Die
“mondige” mens maak al die afgelope eeu of twee die aanspraak dat mense braaf
genoeg geword het om sonder God te leef.
Hieroor skryf Versfeld in die boeiende slot van sy Philosopher's Cookbook.
Daar
is in hierdie "grootmens"-tyd nie meer plek vir die buitengewone, die unieke, die andersheid, vir dit wat
ons verstand te bowe gaan nie. Ons het sekere algemene insigte wat ons ‘n houvas
op ons wêreld gee, redeneer ons.
Ons weet hoe die wêreld werk. Ons verstaan wat in die wêreld aan die gang is. Ons is die meesters van die aarde.
Hoeveel
die mondige mens egter ook al van die wêreld weet en hoe netjies alles ook al
in patroontjies uitgepak word, hoe minder kan ‘n mens verby die basiese insig
kom dat die wêreld deurtrek is met die wonder-like, met die onverklaarbare, ja,
selfs met die goddelike. Daar is aan ons aarde dinge wat nie strook met ons verklaring daarvan nie en wat in spanning staan met alles wat ons uitgewys het as die sin en werking van die aarde.
Daar
sit iets arrogants in die mondige mens se aansprake dat ‘n mens sonder God,
sonder die uitsonderlike, die anderse, kan regkom, asof ‘n mens se verstaan van
die wêreld genoegsaam is. Asof ons alles kan reduseer tot wat vir ons werk en
wat by ons insigte inpas.
Kyk
maar hoeveel help ‘n mens se verstand jou as jy in die natuur kom. Sartre onthul
in ‘n bekende verhaal die hulpeloosheid van die mens voor die wortel van ‘n
boom wat bo die grond uitsteek en wat ryk is aan draaie, vorme, knoetse, bas en
krulle.
Jy
kan, skryf Sartre, maar min verklaar deur vir jouself aanhoudend te sê: “dit is
‘n wortel.” Hoe meer jy dit herhaal, hoe minder kry jy daardeur ‘n insig in wat
die wortel is.
‘n
Wortel, vertel die wetenskap ons, is ‘n kanaal wat water uit die grond na die
boomtakke lei. Dit is die koue, nugtere, wetenskaplike funksie wat aan ‘n
wortel toegeken word. Daar is nie ruimte vir die unieke en andersheid nie. 'n Boom "werk" nou maar eenmaal so. Dit is die funksie van bome.
Maar
om na die wortel, oortrek met harde knoetse te kyk is veel meer as om te praat
oor ‘n kanaal vir water.
Hoe
verduidelik ‘n mens hierdie wortel met sy eie kleur, sy vorme, sy vasgelegde
beweging? Hoe kan ‘n mens die ekstra’s, dit wat veel meer as ‘n waterkanaal is
- die skilderagtige knoetse, die ongelyke, unieke patroontjies van die bas en
die kunstige, oordadige rondinge – verduidelik?
Die wortel is veel meer as net om 'n waterkanaal te wees.
Daar
is oorvloedigheid in die wêreld waaarvan ‘n mens selfs naar kon word, skryf
Sartre.
Dinge
is veel meer as blote funksie. Ons kan nie ‘n ding verklaar in terme van wat
hulle doen nie. Daar is unieke aspekte van dinge wat niks te doen het met hul werking nie.
Die
unieke aan ons wêreld is oorweldigend, onverklaarbaar en bo alle verstand.
Wanneer
‘n mens ‘n ui optel om dit te skil en vir ‘n dis te gebruik, is daar in die
hele proses iets spesiaals en uitsonderlik. Hierdie ui, ontdek die kok met
plesier en genot wat dit in die hand vashou, het ‘n eie geur, tekstuur, smaak
wat die kookproses ‘n avontuur maak.
Die ui is nie maar net 'n bestanddeel wat by 'n dis gegooi word om die smaak netjies te maak proe nie.
Die
wêreld wat ons so goed verklaar en waaruit ons God weggeneem het, is egter
groter en wonderlike oordadiger as ons god-lose teorieë en insigte.
Daar
is iets aan die wêreld wat ons houvas ontglip, wat ons nie kan deurgrond nie,
wat ons insigte transendeer, wat wonder-like is – selfs wanneer ‘n mens as “mondige”
mens met al jou kennis die wêreld bekyk.
Hieroor
môre meer.