Saturday, December 22, 2012

Miljoene engele, oorvloed en God se teenwoordigheid. Oor die wêreld as wonder (4).


Lukas 2:13 lees: “en skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: ‘Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”

“‘n Menigte van die hemelse leërskare” is ‘n frase waaroor ons maklik en vinnig lees.

In die onlangse reeksie in hierdie blog oor die wonder van die skepping met al sy oorvloedigheid, kry so ‘n frase ‘n nuwe betekenis.

Met die geboorte van die kind, aangekondig is die stille eensaamheid van die oop velde, wys die Skepper weer eens die oorvloed. Baie, baie van die hemelse leërskare besing die wonder van die Kind se geboorte. Nie net skaapwagters in al hulle eenvoud kan die geboorte met lofsange begroet nie (Lukas 2:20). Tot in die wydtes van die hoogste hemele en in totale oorvloed word die wonder-werk van God geloof.

Oordadigheid kenmerk dus ook die adventstyd. Veel meer as net ‘n aankondiger, as maar net een engel met blye nuus, is by die sonderlinge toneel in Bethelehem se ope velde aanwesig. Trouens, die engel van die Here se boodskap aan die herders is maar net die begin van die verhaal.

Die eintlike verhaal is die uitbundige lofgesange, die vredesliedere van die magdom hemelse wesens.

In die hart van hierdie verhaal van oorvloed staan God. Eer aan God!

Adventstyd is die tyd van oorvloed wanneer hemel en aarde die geboorte van die kind aangryp om in hul menigte die Een wat alles doen en gee, te prys.

Terwyl alles in die res van die land en die wêreld sy normale gang gaan, onthul God in verborgenheid, in die stilte van die afgesonderde platteland, die oorvloed van die skepping.

Lank nie meer is die oorvloed tot Lukas se verhaal oor die adventstyd beperk nie.

Wanneer Johannes sy boek Openbaring skryf en vertel van die nuwe lied wat gesing word, herhaal dieselfde toneel hom. In Openbaring 5 word vertel hoedat die Lam mense met hulle kosbare bloed gekoop het. Die verhaal is ‘n viering van die Lam se offer, van sy self-prysgawe, van sy liefde (Open.1:5).

Na die lied van die lewende wesens en die ouderlinge, word die toneel skielik heeltemal oordadig. “Toe sien ek en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hullle getal was tienduisende van tienduisende van duisende.”

Totale oorvloed. ‘n Mens sou ook die gedeelte kon vertaal as: “ek sien en hoor engele, duisende en miljoene van hulle.”

Hierdie miljoene engele, maar ook “elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is” het aan God en die Lam eer gebring.

Ook hier gebeur alles “vir God” (Open. 5:9).

Dit is God: die een wat in oorvloed regeer. Oordadig.

In die adventstyd word ons bewus van die skepping wat in sy totale oorvloed en rykdom voor God bestaan.

Hoe groot lyk ons eie lewe, ons teenspoed, ons angste, ons prestasies, ons doodgaan tog nie normaalweg vir ons self nie. Ons dra swaar aan die las van ons eie roem en gewigtigheid.

Maar ons lewe is ‘n mikro-deel die oorvloed in die skepping. Miljarde mense, miljoene engele, skares vanoor die hele wêreld.

En tog, niks is te klein of te onnodig of ongerekend nie. In al hierdie oorvloed is God teenwoordig. God is so. God is ryk. Alles bring God tot stand. Tot in die kleinste, skynbaar nuttelose detail, is God daar, oorvloediglike daar.

Ons lewe, soos die kleinste mossie s’n, soos die lelie van die veld, is God se handewerk.

Dit is genoeg. Dit bring vrede. Nou kan ons, wat hierdie oorvloed gesien het, in vrede sterwe. Want selfs in die aanslag van die mens se groot aartsvyand, die dood, is God oorvloediglik aanwesig. Saam met die hele skepping, in sy tydelikheid, in sy oneindigheid, is ons geborge in God. Niks kan ons van die liefde van God skei nie.

Miskien is die Kind hiervan die beste simbool: net maar ‘n Lam, ongerekend, verstoot, geslag. Maar in hierdie Lewe, so klein, is God teenwoordig – oorvloediglik.

Blog Archive