Efesiërs 1 bly ‘n opvallende
hoofstuk omdat dit so oorvloediglik van die volheid van mens-wees praat.
Die gedeelte is ingebed in 'n brief waarin vertel word van watter onvoorstelbare moontlikhede daar in ons mens-wees ontsluit kan word.
Dit begin al in vers 3 wanneer
Paulus praat hoe mense wat ‘n verbintenis met Christus het, geseën word met al
die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
Onvoorstelbaar: "al" die seëninge van die Gees?
Terwyl ek dit lees, dink ek aan wat
ek onlangs gelees het oor die honger-dieet waarop ons onsself altyd plaas. Ons
werk met die ontlading van skuld, die wegneem van die laste wat ons verlede op
ons laai. Ons is bly oor die wegneem van wat verkeerd gegaan het.
Ons is met min tevrede.
Dalk met 'n sukkel-bestaan, al is die honger groot na meer as dit.
In die proses leef ons ons nie in in
die veel groter rykdom waaraan ons deel kry deur die nuwe lewe wat God vir ons
bring nie.
Ons bly by die geopende deur staan.
Die “hemel”, die “Gees” en al die
seëninge is voorberei. Dit word geskenk, van God af, reg om herken te word en
toegeëien te word.
Ons staar binne-toe, maar bly by die drumpel vashaak.
In die omkyk, terugkyk en
vasgebondenheid aan die skuld wat ons agterlaat, word ons, vreemd genoeg, soutpilare. Die
toekoms met al sy seëninge bly ons ontglip, want ons herken dit eenvoudig nie as iets wat 'n werklikheid in 'n mens se lewe kan word nie.
Dit is miskien die rede waarom ons
so min positiwiteit ervaar. In Efesiërs is Paulus die een wat God loof, wat
praat van seëninge en wat uitsonderlike taal oor die liefde skryf. God het “in
liefde” vir ons deel van die goddelike familie gemaak (vers 5). Herhaaldelik kom hy terug na die innerlike verlange om God te loof oor die rykdom wat uitgedeel word...
Paulus skryf wel in vers 7 oor die
bevryding en die vergifnis wat mense ontvang het en in dit is inderdaad ‘n goue
draad deur die brief as geheel.
Maar vergifnis is vir hom ‘n saak
wat in die verlede geanker is, in die dood van Christus.'n Mens moet daarop kan bou, vorentoe gaan en die groter, nuwe dinge kan beleef.
Wat vir hom belangriker is, is die
“erfenis” wat mense ontvang het en wat nou, as gevolg van die vergifnis, omarm
en uitgeleef moet word. Twee keer, in vers 11 en 14, praat hy oor die erfenis. En
die erfenis bestaan daarin dat ons “tot lof van sy heerlikheid” kan bestaan. Hieroor praat hy ook twee keer – in vers 11 en
in vers 14 weer. Hy sal in vers 18 weer daarheen terugkeer.
Hoeveel lof kom van gelowiges se
lippe af? En hoeveel heerlikheid van God
sien gelowiges raak? Word die liefde die hart van geloofstaal?
Is daar in die gelowige woordeskat
van ons tyd iewers nog ruimte vir sulke uitsonderlike positiwiteit en
ingesteldheid?
Seker een van die merkwaardigste
verse in Efesiërs is die uitspraak in 3:19. In die konteks (Ef. 3:12-21) praat
Paulus van die rykdom van God se heerlikheid wat mense innerlik bemagtig, van
die liefde waarin mense gewortel is. Paulus bid dat mense die breedte, lengte,
diepte en hoogte van die liefde sal leer begryp. Sy verlange by God is dat
mense die liefde van Christus – wat alle kennis oortref! – sal leer ken. Kennelik dus, weet Paulus van hoe 'n mens maklik by die honger-dieet kan aansit, onbekwaam om die ryker dis op te soek.
Dan volg die merkwaardige woord:
iemand wat in hierdie liefde inwoon, sal met al "die volheid van God" gevul word.
Die volheid van God? Vers 20
verduidelik so bietjie wat dit beteken wanneer iemand in God se volheid woon. Dit is 'n lewe deurtrek met hoop, positiwiteit, bemagtiging.
Maar ‘n mens moet jou gedagtes laat gaan om deur die frase getref te word. Wie
het ooit gedink dat die apostel en die heiliges aan ander sal vertel dat God in
al die goddelike volheid in mense woon – ver verby die ontlading van skuld. Dit
is taal wat verstand te bowe gaan. Maar vir Paulus is dit taal wat geloof
opsom.
Het die Geliefde dan nie lank voor
Paulus aan sy eenvoudige dissipels, vistermanne, gesê hulle sal berge besit
nie? En dit, eenvoudig, wanneer ‘n mens in die liefde bly.
Genoeg vir ‘n lofsang…