Monday, December 24, 2012

Oor die Tuin. Die diepste sin van Kerstyd.


Onlangs skryf ek ‘n artikel oor die paradys en besef weer hoe belangrik dit vir die Bybelse tekste was om oor die paradys na te dink.

In ons tyd laat paradys-stories wenkbroue lig: Dit is, dink ons dikwels, ‘n ontvlugtingsmotief: wêreldvreemdheid, askese lei tot die wegvlugt na ‘n ander, aparte ruimte – die paradys.

Maar so word die paradys misverstaan.

Die Bybeltekste is duidelik: Die paradys, die tuin van God, word van die begin af as deel van die skepping beskryf. En in alle tye het eksegete steeds weer die paradys en die skepping met mekaar verbind. Paradys het alles met die wêreld te doen.

Vele uitleggers het daarop gewys dat die verhaal van die paradys die Bybelse kanon omraam. Daar is ‘n paradysverhaal in Genesis 2-3. Daar is in Openbaring 21-22, die laaste Bybelboek, die paradys van die eindtyd. Wat verlore geraak het, sal terugkom. Van die begin tot die einde staan die verhaal van God in die teken van die Tuin.

Altyddeur, egter, was die paradys deel van die wêreld, van die werklikheid waarin mense hul bestaan gevind het. Die paradys was God se werklikheid wat die vervalle wêreld bevraagteken het. Die paradys vertel hoe die wêreld bedoel was om te wees en hoe die wêreld eendag weer sal word wat dit was.

Die paradys is geen ontvlugting van die werklikheid nie. Dit vertel hoe die wêreld werklik is.

Maar, sou dit waar wees, is die versugting: waar ontdek ‘n mens wat paradys beteken?

‘n Antwoord vind ‘n mens in die middelste anker van die Bybel. Want die paradys-verhaal vind ‘n mens by uitnemendheid uitgebeeld in die lewe van Jesus. Markus, die oudste Evangelie, vertel met die versoekingsverhaal hoedat Jesus die boosheid wat die wêreld beheer het, tot ‘n einde gebring het. Aan die einde van die toetsing van Jesus, is Jesus in die woestyn, saam met die wilde diere (Mk.1:13). Die engele het vir Jesus versorg. Die paradys het teruggekeer.

Die ander twee Evangeliste, Matteus en Lukas, het die verhaal aangevul met hul boodskap van vrede. In Jesus breek die vredestyd weer deur – wat eeue-lang verlore was, is teruggevind. Mens en wilde dier is in een ruimte, met engele wat ook teenwoordig is. Johannes-evangelie vertel op sy beurt dikwels van Jesus in die tuin en sluit sy boek af met die opstanding wat in die tuin plaasvind – die plek waar Jesus op die bly Paasdag, soos ‘n tuinier, in die oggend rondwandel.

Maar die kerstyd loop nog dieper as vrede. Daarom sal veral Matteus die Immanuel-motief uitwerk. Aan die begin en einde van sy Evangelie praat hy van God-met-ons. Hy omraam sy Evangelie met die beskrywing van God as die Een wat by die mens teenwoordig is (Mt. 1:23; 28:20). Hy is die Evangelis wat praat van Jesus wat teenwoordig is waar twee of drie mense bymekaar is in sy Naam.

Kerstyd is paradystyd, adventstyd: God se koms om in ons werklikheid, in ons wêreld, teenwoordig te wees en by ons te bly. Die diepste werklikheid is dat ons verbind is aan die Ewig Troue, die Ewige Goeie, die Liefde wat sonder ophou by ons bly.

Dit is nie die stille nag wat regtig saak maak nie, hoe belangrik dit ook al is om te weet hoe reikhalsend en stil die natuur ingestel was op wat God sou doen en sê in die Kersnag nie. Dit is nie die oop velde wat ons hart aanraak nie, hoe goed dit ook al is dat die natuur in al sy wydsheid vertel van die afwagting op God se koms nie.

Wat regtig saam maak is die verborgenheid van die adventsgebeure: in die stilte, in die nag, in die velde, in die wydsheid, kom die Verlosser om die heilstyd te bring. Ewig, ewig bly die Vredemaker getrou aan die bedoeling van die skepping: dit is die ruimte waarin alles en almal in die vredevolle teenwoordigheid van God ingebring word. Die onrustige hart vind sy rus. Nader aan homself, aan haarself, kom God in die innerlike van die mens woon.

Kerstyd laat ons stil voor die wonder van God se teenwoordigheid by ons. Ons het weer tuisgekom, tuinbewoners, in vrede, by die Tuinier. 

Blog Archive