Saturday, December 08, 2012

Uiterlik

Hoe kom dit  tot die punt dat Christus so deel word van die menslike bestaan dat mense Christus uitbeeld?

Dit sal nie gebeur wanneer 'n mens se lewe aan uiterlike dinge verknog is nie.

Die lysie van dinge wat vir ons belangrik word, is in vele opsigte bekend. Hulle is almal dinge wat uiterlik is.

Reputasie, roem, erkenning, status, rykdom, kennis staan almal op die lys.

Wat ons miskyk, egter, is dat al hierdie dinge op een punt ooreenstem: ons soek na die uiterlike dinge omdat ons sensitief is oor wat ander mense van ons dink.

As ons ryk is, sal hulle ons respekteer en beny. Dink ons. As ons beroemd is, ook so. En as ons slim is, word ons ook bewonder. 

Gedurig op die uitkyk na wat buite jou aangaan en hoe dit jou lewe raak.

En steeds weer vergeet mense hoe leeg die erkenning van ander mense is. Beroemdes word veral beskinder. Rykes word aangeval en verag. Slimmes word bespot of uitgedaag. Geluk is nie te koop nie. Mot en roes vreet die blink dinge ook. Roem vergaan.

Diep in hulle binneste weet mense dat ander ook so na hulle kyk: hulle hou fyn dop wat jy van hulle dink. Hulle weet, soos jy, dat al is hulle ryk, slim, beroemd, dit niks waarborg nie. Elke oomblik is daar nuwe kritiek, ander maatstawwe, heftige teenkanting. Jy oordeel en jy word geoordeel. Die lewe word 'n spel van uitsprake oor ander.

En waar 'n mens so angstig bewus is van hoe wisselvallig ander se oordeel is, daar kom onrustigheid, onvrede, 'n gejaag na meer erkenning en roem - 'n groter en intenser greep na die uiterlike.

Innerlik word die mens wat van ander se oordeel afhanklik is, armsalig en angstig.

Jy is vreemd vir jouself. Ontuis in jou eie vel. 'n Dwalende, selfs in die heerlikheid van al jou uiterlike dinge.  

Christus woon nie in die innerlike van 'n mens wat gedurig die oog op uiterlike dinge het nie. 

Blog Archive