Monday, December 31, 2012

Wanneer dit nie moontlik is om God se wil te onderskei nie....

Soms kan die kerk maar nie net oor 'n saak besluit nie. Soms is dit 'n hele, lange kraamproses om te kan onderskei oor moeilike sake. 

Dit sien 'n mens al in Bybelse tye. 

In Handelinge 5 verskyn die apostels weer voor die Joodse Raad nadat hulle op ‘n merkwaardige manier uit die tronk gekom het.Van die begin af het die raad hulle verwerp en veroordeel. Hulle het "seker" geweet dat die apostels 'n dwaalleer verkondig. 

Die Hoëpriester, bedeesd na die wonderwerk van hul bevryding, vra hulle waarom hulle nie ophou om oor Jesus te getuig nie, waarop Petrus in ‘n kort toespraak vertel dat hulle God meer as mense moet gehoorsaam.

Die emosies bly egter nie lank uit nie. Gou-gou weet die raadslede al te seker wat hulle te doen staan. Hulle wil hulle summer as ketters laat dood maak.  

As die Raad woedend probeer om hulle dood te maak, staan die bekende en gerespekteerde Fariseër, Gamaliël, op en maan hulle tot kalmte (Hand.5:34-39). 

Hy het 'n heeltemal ander houding. Die saak is vir hom nie so klinkklaar nie.  

Hy vertel van twee mense wat groot aansprake gemaak het en wie se invloed heeltemal tot niet gegaan het.

Gamaliël se raad is: los die apostels uit. As hulle beweging van God is, sal niemand dit kan stuit nie.

Hoe tree ‘n mens op teenoor mense wat groot aansprake het en ander maklik beïnvloed, veral wanneer dit oor sake van geloof gaan? Hoe onderskei ‘n mens of so ‘n nuwe, onbekende beweging in lyn met God se wil is?

Gamaliël se onderskeiding het vier dimensies:

1. Geweld teenoor mense en sake waaroor jy onseker is, is nie ‘n opsie nie. Selfs nie eers geweld en moord kan God se saak stuit nie.

2.  Geduld is eerder die antwoord. Wag en sien in tye van onsekerheid. Moenie oorhaastig besluit nie.

 3.  Let op die afloop van die onbekende, nuwe dinge. Kyk hoe ‘n saak sy gang gaan. Wat uiteindelik tel is wat uit so ‘n beweging voortkom. Die boom sal aan sy vrugte geken word.

4.  Wees, laastens, veral bedag daarop dat God soms op ‘n verborge manier werk. Jy ontdek dalk dat wat jy so seker weet en wat jy so maklik as ‘n woord van God uitlê, eintlik teen God se werk gerig is. Wees bedag dat ‘n besluit van jou nie “teen God” stry nie (5:39). Probeer dus steeds weer om vanuit ‘n mens se verhouding tot God oor ‘n saak te oordeel.

Gamaliël spel dus die predikament van die kerk van alle eeue uit. Geloof kan dikwels nie klinkklare antwoorde vind nie. Soms kan ‘n mens lank oor sekere sake nadink, ernstig daaroor bid en versigtig toets of dit werk of nie. Maar ander kere moet ‘n mens in vrede, geduldig, eenvoudig net afwag en sien wat gebeur. Dan is daar nie duidelike antwoorde nie. God werk dus met verrassings, op nuwe maniere en soms totaal anders as wat ons ooit kan dink. Die geloofsweg vra om fyn onderskeiding. 

In die proses van onderskeiding, besef ek, tel die godsbewussyn die swaarste. Steeds weer moet 'n mens onthou dat alle besluite wat 'n mens neem voor God verantwoord moet kan word. Dit is die verantwoordelikheid wat 'n mens op jou neem: om nie teen God te stry in hoe jy jou lewensweg onderskei nie. 

Blog Archive