Versfeld skryf sy
bekende kookboek (The philosopher's cookbook) oor ‘n klomp boeiende onderwerpe - steeds weer met kookkuns te make.
In een van die afdelings
skryf hy oor kruie. Dit is ‘n pragtige deel waarin sy liefde vir tuine, kruie,
lekker eet en die natuur in elke woord na vore kom.
Hy haal in hierdie
bespreking ook vir Hooglied aan.
Lees die hele boek
– nie net ‘n deel daarvan, vra Versfeld, voordat hy wil skryf oor hoe ‘n mens
kruie in die kombuis gebruik.
Hy verwys self spesifiek na Hooglied 4:13-15.
Dit is ‘n intense gedeelte, deurdrenk met erotiese liefdestaal, maar
steeds weer met aardse beelde uitgewerk. Die bruidegom praat :
Ek hou van
jou liefkosings, my beminde bruid, jou liefkosings is beter as wyn, jou parfuum
ruik lekkerder as al die lekkerruik-kruie. Jou lippe proe soos heuningstroop,
my bruid, jou tong soos heuning en dikmelk, en jou klere ruik soos die Libanon.
My beminde
bruid is 'n tuin wat toegemaak is, 'n tuin met 'n muur om, 'n fontein wat
afgekamp is.
Maar dan kom die kruie-taal:
Jou liggaam
is 'n lushof, granaatbome met keurige vrugte, hennastruike saam met nardus,
nardus en saffraan, kalmoes en kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie,
mirre en aalwyn saam met al die beste lekkerruik-kruie. Daar is 'n fontein in my tuin, 'n put met
borrelende water, strome van die Libanon af.
Dan gee Versfeld die volgende spirituele raad, maar in 'n aardse konteks:
“Lees dit as
‘n meditasie voor jy begin kook en die resepte sal sommer spontaan opkom.”
Liefde,
Bybeltaal, kruie-taal, skeppingspassie – dit inspireer tot in die kombuis in…
Dit
transformeer ‘n mens tot ‘n kok wat altyd nuwe dinge ontdek….