-Vandag is daar op
die Vlaamse televisie ‘n onderhoud met ‘n persoon wat veral onder jongmense van
12 tot 20 jaar werk. Die onderhoudvoerder wil van hom weet hoe hulle deesdae
dink en of daar merkbare tendense is wat hy raaksien.
Die jeugwerker,
self nog iemand van in die dertigs, weet seker:
Jongmense is moeg.
Hulle hoor elke dag slegte nuus. Die ekonomie is onder druk. Die wêreld is
besig om vernietig te word. Omgewingsbesoedeling neem toe. Hulle sien enorme
geweld en onmin om hulle. Dit raas in hulle ore.
Hulle word deur
die nuus ontstel.
Hulle soek rus.
Hulle wil nie meer in ‘n gedrewe maatskappy leef wat net eenvoudig voortraas
nie. Hulle wil uit en weg. Hulle soek dit nie so nie.
Maar, voeg hy by,
hulle soek veral stilte. Hulle wil wegkom van die lawaai waaraan hulle daagliks
blootgestel word. Hulle wil nie meedoen aan die meedoënlose afdraande-pad
waarop mense in dolle spoed voortjaag nie.
Hulle wil in ‘n
veilige omgewing wees. Een van die dinge wat hulle veral koester is familie.
Maar sy verhaal is
nog lank nie uit nie. Jongmense beweeg
weg van retro. Hulle ervaar nie meer die nostalgie van ‘n ruk terug na vervloeë
tye en hulle deel nie die terugverlang na wat verby is van hul ouer tydgenote
nie.
Nee, voeg hy by,
hy sien onder jongmense dat hulle veral na die toekoms kyk. Hulle wil nuwe
dinge beleef. Hulle wil iets doen om hul mooi drome vir die toekoms waar te
maak.
Dit is boeiende
dinge. Die jeugwerker is baie beslis: jongmense kyk nie agtertoe nie. Die nuwe jongmens is die een wat drome droom.
Ek sit en bedink
die verhaal. Dit is my retro-oomblik. Ek dink terug aan die dae toe ons op
loom, somerdae in ons eike-plekkie sorgeloos die lewe begin aanpak het. Dit was
egter ook wintertye, het ons te goed geweet, woeste dae. Hatigheid, brandende
townships, outoritêre, gewelddadige instellings, oorlog, sanksies, reisverbod,
dissipline, ses van die beste, snorlippe wat jou weggejaag het as jy nie ‘n das
aangehad het wanneer jy vorms in hul vaal kamers gaan invul het en vele ander
benoude plekke en persone.
Ons het maar, jeugdig
en driftig, ons dink gedink en ons prate gepraat vervul met afkeer aan die
groot geraas van die tyd.
Maar ‘n vaste deel
van die tye was ons ywerige drome vir nuwe tye.
Ons sou nie meer
so wees nie.
Ewige jeug, in
Vlaandere en in die Eike-plekkie, nou en toe, wat sy skoonheid veral vind in
die hoop op beter, ander tye verby die geraas van menslike feile, van vaal vasgebrandheid
en moedelose uitbranding.
Hoe diep is die
verlange na transformasie, die hoop op ‘n nuwe hemel en aarde in ons ingeplant
– as ons jonk is. Oral en altyd sal dit by ons wees. Dit is ons menslike natuur
wat ook weet van stilte, vrede, en van paradys.
Dit is ‘n
goddelike gawe wanneer ‘n mens in die ouderdom nog weet hoe goed en waar die
drome is. En dit is genade dat 'n mens in die skemertye dankbaar kan vashou aan die ewige gawe van die jeug aan die wêreld.