Die slim en wyse
wetenskaplikes vertel vir ons dat ‘n mens alles in die wêreld netjies kan
uiteensit.
Maar, het ons gesien,
die skoonheid van die aarde is veel groter as wat ‘n mens met jou verstand kan
bepaal.
Hoe verskriklik sou
ons wêreld gewees het, skryf Versfeld, as dit uit dinge bestaan het wat ‘n
bepaalde funksie het. Hoe aaklig sou ons
lewe wees as ons maar leef uit ons insigte oor wat die werking van die aarde
is.
Die wetenskap vertel
ons dat alle boomstamme kanale is wat water van die wortels na die takke
vervoer. Maar: Hoe sou ‘n wêreld lyk as al die veelheid van ons waarnemings oor
boomwortels verskraal word tot “kanale” wat water na ‘n boom se takke neem?
Ons sien nie ‘n
wêreld vol “funksies” nie. Ons sien eerder oordadige detail: ons sien knoetserige
wortelstamme met pragtige vorms. Ons sien veel, veel meer as ‘n blote
“waterkanaal” wanneer ons al klaar net na ‘n boomstam kyk.
Op die manier sou ‘n
mens, saam met slim insigte, ander voorwerpe ook kon reduseer tot hul
“funksie.” Ons kan die mens ook bedink as iemand wie se funksie is om te
bestaan of te lewe.
Maar die mens en die skepping
is iets heeltemal anders. Kyk maar na ‘n blom. Ons sien ‘n bedding vol pragtige
blomme. Elke blom is spesiaal en mooi. ‘n Mens sou nou kon vra wat die funksie
van ‘n blom in so ‘n bedding is. Want, sou ‘n mens kon dink, dan “verstaan” jy
die blom en die blombedding.
Hoe kan ‘n mens
dit vra: watter sin maak die skoonheid van ‘n blom in ‘n bedding vir die ander
blomme wat ook daar geplant is? ‘n Blom “sien” tog nie die ander blomme nie.
Dieselfde vraag sou ‘n mens vir baie ander dinge in die skepping kon vra.
En dan kan ‘n mens
dit nog verder bedink: So af en toe sien ons ‘n pragtige blom raak. Maar wat
van die miljoene ander blomme wat ons nooit raaksien nie? Wat van al die blomme
wat deur eeue heen op ons planeet pragtige geblom het?
Hoekom is ‘n blom dan
pragtig? Sekerlik nie ter wille van ander blomme nie. Sekerlik ook nie ter
wille van die mens nie. So belangrik is die mens ook nie. ‘n Blom is bloot
mooi, oordadiglik pragtig.
Blomme, soos vele
ander dinge in die wêreld, is in hul skoonheid ‘n gawe aan die mens. Dit het ‘n
eie doel en ‘n verborgenheid wat ‘n mens nie kan peil nie.
Dit is asof blomme,
soos baie ander dinge, radikaal onselfsugtig en vrygewig is. Hulle is soos skoenlappers,
berge en bome nie daar ter wille van hulle self nie. Hulle leef, bestaan en
geen funksie of nut kan reg aan hulle laat geskied nie.
Elke blom, sê
Versfeld, skitter dus in uniekheid in oorweldigende oordadigheid as ‘n suiwer
gawe aan homself en aan ons.
Wat het die mens tog
van die wêreld gemaak: ons gebruik dit tot ons voordeel. Ons soek daarin na wat
nuttig en bruikbaar is. Ons put die natuur uit. Ons span dit in tot ons eie
voordeel. Ons bekyk blomme asof hulle daar is om deur ons gebruik te word en
ter wille van hul funksie bestaan.
In die proses kyk ons
verby die skoonheid van die wêreld. Ons sien nie die grenslose vrygewigheid van
die aarde raak nie.
Die dieper insig werk
anders. Die wêreld is ‘n plek vol oordaad wat ons menslike insigte totaal
transendeer.
In hierdie
oordadigheid sien ons die teenwoordigheid van God. Die wêreld is nie ‘n plek
wat een keer ontstaan het en nou maar op sy eie bestaan ter wille van die mens
nie.
Die wêreld is die
ruimte waar God teenwoordig is en besig is om elke keer weer opnuut oneindige
skoonheid en prag op ‘n oordadige manier tot stand te bring. Wie na die
skepping kyk, herken God. Ons sien die beeld van ‘n God wat ryk is aan genade,
oorvloedig in die uitdeel van mooi en goeie dinge, of hulle nou nuttig is of
nie. God het “niks” geneem en geskep. Maar God het nie maar net “iets” geskep
nie. God het die niks geneem en dit tot oorvloed omvorm. En ons sien die
oorvloed in die orgidee, die veelkleurigheid van die dagbreek, die kunstige
knoetse van die boomwortels.
Dit is die verborgenheid
van die skepping wat ons nie altyd waardeer nie. Dit is die heerlikheid van ons
woonplek wat ons nie genoeg na waarde skat nie. Ons het die meesters geword wat
God netjies uitgerangeer het en ons wêreld gereduseer het om in te pas by ons
klein, vaal en ingeperkte brein.
Spiritualiteit help
ons om dieper te kyk. Dit wil ons verder neem as ons intellektuele magsgrepe.
Ons leer dat die wêreld veel groter is as die wetenskap wil beweer - al weet ons hoe belangrik en deurslaggewend die wetenskap wel is.
Spiritualiteit wil ons nederig laat besef dat ons deur ons slim patrone die rykheid van die
Genade kan miskyk en kan relativeer.
Daarom sal
Spiritualiteit ons gedurig bewus maak van God wat uit niks skep in die transformasie
in skepping. Maar Spiritualiteit herinner ons ook dat God in heerlikheid skep.
Die skepping, deur die mens se hooghartige magsgrepe afgeskaal tot iets wat ons beheer en bedink, sal bevry word sodat die
mens, as skepsel, in alle verwondering, opnuut weer sal kan uitroep van blydskap
oor die gawe, die goedheid en die rykheid van die paradys wat teenoor en ten
spyte van die niks, die nie-bestaan, aan ons geskenk word.