“Onderwerp
en heers” het ons denke oor die natuur wesenlik beïnvloed. Die natuur, redeneer
ons, moet nuttig gemaak word. Dit moet tot ons voordeel ontwikkel word. Ons
gebruik en beveg die natuur vir ons self-behoud.
Selfs
ons omgewingsbewussyn word bepaal deur die self-gerigtheid waarmee ons die
natuur benader. Ons, skryf Versfeld, dink ‘n orgidee is pragtig sodat ons dit
nie sal uitroei of vernietig nie. Ons dink ook byvoorbeeld daar is ‘n ketting van spesies
waarin die een soort nuttig is vir die ander soort om te kan bestaan. Selfs die
karakter van die natuur word bepaal deur ons siening van nuttigheid.
Hierteenoor
is daar ‘n totaal ander benadering moontlik:
Die
wêreld en die natuur bestaan nie ter wille van die mens nie, hoe belangrik die
natuur ook al is as ‘n ruimte waarin ook die mens, saam met vele ander, ‘n
tuiste gevind het.
Die
natuur is ook nie saamgestel uit komponente waarvan die een deel vir die ander
nuttig is nie. Hoe waar dit ook al is dat daar ‘n harmonie en wedersydse
afhanklikheid in die natuur is, bepaal dit nog nie die identiteit van die
natuur nie.
Die
natuur bestaan ter wille van God. Daarmee wil ‘n mens onderstreep dat die
natuur ‘n wonder-karakter het, waarvan ons die verborge betekenis moet begryp.
Ons sien die grootsheid daarvan en ons weet daarmee word ons hart op God gerig.
Daar
is ‘n oorvloed aan die natuur wat vertel dat dit van God af kom en dat dit die
werking van God van dag tot dag in al sy weldadigheid wys.
‘n
Orgidee is nie pragtig omdat ‘n mens dit besef of raaksien nie. Die orgidee
vier sy eie skoonheid. Dit is mooi. Dit is so eenvoudig. Die blom is so simpel
mooi. Maar in die nederigheid van sy eie skoonheid het dit ‘n ongekende
heerlikheid.
‘n
Orgidee is deel van die natuur met al sy menigvuldige soorte en fasette wat op
‘n merkwaardige manier met mekaar in verbinding staan. Die blote bestaan
daarvan maak ‘n orgidee so mooi. Die orgidee vertel van ewige weldaad,
goedheid, veelheid, manjifiekheid wat ver bokant mense verby bestaan. ‘n Orgidee
is ‘n lofprysing van die natuur, van sy eie bestaan.
Daar
is iets moois aan hierdie insig: die mens is deel van die skepping. Ook die
mensheid vertel van oorvloed en oordadigheid. Elke dag weer ontdek jy dat
mense, soos die natuur, soos ‘n orgidee, vele, vele gesigte het. Boeiend kan ‘n
mens van persoon tot persoon sien hoeveel skoonheid, oordadigheid en goedheid
hulle het. Nie net die donkere en die slegte is daar nie, maar ook die mooie en
die goeie. Maar steeds weer is die mens een van vele, 'n deel van 'n oorweldigende, groter geheel.
Daar
is egter ook iets aan hierdie insig wat ons leer: ons is uiteindelik nie in
beheer van die natuur en die skepping nie. Nie genoeg kan ons besef hoe ons ook
geskape is, dat ons deel van die natuur is. Die oersonde was juis dat die
mensepaar in die paradys hul skeppingsrol wou oorstyg.
In
Spiritualiteit is dit ‘n basiese insig. Juis wanneer ons ons geskapenheid
begryp, word ons nie net geseën met gepaste nederigheid nie, maar word ons ook
gevul met eerbied vir ander, maar veral vir God se onuitputlike,
voortdurende genade. Dit is 'n bevrydende wete dat ons in God se voorsienigheid geborge is. Dit is 'n wete wat ons tot dankbare lof bring.