Monday, December 03, 2012

Die kwesbare God.

T.T.. Cloete skryf:

II God is Liefde

Die almagtige kom 
soms kwesbaar in ons gemoed
- Hy kan alleen wat Hy weet maak 
in ons - in liefde diep bewoë raak
is naby toegelaat aan Hom 
waar en warm soos bloed

Dit is 'n gedig gedryf deur 'n paradoks. Kyk die teenstelling:

Die "Almagtige" wat "kwesbaar" kom! Ondenkbaar - dat die Een wat alles kan, niks kan doen nie; dat die almagtige magteloos word? Dit is die mistieke antifrase. So groot en juis so klein.

Maar daar is nog 'n ander paradoks: 

Die almagtige kom "in ons gemoed" in.  God, oorweldigend groot, kom naby 'n mens, klein, in jou innerlike. Daar is hierby nog 'n tweede dimensie wat God se grootheid beklemtoon: Sterk is God. Hy is God die almagtige, die Een wat "alleen weet" wat om te maak "in ons". En, derdens: In die voorlaaste strofe word dit verder verduidelik, maar nou in die lydende vorm. God wat kwesbaar kom is die Een wat gee dat ons "naby toegelaat (word) aan Hom."

Niemand kom tot God nie. God bring ons naby, laat ons naderkom. Daarom staan daar dat God "soms" tot ons kom. Die mistieke oomblikke is skaars, maar brandend. Wie deur God aangeraak word, is nooit weer dieselfde nie. 

Al die woorde vertel van 'n mens se innerlike - van die klein, menslike ruimte wat God, die almagtige, binnekom in liefde. God die grote is God wat naby,  intiem deel wil word van mense. 

Dit is 'n mistieke eenwording en eenheid. Liefdesmistiek.

God is die Een wat handel, wat doen, wat ons gee om naby te kom. Sterk, handelend, aan die werk.

En dan word God "kwesbaar." As God kom, gebeur die oorweldigende met die mens: diep bewoë raak 'n mens in liefde. Waar dit gebeur, word 'n mens "naby toegelaat" aan God. En naby aan God is vir 'n mens "waar en warm soos bloed." Dit laat 'n mens se innerlike brand, warm word.

Dit groot teenstelling is: God se koms is in die Liefde. En die Liefde is so spesiaal - dit bring tot bewoëndheid. Kwesbaar is God in die Liefde, maar ook so naby in die goddelike vuur van toegeneentheid

Die kwesbaarheid is uiteindelik juis wat so sterk, so spesiaal is. Die liefde is so - breekbaar, maar ook sterk.

Blog Archive