Hoe
noodsaaklik is spiritualiteit? Hieroor
dink Maas na, soos in gister se blog bespreek.
Maas vertel hoedat daar in onlangse tye al hoe meer aandag gegee is
aan die menslike ervaring, aan die hart en aan die menslike verlange om by God
te wees. Dit is 'n nuwe fase wat belangrike implikasies het.
Vroeër
het mense alles oor God mooi geweet en bely. En in ‘n sekere sin bly daardie
geloofsinhoude nog tot vandag toe by ons. Hulle is nie regtig noodsaaklik nie. Wat
ons met die brein weet, het mense al in die Psalms geweet. Die Onse Vader as
gebed is bekend. Mense ken dit en kan die inhoud daarvan netjies uitspel. Al
die groot verhale in die Ou Testament verskyn weer in die Psalms: hulle praat
oor Abraham, Jakob, Josef, die uittog en oor David. Die bekende geskiedenisse
word oor en oor ter sprake gebring, maar niks nuuts begevoeg nie.
Wanneer
‘n Psalmis uitroep: ag, sal ons tog uit Egipte uitgelei word, is dit op die oog af nuttelose
informasie. Dit is bekende inligting. Exodus vertel tog al genoeg en alles van die uittog. Die Psalms bied nie veel nuwe en ander inligting nie.
Maak
dit die Psalms as spiritualiteitstekste, as tekste waarin die geloofservaring
na vore kom, nutteloos?
Ja,
sou ‘n mens kon antwoord. As ‘n mens die Psalms bloot as inligting sien, is
hulle nutteloos.
Maar
as ‘n mens die Psalms uit ‘n ander perspektief bekyk, word dit ‘n ander saak.
Dit gaan hier naamlik oor die oratiewe aard van die Psalms.
‘n
Mens kan baie dinge weet oor God: God is anders as mense. God, ver bo die mens
verhewe, tree in ‘n verhouding met die mens, God tree in vir die mens in of God
bring die mens tot stilstand.
Maar
wanneer ‘n mens hierdie “kennis”, “inhoude” of “feite” deel maak van jou lewe,
word jou hart aangeraak. Dan ervaar ‘n mens God as anders, as God wat jou
liefhet, wat vir jou intree of wat jou tot stilstand bring. Nou word ‘n mens
betrokke. ‘n Mens weet nie net van God nie. ‘n Mens ervaar God.
Die Psalms gee nie net bloot kennis van God nie. Hulle vertel hoe mense die God van die uittog in hul lewens ervaar het.
‘n
Mens kan nie net “toesien” wie God is of wat God doen nie. Wanneer ‘n mens bid,
groei jy, verander jy, word jou lewe in ‘n proses opgeneem wat transformatief
is. Sonder om te bid, om geestelik ingestel te wees, om jou hart oop te maak,
gebeur niks.
Om
te “weet” van God, is nog nie om in ‘n verhouding met God te leef nie. In
spiritualiteit gaan dit om die transformatiewe verhouding met God wat gedurig
weer in ‘n proses van groei ‘n verskil aan mense maak.
Spiritualiteit
gaan om die verlange, die wens, die begeerte, om gebed. In die groot wëreld van
die winkels, fabrieke, universiteit, sport tel hierdie oratiewe, optatiewe nie
baie nie. Daar moet jy “weet” en “wys.”
In
Spiritualiteit gaan dit om te voel, te ervaar, meegesleur te word. Die verlange
om deel te word van ‘n proses word die proses. Sonder die hart, gebeur niks. As
daar nie verlange is nie, is daar bloot net kennis (1 Kor. 13). Of bloot net
aktivisme (1 Kor.13). Al die tale kan jy ken, al jou goed kan jy uitdeel, maar
die hart kan nog onberoerd bly, ongeroer aanleef.
So
eenvoudig, so gewoon is spiritualiteit. En, vanuit die hoek gesien, ongewoon,
uniek en onontbeerlik.
Môre
dan meer oor wat dit beteken as ‘n mens iemand soos Eckhart Tolle se werk lees.