Friday, December 14, 2012

Waar is die gawe van die Heilige Gees? Spiritualiteit en nuttigheid

Hoe noodsaaklik is Spiritualiteit? Die antwoord, bespreek in die vorige blogs, is dat dit 'n noodsaaklik komponent van die geloofsweg is. 'n Mens kan baie geestelike feite ken, maar nie juis geestelik wees nie. 'n Mens kan ywerig met mooi dinge aan die gang bly, soos die Ryk Jongman, maar met 'n onaangeraakte hart  leef

Halfhartigheid is deel van die geestelike lewe. Louwarm gelowiges is beroemd deur die voorbeeld van die Laodisense in Openbaring (Op.3:16). 

Hoe lyk Spiritualiteit, wat so noodsaaklik is, in sy volheid, wanneer dit nie met 'n halwe hart of louwarm gemoed beleef word nie?

Hieroor dink ek terwyl ek Maas se boeiende artikel lees.

Dit is nou amper ‘n holruggeryde stelling dat daar baie vorme van spiritualiteite is. Dit word al hoe meer ‘n lieflingsstelling van navorsers wat op die terrein van spiritualiteit begin werk.

Dit is, soos ek onlangs op die blog geskryf het, ‘n insig wat globalisering oor ons pad gebring het. Ons het kennis gemaak, soos ons wêreld kleiner geword het, met baie godsdienstige tradisies en hul spiritualiteit wat ons wêreld vul en wat ons, dikwels sonder dat ons besef, op een of ander manier konfronteer of selfs beïnvloed.

Die verskeidenheid vind ‘n mens nie net in Spiritualiteite van wêreldgodsdienste nie. Selfs binne Christelike Spiritualiteit is daar groot verskille.

In die verband is daar ook ‘n tweede, dikwels herhaalde stelling in nuwere navorsing. Hierdie stelling beklemtoon dat in ons nuwe tyd Spiritualiteit nie met geloofsinhoude verwar moet word nie. Spiritualiteit, word herhaal, gaan om beleefde geloof eerder as oor kennis. ‘n Mens beleef jou geloof ver wyer as net deur oor sekere “waarhede” te praat.

In reaksie hierop, moet ‘n mens ten minste twee stellings maak.

1.  Spiritualiteit is nie iets wat relatief is nie. Spiritualiteit is nie ‘n naam wat ‘n klomp los dinge aanmekaar bind nie. ‘n Mens moet vra hoe al die verskillende spiritualiteite oorvleuel. Waar stem hulle met mekaar ooreen? Is daar iets waarop almal van hulle fokus?

2. Spiritualiteit is, tweedens, nie iets wat geen inhoud het nie. Wanneer spiritualiteite met mekaar verskil is dit nog lank nie asof elkeen sy eie inhoud het wat radikaal teenoor ander spirituele inhoude staan nie. Spiritualiteit wat net aan “belewing” en “ervaring” verbind word, kan maklik oppervlakkig raak. ‘n Mens moet dus onderskei tussen spirituele praktyke en spiritualiteit. Om geestelike belewenisse te kan herken en te kan ervaar, is nog lank nie Spiritualiteit nie. ‘n Mens moet byvoorbeeld, skryf Maas oor Christelike Spiritualiteit, gedurigdeur vra op watter manier ‘n mens in geestelike praktyke die verhouding tot God herken.  

Hierdie twee stellings kan ‘n mens op een manier benader deur te kyk na hoe alle spiritualiteit in die Christendom op een of ander manier van God praat. Elke mensehart, sal 'n mens in die studie van Spiritualiteit ontdek, is nie net op hom- of haarself gerig nie, maar op God. Steeds weer dink 'n mens na oor wat 'n mens se geestelike lewe behels en hoe dit mens in 'n verhouding met God stel

Dit is ‘n belangrike vraag omdat die vraag die waarde van spiritualiteit na vore bring. 

Hieroor môre meer.











Blog Archive