapper soldate,
helde-vegters. Want op die manier het die Britse Ryk sy moorde in daardie
nuttelose oorlog verdedig.
En die
eerste teikens van daardie o so nobel gepresenteerde stryd is die sagte mense, die kinders, die
jonge’s onder 16 jaar, die vroue en die oumense.
Dit is die skreiende getuienis
van gedenksteen na gedenksteen, in die nou meestal vergete, selfs bietjie
verwaarloosde monument in die wye Vrystaatse ruimte.
Ry na ry, ‘n
klein steentjie in die breë pad van herinneringe, staan hierdie onopvallende
heenwysings na liefdeloosheid, hatigheid, onverdraagsaamheid, gierigheid en
vele ander van die dryfkragte wat ons menslike bestaan kenmerk.
Hoe sal ons
ooit die greep van die kwaad ontkom? Want eeu na eeu is daar maar nuwer en
dodeliker vorme van gewelddadigheid?
Het, om
Paulus dan te onthou, Christus verniet gesterf?
Spiritualiteit
moet sulke tekens uitlig, bekyk en beleef – want deur sulke kwaad word die
stryd om lewe aangevuur. Die Gees ken nie geweld nie en wil dit oorwin.
Ter nagedagtenis van die 546 kinders onder 16 jaar van Aliwal-Noord wat in die oorlog gesterf het, is daar die Job-teks:
Al wat vir my oorbly is 'n treurlied op die lier, 'n lied van trane op die fluit. (Job 30:31.)